ADVERTISEMENT:

 

97. Daisy en Bernard se sprokiestroue (Deel 1)

 

“Ek weet nie hoe ek jou ma ooit kan bedank vir haar goeie advies nie, Bernard,” sê Daisy.

Hulle sit en handjies vashou op die stoep en kyk hoe die son ondergaan. Dit was lanklaas dat hulle net vir ‘n oomblik alleen kon sit en mekaar se geselskap geniet. Daar is ongekende aktiwiteit orals op die plaas en ‘n paar spanne mense werk onverpoosd om alles binne vyf dae reg te hê.

“Jy en my ma is kop in een mus. Mens sou sweer julle ken mekaar al jare ... Dis goed so. Julle is maar albei hardekoppe – ek was altyd bang daar sal konflik wees.”

“Sy is wonderlik, my liewe aanstaande. As dit nie vir haar was nie, was ek dalk nou besig om elke haar uit my kop te trek! Om te dink ek wou die opening van die gastehuis laat saamval met ons troue ... Nou is dit klein en intiem en net ons nearest en dearest wat dit hier saam met ons gaan vier. En as dit nie vir haar was nie, het ek probeer om alles self te doen. Nou het ek haar advies gevolg en alles uitgekontrakteer. Salig!”

Right,” sê Bernard terwyl hy opstaan. “Maar hierdie menigte moet steeds georganiseer word en op die oomblik dink ek is kos hoog op hulle lys van prioriteite. Ek gaan solank vuur maak. Sal jy bietjie gaan kyk hoe vorder die spyseniers met vanaand se ete?”

Daisy gee vir Bernard ‘n skitterglimlag. “Kom gee my asseblief ‘n drukkie, sodat ek weer vir jou kan dankie sê dat ek soos ‘n lady en ‘n prinsesbruid kan rondhang so kort voor my troue! Dan gaan ek my strooimeisies bymekaar kry vir mojitos ... As dít nou nie beskawing in die mees verfynde vorm is nie, dan weet ek nie!” Sy gee vir Bernard ‘n lang druk, soen hom in sy nek en stap met ‘n parmantige huppel in haar stap kombuis toe.

Die volgende oggend slaap Daisy dwarsdeur Bernard se pogings om haar met koffie en beskuit wakker te maak. Sy strompel kombuis toe om die koffie in die mikrogolfoond warm te maak. By die tafel in die kombuis sit Kathy en Carla, haar strooimeisies, diep in gesprek met Ousus.

Seerijus, julle? Hierdie tyd van die oggend en julle is alreeds besig met vergaderings?”
“Kom sit hier by ons, Daisy. Gee bietjie beskuit aan vir haar, Kathy. En miskien wil jy rook, Daisy? Dis al hoe ons jou vinnig wakker gaan kry...” Ousus klink soos ‘n streng onder­wy­seres wat rammetjie-uitnek matriekseuns aanspreek.

Toe Daisy haar eerste koffie afsluk, maak Ousus vir haar dadelik nog ‘n beker sterk koffie.
“Dit moet ernstig wees. Nou toe kom, spoeg dit uit. Wat het ek gesondig? Daar is geen rus vir ‘n onskuldige bruid nie, is daar?”

“Daisy, jy kan op jou glamorous honeymoon gaan rus. Maar jy moet nou mooi luister. Dis heeltemal goed en wel dat daar spanne mense is wat dinge doen vir die troue. Maar daar is net één bruid en sy is die enigste een wat die volledige prentjie in haar kop het. Ons kan nie uitvoering gee aan enige van jou drome as jy nie vir ons vertel wat in daai blonde koppie van jou skuil nie.” Dis min dat Ousus vir Daisy aantree.

Daisy sit lank en dink. Sy doop een na die ander beskuit in die koffie en kou langsaam.
Ousus is nog nie klaar met Daisy nie: “Daise, ek ken jou nie so nie. Al wat jy wil doen, is langs die swembad lê en mense moet vir jou cocktails aandra. En as jy nie rondlê vir kwaadgeld nie, dan slaap jy of kyk kookprogramme op televisie. Intussen is daar mense wie se senuwees aan flarde is want jy weier om enigiets van die troue te bepreek. Hierdie arme strooimeisies van jou het al hulle vals naels opgevreet van stres. Wat gaan aan?”

Nog steeds sê Daisy niks nie. Met ‘n onstui­mige gesig staan sy op en maak vir haar nog koffie. Dan draai sy skielik om na die sittende meisies toe en begin saggies huil.

“Ek weet nie hoe om dit eers aan myself te erken nie, julle. Dis baie moeilik vir my om dit vir julle te sê, maar ek maak ‘n groot fout!

“Ek wil nie meer trou nie.” 

(Word vervolg)

Daisy - Date: 08 October 2015

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Email:

ADVERTISEMENT: