ADVERTISEMENT:

 

69. Daisy wil haar eie Oom Schalk-fees reël

 

Die volgende twee dae sien Daisy skaars haar kop-in-een-mus peetkind, Plore. Net wanneer hy honger is en in die middernagtelike ure kombuis toe sluip op soek na kos en wanneer daar giggels of harde gelag uit die gastekamer opduik, weet Daisy Plore is nog springlewendig.

Die derde dag staan sy voor sonop met koffie en beskuit voor sy bed.

“More, Plore. Hier is iets om jou aan die gang te kry. En as jy klaar is met die koffie, is dit tyd dat jy ophou poepsnuif en gaan stort. Ons het baie planne om te maak en vandag is die dag daarvoor. Skeer sommer bietjie daai knit one, slip one baardjie ook af – jou ma sal stuipe kry as sy jou so sien!”

‘n Halfuur later kom sit Plore aan vir ‘n stewige ontbyt.

“Ek het gedink jy moet liewers nou behoorlik eet voor jy uitteer van al die harde leeswerk wat jy doen, my liefste nefie! Ek het tot hoenderle­wertjies gemaak saam met die pap en wors en ‘n tjoppie gebraai vir jou. Vir ‘n verandering het ek tot die eiers gebak gekry soos jou pa, sonder dat een gebreek het.”

“Sjeez, Daisy – dis nou ‘n groot bederf en ek was reg om te grom omdat jy my so vroeg wakker maak! Maar ek neem aan my liefste antie het miere vanoggend. So, jy kan praat terwyl ek eet...” Hy stapel roosterbrood op ‘n klein bordjie en laat nie verder op hom wag nie.

“Plore, noudat jy nader kennis gemaak het met Oom Schalk Lourens, wil ek jou bietjie van die Groot Marico vertel. Een keer ‘n jaar is daar ‘n Bosman-fees. Dan word daar kontreikos gemaak, plaaslike kuns en handwerk uitgestal en Bosman se werke gelees, voorgedra en opge­voer. Daardie kleine dorpie word ‘n roesmoes van geskiedenis. Die hoogtepunt is egter die peach brandy. Mampoer. Daar is ‘n fyn kuns daaraan en my vriend Jacques het dit briljant bemeester.”

“Toe begin ek mos dink aan al die wonderlike karakters wat agter die Soutpansberg bly. En hoe baie die Waterpoort-boere hou van gewone brandewyn ... Dit was ‘n openbaring vir my – ons kan mos ons eie fesie hou, of hoe? Ek sal vir Jacques kontak en hom vra of hy dalk daarvan sal hou om te eksperimenteer met kremetartsade vir witblits. Of miskien lietsjies of mangos. En ek sal dadelik begin rondsoek vir karakters om oor te skryf ... Hei, Plore – daar’s nou vir jou ‘n idee! Ek kan ‘n toneelstuk skryf, wat dink jy? Dan is daar natuurlik ‘n hele handvol kunstenaars wat passievol is oor die Soutpansberg ... Ou Steve sal dalk ‘n ekstra gig verwelkom,” giggel Daisy.

“Daisy,” sê Plore met ‘n los-jou-nonsens stem. “Vertel my nou mooi: jy wil hierdie jaar ‘n gastehuis open én trou én ‘n hele kontreifees reël?” Hy klink gevaarlik volwasse en nes sy pa. Daisy kyk hom net oopmond aan en wonder wanneer hy so groot geword het.

“Luister nou, my liefste peetmoeder – DIT IS NIE MOONTLIK NIE! En as ek dinge so uitkyk, is jou geliefde verloofde ook redelik senuweeagtig dat jy fokus gaan verloor. Gewoonlik is ek jou Nommer Een fan en groupie, maar ek moet sê, hierdie keer stem ek saam met Bernard – jy sien nie die groter prentjie nie!”

“Wie is jy en wat het jy met my prettige Plore gemaak?” grom Daisy.

“Daise – jou idees is stunning en kreatief en ek dink die konsep sal vreeslik goed werk. Maar jou timing stink! Daar is nie ‘n manier wat jy dit alles in een jaar kan inpas nie. Is daar nie ‘n ander manier om na die situasie te kyk nie?”

Afgehaal steek Daisy ‘n sigaret aan. “Maak vir ons ‘n bietjie koffie, toe ‘seblief Plore. Laat ek net so bietjie dink.”

Twee-uur die volgende oggend is dit net Plore se jeugdigheid en gesonde hart wat hom red van ‘n volbloed hartaanval toe sy geliefde tannie pens en pootjies bo-op hom spring.

“Ek het dit, Plore! Ek het dit!” is al wat sy uitkry voor Plore haar instinktief om die nek gryp en deur die slaap hardhandig op die vloer vaspen. Hy skakel die bedlampie aan en sug: “Daisy.”

“Plore,” sê Daisy met ‘n groot glimlag en blink oë. “Ek het dit, ek het dit! “Ons gaan nie ‘n kontreifees hou nie – ons gaan die fees aanbied vir die opening van die gastehuis! Dit gaan die hele tema wees...”

“En dit gaan sommer die troue ook wees!”

Plore vryf moedeloos met sy hande oor sy gesig.

Daisy - Date: 26 March 2015

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: