ADVERTISEMENT:

 

91. Daisy en die gastelys vir die troue (Deel 2)

 

“Daar is nie ‘n manier nie, Kathy. Glad nie. Nooit nie.” Daisy maak dun lippies vir haar beste vriendin.

“Ek het klaar met Bernard gepraat, Daisy. Nou nie heeltemal oor hoekom ons met sy ma wil kontak maak nie, net so verlangs uitgevis oor wanneer sy ma weer in die land is. Haai, Daisy, en die man was skoon aangedaan toe ek hom vertel jy wil sy ma se hulp vra met die troue...”
“Kathy, jy babbel. Ek hou nie daarvan nie, dis onheilspellend. Wat steek jy weg vir my?” Daisy is skoon onbeskof. Hierdie hele troustorie het haar senuwees aan flarde en nou kom sukkel Kathy met skoonma-dinge.

“Wel, mmm ... Jy sien ... Ag dêmmit, Daisy, jy weet ek kan niks vir jou wegsteek nie. Bernard se ma kom more vir twee dae kuier.”

Daisy sê niks. Sy maak die koffiebekers en beskuitbakkie bymekaar en stap kombuis toe. Kathy stap flink agterna. Sy probeer haar bes om te verduidelik.

“Jy sien, Daise, ek het gisteraand met Bernard gesels oor sy ma en heel toevallig het dit uitgekom dat sy op die oomblik in Suid-Afrika is en dat sy jare gelede laas hier op die plaas was en graag die gastehuis wil sien...”

“Stop, Kathy. Hou op.” Daisy is baie bedeesd. Kathy is baie bekommerd.
“Kom help my liewers dan gaan maak ons die gastekamer reg. Ek moet eers bietjie dink...” Dis al kommentaar wat Daisy lewer. “Ons sal seker Polokwane toe ook moet ry om blomme en kos te gaan koop.”

Sononder sit Daisy, Kathy en Bernard buite. Bernard het moeite gedoen om vir Kathy en Daisy die mooiste skemerkelkies te maak – lang glase, vars kruisementblare, wit rum, swart strooitjies. Hy hou die heeltyd vir Daisy dop en gaan uit sy pad uit om haar met allerhande komiese staaltjies te vermaak. Sy is doodstil.

Bernard en Kathy loer later senuweeagtig na mekaar. Toe Daisy na ete afdek en begin skot­tel­goed was, kan Bernard dit nie meer verder uitstaan nie. Hy gee vir Daisy ‘n drukkie waar sy by die opwasbak staan.

“Oukei, my mooiste meisie ... Ek en Kathy is skuldig. Baie skuldig. En vreeslik jammer. Asseblief tog, moet ons net nie verder straf nie. Laat ek jou help dan pak ons gou die skottel­goed­wasser en dan kan ons praat oor my ma se kuier.”

“Goed,” sê Daisy. “Ek sal vir ons roomys en vrugteslaai inskep, en daar is nog brosbe­skuitjies saam met vars koffie...” Soos ‘n verwilderde feëtjie wat haar towerstaf verloor het, verskyn Kathy agter Daisy. “Gaan sit en rook ‘n sigaret, my vriendin. Ek sal sorg vir nagereg...”

Terwyl hulle koffie drink, begin Daisy uit haar eie uit praat. “Ek wil vir julle baie, baie dankie sê,” begin sy. Bernard en Kathy val amper van hulle stoele af.

“Hierdie hele troubesigheid het ek verkeerd aangepak. Ek was uiters selfsugtig en het dit tot nou toe soos my eie, persoonlike fairy tale hanteer. Wat ek heeltemal uit rekening gelaat het, is hoe ‘n diep en ernstige aangeleentheid dit is vir mense wat ek skaars ken. Ek wil jou om verskoning vra, Bernard, dat ek nie al vroeër jou ma en jou mense geken het in die saak nie. Skoon kinderagtig...”
Daisy begin huil. Sonder waarskuwing.

“En jy het my so lief dat jy my maar laat begaan sonder om konflik te veroorsaak. Ek sal dit nooit vergeet nie. Ek het jou liewer as ooit tevore, noudat ek dit besef. Jy het tot vir Kathy gaan haal om te kom help toe ek kop verloor ... Alhoewel die arme ding nog net probleme probeer oplos het, was sy heeltyd geduldig en ondersteunend. So, baie dankie vir altwee van julle.”

Daisy gooi haar blinkblonde hare oor haar skouer en vee haar neus met haar wit T-hemp af.
“Maar dis nou genoeg. Dis tyd dat ek grootword en dinge hanteer. Ek voel soos jellie binnekant omdat my aanstaande skoonma more hier aankom, maar ek weet met julle hulp sal als reg wees. En as julle vir my so lief is, is daar altyd die kans dat sy dalk ook van my sal hou.
“Het ons Franse sjampanje, Bernard? Want ek weet dit is al wat jou ma drink.”

En Daisy glimlag soos ‘n blou maan wat oor die bosveld opkom.

Daisy - Date: 27 August 2015

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Email:

ADVERTISEMENT: