ADVERTISEMENT:

 

67. Daisy sukkel met muisneste en troureëlings

 

“Bernard, wil jy ‘n jagluiperd as ‘n ringdraer hê?”

“Mmmm...” Bernard kyk krieket.
“Of wil jy dalk borde breek op ons troue?”
“Uhhh...”
“Sal jy vir my sing terwyl jy my tegemoetloop met ‘n rooi roos? Iets soos ‘Another one bites the dust’... En kan ons die grootste denkbare vuurwerkvertoning hê, hier so teen die hange van die Soutpansberg?”
“Hoe nou Daisy?” Iewers het iets deurgedring.
“Nee, sommer niks nie my geliefde aanstaande. Ek soek sommer net ‘n resep vir mopaniewurm vingerhappies...” Daisy bars uit van die lag, gooi die Sondagkoerante eenkant toe en gee ‘n verbaasde Bernard tien soene orals op sy gesig.

Bernard is skielik vreeslik ernstig. Hy skuif regop op die bank en frons as hy Daisy reguit in die oë kyk.

“Daisy, hierdie verlowing kom eintlik op ‘n slegte tyd. Nes die wêreldbeker krieket. Ons het so baie werk dat ek nie regtig weet hoe ons by alles gaan uitkom vóór ons nog trou nie. En toe het jy en jou Ousus nog sowaar derduisende plante met wit blomme gaan staan en aankoop – nou moet dit ook nog versorg word!”

“Op die oomblik is my oorsese verpligtinge drasties minder, maar die een internasionale kontrak wat ons gekry het vereis dat ek baie meer tyd in Kaapstad moet spandeer. En ek vermoed jy gaan ook maar moet pendel saam met my!”

“Kaapstad? Kaapstad? Is jy ernstig, Bernard? Ek is versot op Kaapstad...” jubel Daisy. “Daar is die coolste restaurante en winkels en die mense is vir my soos lede van my long-lost tribe... Waar gaan ons bly? Ons moet seker blyplek kry – mens kan nie vir lang tye in hotelle en sulke plekke wees nie...”

“Ag tog,” sug Bernard. “Hierdie is nou weer ‘n hele nuwe jamblik vol wurms. Ons gaan wérk, daar Daisy. Niks toerismedinge tot na die gastehuis oop is en op volle produksie nie. Jy weet mos ons het reeds besprekings tot in 2016.”

“Fokus, Daisy! Jy doen so goed met die projekbestuur van die gastehuis, jy moet asseblief tog net nie nou fokus verloor nie. Ons is nie meer spring chickens wat onsself kan oorgee aan pienkerige verliefde wolkies nie – ons het daadwerklike verantwoordelikhede!”

“Pienk wolkies, sê jy Bernard?” Daisy se stem is gevaarlik koud. “Fokus verloor, Bernard?”
“En hoe sou jy gevoel het as ek nie in die minste opgewonde was oor die vooruitsig om te trou nie? Verwag jy regtig ek moet besadig wees daaroor? Buitendien is dit amper ‘n voltydse beroep om deesdae een troue te beplan. En ons gaan twéé troues hê! Of verwag jy miskien dat ek liewers soos jou snobvriende ‘n wedding planner moet aanstel?”

Bernard sug.

“Daisy, ek het nie bedoel om jou gevoelens seer te maak nie. En nee, beslis nie die een of ander drama queen met slap gewrigte wat troues uitryg wat almal dieselfde is nie! Daarvoor is jy heeltemal te oorspronklik en kreatief – een van die vele redes hoekom ek jou lief gekry het! Ek wil net hê jy moet die volle prentjie sien, Daise. Jy kan partymaal so bietjie afdwaal van die ernstige dinge met al jou malstreke... Hierdie keer kan dit tot chaos lei.”

“Jy weet, Bernard, die lewe is nou nie eintlik regverdig nie! Hier kom die hele fairy tale vir my waar en ek het sterre in my oë en as ek na jou kyk voel dit asof die hele legende van Camelot lewendig geword het... En nou moet ek groot wees. En verantwoordelik wees.”

“Ek sien ‘n soft focus prentjie van wit skoenlappertjies en babakatjies op groen weivelde en ‘n prinses wat in stadige aksie deur wit blomlande huppel... En nou wil jy hê ek moet Miss Efficiency wees met ‘n iPad en ‘n gatskophou­ding?”

“G’n vrou weet ook deesdae meer wat van haar verwag word nie...” murmereer Daisy en stap druipstert en afgehaal kombuis toe om haar wynglas vol te maak.

Daisy - Date: 05 March 2015

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: