ADVERTISEMENT:

 

124. Daisy stry teen haar liefde vir gemorskos

 

“Ek kan nog steeds nie glo dat jy so ontsteld was oor ‘n dróóm nie, my liewe vriendin! Ek het jou nog nooit so ontsteld gesien nie,” sê-vra Daisy en sluk aan haar pienk melkskommel.

“Ek ook nie, Daisy. Maar partymaal is drome wragtig net so tasbaar. So werklik. Ek was nog nooit so bly om wakker te word en ongenooide gaste voor my deur te kry nie,” spot Kathy – Daisy se beste vriendin van kleintyd af.

Bernard kom met ‘n skinkbord by die tafel aan en begin die rooi boksies uitdeel. Die bondeltjie hond op Daisy se skoot toon skielik tekens van lewe en ‘n intense belangstelling in die oorsprong van die kosgeure. Daisy blaas ‘n tjippie koud en voer dit vir die gretige baba.

“Jy onthou wat ons ooreenkoms is, nê Daisy? Hierdie hond is net ‘n proeflopie vir ons eie kinders. As jy nie te veel skade aanrig aan die hond nie, kan ons oorweeg om ons eie kinders te kry. Maar ... McDonalds, Daisy? Seriously?” Bernard lyk nie baie gelukkig nie.

Kathy bars uit van die lag. “Hoor ek reg? Die rede vir hierdie nuwe hond is dat dit julle parenting skills gaan toets voordat julle besluit om ‘n baba te hê?”

“Nee, Kath. Nie óns parenting skills nie ... mý parenting skills. Bernard glo nie ek kan na iets lewendigs omsien nie. Hy wil nie eers hê ek moet potplante in die huis sit nie, want ek vergeet om hulle nat te gooi.”

“En jou ding oor McDonalds, Bernard? Hoe pas dit nou in met die hele ‘Goeie Ouer Toets’? Hier sit ons dan nou en eet McDonalds...” Kathy geniet dit om te sien hoe ongemaklik Bernard rondskuif op die harde bankie.

“Nee man, Ventertjie vertel my nou die dag ‘n ding. Hy sê hy raak anderdag betrokke in die was van sy Fortuner want sy vroutjie het ‘n duur oorbel in die kar laat val en hy moet self kyk of hy dit kan kry. So kom hy toe af op ‘n McDonalds tjip onder die voorste sitplek. Hy sê sy mond begin dadelik water vir die dêm tjip en, voor iemand sien, stof hy die ding bietjie af en prop hy dit in sy mond en kou. Heerlik. Toe hy die oorbel vir sy vrou teruggee vertel hy haar van sy swakheid met die tjip en hy vra of sy nie dalk vir hulle hamburgers en tjips vir aandete wil maak nie. Wil sy vrou stuipe kry: daai tjippie lê al blykbaar in die kar rond vir so ses maande, want dit is wanneer hulle laas McDonalds geëet het, toe hulle in Pretoria was...

“Maar dis nie die ergste nie,” vertel Bernard verder. “Ventertjie sê die skokkende ding is dat die tjip nog steeds vars geproe het!”

Kathy knipoog vir Daisy en lag uit haar maag uit. “En nou mag julle kinders nie McDonalds eet nie, Bernard?” vra Kathy en vat ‘n groot hap van haar kaasburger.

“Kyk, julle twee van alle mense weet hoe lief ek is vir kosmaak. En vandat ek so slegte onderonsie met jig gehad het, is ek maar half versigtig om nie sommer als te eet nie. Maar die hel weet, daar is darem niks lekkerder as gemorskos nie. Ek sal nóóit op ‘n daaglikse basis op pizzas en hamburgers en diepgebraaide hoender kan oorleef nie, maar so af en toe? ... Yum.

“Ek het altyd gedink ek sal ‘n vrot spioen wees omdat iemand net moet skimp in die rigting van ‘n slang dan sal ek al die staatsgeheime uitlap. Maar wragtig! Die heel grootste marteling is om KFC of vis en tjips te koop in die dorp omdat jy honger is en dan al die pad terug te ry plaas toe met daai heerlike reuk in jou honger neusgate!”

Daisy breek ‘n stukkie van haar Big Mac af en voer die gretige bondeltjie energie op haar skoot.
“Maar Sunshine hier sal dit seker nie toelaat in die toekoms nie, nê my liefie? Jy sal daai lekker kos uitsnuffel en als proe laaaank voordat ons op die plaas aankom,” koer Daisy in die naaste wit oortjie. “Dan sal ons maar tussen die twee tonnels moet stop en ons eie piekniek hou, sodat jou kwaai pa niks agterkom nie, nê my ou kleintjie...” Daisy kyk skalks na Bernard.

“Hierso, ou Barries. Nou is dit jou beurt om die bybie gelukkig te hou terwyl ek wat oor is van my gemorskos eet. Miskien moet jy dalk kyk of sy nie sal belangstel in iets gesonds soos jou slaaiblaar of tamatie nie?”

Daisy - Date: 26 May 2016

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Email:

ADVERTISEMENT: