ADVERTISEMENT:

 

77. Daisy (en haar sus) en die ghoeroe (Deel 2)

 

Net na die spitsoggend verkeer in Pretoria meld Daisy en Ousus aan by die blink en glamorous spreekkamer van die goedlyk-ghoeroe. Soos met enige ander celebrity moet hulle eers in die wagkamer rondhang. ‘n Gepoleerde jong dingetjie met swart naels en onmoontlike hoë skoene bied vir hulle ‘n gesonde smoothie aan om te drink.

“Daar is hope vitamines en minerale in en dis vreeslik goed om die oggend daarmee te begin,” sê sy met ‘n uitasem stemmetjie.

Daisy vervies haar by voorbaat vir die aansitterigheid. “Ja, maar is dit lékker?” wil sy ongeskik weet. “Dis heeltemal te groen na my smaak – dit lyk vrot van die brokkoli en grasspruite. Het jy nie iets wat pienk is en van baie room gemaak word nie?”

“Kom nou, Daisy,” gooi Ousus wal. “Ek sal nou-nou vir jou die ongesondste middagete gaan koop wat ons kan kry. Laat ons net eers hierdie ghoeroe agter die rug kry.”

Voor Daisy haar bedenkinge verder kan bewoord, maak die ghoeroe sy opwagting.
“Ekskuus, girls,” maak hy dadelik versko­ning. “Ek het net gou ‘n skelm MacDonald brêkfis afgesluk. Ek kan glad nie Marthie se grilgroen mengsels in my lyf kry nie. Dis heeltemal te gesond! Maar moet haar asseblief nie vertel nie,” fluister hy sameswerend.

Daisy lag. Miskien kan hierdie ghoeroe tóg doen waarvoor hy bekend is. Miskien kan hy haar soos ‘n prinses laat lyk vir haar troue. Ten minste is hy ‘n menslike ghoeroe!
“Nou toe. Wie is die bruid en wie is die strooi­meisie en waar begin ons?”

Ousus kriewel sommer van lekkerte oor die skuins kompliment. Maar sy is vasbeslote om beheer te neem van die situasie en vertrou nie vir Daisy om die probleem aan die ghoeroe te verduidelik nie.

“Dis my kleinsus hierso. Sy trou in die lente. Maar sy voel soos Aspoestertjie se stiefsussie – die lelike een. Nou is sy vasgevang in limbo; niks is meer vir haar mooi nie en sy kan nie besluit oor ‘n trourok nie. En by dit weier sy om iets anders as jeans en t-hemde en boots te dra en haar hare in ‘n poniestert vas te maak. Jy moet haar red, asseblief.”

Die ghoeroe bly doodstil. Al wat hy doen is om ‘n paar keer rondom Daisy te stap en haar op en af te kyk. “Mmmm,” sê hy. “Mmmm.”
Toe klap hy skielik hande. Die ene besigheid.

“Marthie, kry dadelik vir Helen hierso. En maak ‘n dringende afspraak by Marco. Ek wil met hom praat wanneer jy hom op die lyn het. Dan bespreek jy vir Maurice vir die res van die middag.
“Julle dames mag geen planne maak vir die volgende twee dae nie. Daar is baie werk om te doen. Vir die Ousus gaan dit pure plesier wees, maar vir die Kleinsus wag daar ‘n harde tyd. Ek stel voor julle gaan doen enige besigheid wat julle moontlik mag hê sommer nou – voordat al die kundiges en kenners op julle toesak.

“En gaan eet ‘n fris brêkfis – vir die volgende twee dae gaan julle dit mis!” knipoog hy terwyl Marthie haar oproepe maak.

Vir twee dae is Ousus en Daisy vasgevang in ‘n mallemeule van personal trainers en shoppers, grimeerkunstenaars, haarkappers, kleurkenners, tandkenners, oogkenners, dieëtkundiges en funksiebeplanners. Nêrens mag Daisy of Ousus na ‘n spieël kyk nie; hulle is aangestel as mekaar se bewakers. En Marthie met die stemmetjie is in haar element – die twee vrouens word niks anders as haar konkoksies en haaipollaai mineraalwater toegelaat nie.

Die derde dag verkrummel Daisy toe sy die seldery en gemmer in haar smoothie proe. “Ek kan eenvoudig nie meer nie, Ousus! Verlos my net van hierdie make-over en ek belowe ek sal nooit weer kla dat ek vir myself lelik is nie!”

Maar die ghoeroe het ander planne. “Vandag gaan ons jou trourok uitsoek, Daisy. En dan is dit die Groot Reveal. Al die nuwe uitgesoekte klere in die regte kleurskakerings het gekom, julle tande is gedoen, die oefenroetines ken julle ... Dis net die hare, naels en grimering vandag voordat ons jou trourok en Ousus se uitrusting vir die troue gaan kies. Is julle reg daarvoor?”

Daisy is reg en Ousus is verlig dat die pyni­ging amper verby is. Dis moeite om mooi te kom, besluit sy. Sy verlang na Jakobus en die eenvoud van die plaaslewe. Hierdie prinsesse­righeid is beslis nie vir haar nie!

Vyf ure later het Ousus vergeet van haar gretigheid om terug te gaan plaas toe. Sy kry eerste die geleentheid om haarself in ‘n spieël te aanskou. Sy kan haar oë nie glo nie. Sy lyk soos iemand uit ‘n modetydskrif – haar glimlag is spierwit, haar grimering foutloos, haar hare kor­ter as wat sy gewoond is. Sy lyk, wel ... Sexy. Ja, sexy. ‘n Woord wat sy lanklaas gebruik het om haarself te beskryf. Selfs Daisy is uit die veld geslaan.

Maar dit is Daisy wat almal se asems weg­slaan: haar blonde hare is blonder, haar bene lyk langer in die swart miniromp en hakskoene, haar tande is blinker, haar oë ‘n skakering blouer danksy ooglense, haar gesig se beenstruktuur lyk pure Hollywood ná die grimeersessie en haar hande en voete is perfek gestileer.

Daar is doodse stilte terwyl almal die prentjie indrink. Die trourok kan nie in woorde beskryf word nie. Dit is die mooiste mooi wat almal nog gesien het.

Net by ontvangs sit Marthie en huil suutjies. “Eendag,” snik sy, “eendag wil ek ook so lyk wanneer ek ‘n bruid is!”

“Miskien moet ek net ophou met hierdie vervlakste smoothies en weer begin hamburgers eet – dit lyk my mens kry vinniger ‘n man so...”

Daisy - Date: 21 May 2015

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: