ADVERTISEMENT:

 

87. Daisy en die wille welwillendheid (Deel 2)

 

“Right Ousus, jy wil weet wat is die planne vir vandag,” gesels Daisy iewers net voor die tonnels.

“Ek het nou so gedink. Die dierbare ooms en tantes het bietjie opwinding nodig. Hulle dae lyk seker maar almal dieselfde. So, dit help ook nou nie dat mens net tee en koek bring nie – al die res is maar net soos dit elke dag lyk. Toe besluit ek om ‘n regtige high tea vir hulle te doen, met al die mooiste koppies en pierings, blomme en silwer. En net vir die stoutigheid het ek ‘n paar bottels hanepoot ook gebring – jy moet net help oortuig dat dit ‘n snapsie nagmaalwyn is.”

Ousus kry dun lippies toe Daisy noem van die hanepoot.

“Jy weet mos hoe ek voel oor drank, Daisy. Ek is ook nie so seker dat Matrone dit sal toelaat nie.”

“My liewe, kuise suster. Dis heeltemal vrywillig – ek gaan nie hulle tee dokter nie. Oues word weer soos kinders. Hulle lewe vir klein bederfies en enigiets wat hulle menswaardigheid bevestig. Ek dink dis die swaarste van oudword – ander mense begin besluite namens jou neem en vergeet dat jy eintlik self voorkeure en afkeure het. Al wat ek wil bereik, is dat hulle hulle lippe natmaak en hulle litte losmaak sodat hulle van al hulle pyne en skete vir ‘n uur of twee kan vergeet. ‘n Glasie hanepoot kan mos nou nie so erg wees nie, of hoe?”

Ousus sug. “Ek vertrou nie die vrede nie, Daisy. Daar is te veel van jou dinge wat in trane eindig. Maar nou ja, solank jy net nie verwag ek moet deel wees van jou maltrapdinge nie.”
Ten spyte van haar bedenkinge moet Ousus erken dat Daisy se moeite om die teedrinkery mooi te maak deeglik beloon is toe die oues die keurig-gedekte tafels, blomme en pragtige eetgoed sien. Met die heerlike boeremusiek wat Daisy saamgebring het, heers daar gou ‘n feestelike stemming. Ousus lag en gesels ewe heerlik met al die tannies terwyl sy en nog ‘n paar vrywilligers naels en hare doen.

Daisy het gereël dat die hanepoot in shooter-glasies geskink en bedien word net voor dit tyd is om van haar stories vir die oues te lees. “Dan kan hulle mooi rustig sit en proe daaraan terwyl hulle luister,” het sy verduidelik.

Maar natuurlik, soos talle ander kere, word Daisy onkant betrap deur omstandighede buite haar beheer...

Heelwat later ry Ousus en Daisy in doodse stilte terug plaas toe.
Net voor Masekwaspoort begin Ousus uit die bloute lag. Daisy is uit die veld geslaan oor die skielike gelag – sy sit stert tussen die bene en wag dat Ousus ‘n preek afsteek wat begin met “ek het jou mos gesê!”.

Ousus lag later so hard dat Daisy teen haar wil aansteek en begin saamlag.
“Daisy,” sê Ousus later terwyl sy die trane en maskarastrepe afvee, “ek het nog nooit ‘n spul oumense voor my oë sien jonger word nie! Elke glasie hanepoot het minstens twintig jaar weggevat – skoon hups en giggelrig, die hele spul van hulle. En dit het nie meer as twee glasies gevat om hulle te laat gloei van genoegdoening nie!

“Dit was kostelik om al die stories uit hulle verlede te hoor nadat jy vir hulle jou stories gelees het. Daai dowe Oom Fanie wat sommer in die middel van jou voorlesing begin vertel het van die kremetartboom agter die berg waar die Krugerponde begrawe lê ... Ek is seker jy het heelwat stof vir nog stories gekry. En toe begin hulle so wraggies dans op die boeremu­siek! Mens moes net koes vir die looprame en kieries.” Ousus begin weer lag.

Later langs die vuur, toe almal salig geëet is aan ‘n T-been en pap en tevrede in die vuur staar, vra Ousus: “Dink jy jy gaan volgende jaar met Mandeladag weer iets by die ouetehuis doen, Daisy?”
Haar oë blink in die vlamlig en sy kan haar lag nie hou nie.

“Hoekom, Ousus?” vra Daisy gemaak onskuldig en gooi haar blonde hare terug oor haar skouer.
“Nee, dis net dat jou dinge partymaal omdraai en jou aan die boud beetkry. Jy weet mos – nes daai selfde oom Fanie na sy derde glasie hanepoot...”

Ousus lag vir Daisy se verleentheid en koes gemaklik vir die oondhandskoen waarmee Daisy haar eer probeer beskerm.

(Let wel: bogenoemde is ALLES fiksie en nie naastenby gebaseer op enige ware instansie, situasie of persoon nie!)

Daisy - Date: 30 July 2015

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Email:

ADVERTISEMENT: