ADVERTISEMENT:

 

83. Daisy konkel rondom ‘n boereworsresep (2)

 

Daisy se gewete begin haar opkeil toe haar peetseun, Plore, en sy universiteitspêlle sonder enige gemor en baie konsensies elke oggend aanmeld vir boereworsdiens. Eintlik raak dit ‘n vrolike affêre in Daisy se kombuis – gatskopmusiek en af en toe ‘n pophuisbier vir almal. Soos gewoonlik treiter Daisy en Plore mekaar en is daar heeltyd ‘n gelag en geskerts.

Maar Daisy is nie gelukkig nie. Al het Jacobus belowe hy sal die span goed betaal, begin Daisy al hoe meer soos ‘n verraaier voel. Dis veral in die aande wanneer Plore kliphard oefen om die boerewors perfek te braai dat Daisy sterk oorweeg om met die hele sak patats vorendag te kom.
“Verantwoordelik,” dink Daisy. “Ek is besig om heeltemal te verantwoordelik te word. En as ek nie oppas nie, is ek netnou groot en dan verwag almal van my om voorspelbaar en boring te wees. 
“En nou is Bernard ook nie hier om advies te gee nie,” sug Daisy diep beswaard.

Iewers in die nanag sit Daisy skielik penorent in haar bed. Helder wakker. Sonder die hulp van koffie of nikotien. Sy is duidelik beïndruk met die oplossing wat sy uitgedroom het en giggel terwyl sy haar selfoon naderhaak.

“Een manier om ‘n student se aandag in die middel van die nag te kry,” dink sy en stuur ‘n WhatsApp vir haar peetkind.

Oomblikke later kom Plore verkeerdeveer by haar kamer ingestrompel.
“Het jy dit nou heeltemal verloor, Daisy?” mor hy. “Wat is so belangrik dat dit nie kan wag tot die dag begin het nie?” Nes Daisy is Plore ook nie ten volle funksioneel wanneer hy net wakker geword het nie.

“Niks wat koffie en beskuit nie kan oplos nie, Plore,” lag Daisy en gaan werskaf in die kombuis. Toe sy terugkom met ‘n skinkbord lê Plore heerlik en snork onder die duvet.
“Kom, kom, Plore.” Sy gryp hom aan sy groottone. “Daar’s baie wat ons oor moet praat.”
Nadat sy haar aandeel in die slapriem-planne van Ousus en Jacobus bely het, verduidelik sy haar planne aan Plore.

“Jy sien, Plore, op hierdie manier wen almal ewe veel, maar jy en jou pêlle wen net so bietjie méér!” beduie sy opgewonde. “Nou toe, ons moet ‘n shopping lysie maak en dan moet ons jou pêlle gaan wakker maak sodat ons kan dorp toe gaan. Of dink jy ons kan sommer Vivo toe ry? Plore ... Plore? Nee hel, jy kan nie nou weer slaap nie, ek sal eerder vir ons nog koffie gaan maak!”

Die wintervakansie gaan soos ‘n droom verby. Die spannetjie studente werk sonder enige verdere aanporing van Jacobus. Dit is vir hom verbysterend – hy weet hoe die jong latte kan lyf wegsteek. Maar hy skryf die vlytigheid toe daaraan dat hulle by Daisy bly en haar dalk wil beïndruk.
Die span praat nie uit nie. Bedags gaan hulle te midde van raserige musiek, groot gelag en ‘n drinkdingetjie aan met hulle pligte; saans braai hulle boerewors met dieselfde rumoerige musiek, groot gelag en ‘n drinkdingetjie. Af en toe kom daar van Plore se skoolvriende en -vriendinne ook saamkuier. Daisy geniet die spul jongmense terdeë en doen moeite om hulle te bederf.
Drie weke ná die universiteit weer begin het, gaan kuier Daisy vir Plore in Pretoria.
“En toe, Plore? Hoe gaan dit met Die Span? En veral – met julle besigheid?”
Plore lag dat sy hele gesig net wit tande is.

“Antie Daise, eintlik moet ek jou ‘n soen gee. En die hele span stuur baie groete en soene toe hulle hoor jy kom kuier. Ons is besig om geld soos bossies te maak – die vier van ons gaan beslis die hele Desember in Mosambiek kan rond­hang!” Plore se oë blink. “Ons moes nog twéé takke van ons boereworsstalletjies oopmaak,” straal hy. “Die spul koshuisbrakke eet boerierolle asof hulle nooit kos kry nie.”

“Nou maar ek is bly om te hoor my planne vir julle het uitgewerk! En jou pa het nooit eers snuf in die neus gekry dat julle eintlik die hele tyd besig was om vir julle eie gewin ook boerewors te maak nie. Jy weet hoe heilig hy is oor daai familiereseppie...”

“Maar die beste het ek jou nog nie vertel nie – hierdie selle reseppie het gesorg dat ek nou ‘n finalis in die Boereworskoning-kompetisie is! Die Span is seepglad danksy al die oefening in die vakansie.”

“Aan my eie, sexy agterwêreld kry ek so lekker krieweling dat ons almal Mosambiek toe gaan in ‘n splinternuwe double cab bakkie...”

Daisy - Date: 02 July 2015

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Email:

ADVERTISEMENT: