ADVERTISEMENT:

 

53. Daisy ontmoet ‘n skoolpêl en vlug vir skandes

 

Daisy pluk benoud aan Bernard se mou en sê onderlangs vir hom: “Ons moet dadelik hier uit, Bernard! Nee, nie nog die laaste slukkie van jou cocktail nie – kry my dadelik hier uit!”

Bernard gooi geld op die kroegtoonbank neer en volg Daisy op ‘n stewige pas na buite. Daisy gryp hom aan die arm en trek hom haastig by die trappe op wat na die parkering toe gaan.
“Ek sal nou vir jou alles verduidelik, Bernard, maar maak net baie gou!”

In Bernard se bakkie dring Daisy daarop aan dat hulle nie in die parkering moet talm nie. “Enige rigting, ry net. Solank ons net dadelik padgee!” Bernard kan nie help om geamuseerd te wonder wát op aarde Daisy hierdie keer aangevang het nie. Sy lyk regtig beangs wanneer sy oor haar skouer loer of enigeen hulle gevolg het.

Dis eers toe hulle ‘n hele ent op die grondpad gery het en Daisy seker is daar is geen motor agter hulle nie, dat sy skielik uitbars van die lag. Sy lag dat sy dubbel vou in die sitplek, sy lag dat die trane oor haar wange loop en sy kan nie ‘n woord uitkry nie.

Bernard stop die bakkie en beskou die petalje van agter sy donkerbril se lense. Hy het ‘n groot glimlag op sy gesig, maar duidelik kan hy nie wag dat Daisy al die details moet invul nie. Maar Daisy het steeds konvulsies van die lag en die trane stroom oor haar wange. Uiteindelik bedaar die histerie tot so ‘n mate dat sy darem die storie vir Bernard kan vertel.

“Dis skoolpêlle, Bernard. Kan nie heeltemal van hulle ontslae raak nie, maar vervlaks of mens loop hulle op die onmoontlikste plekke raak! Maar jy sal ook weet – jy was mos in daardie grênd skool in die Midlands van Kwa-Zulu Natal ... Hoe dikwels sien jy langverlore skoolpêlle?
“Dis maar dieselfde met my eie alma mater, Eric Louw. In my tyd was dit ‘n bitter klein skool en ons het almal mekaar se stories en familie geken. So, om skoolpêlle raak te loop was altyd ‘n plesier want dit het min genoeg gebeur in die stad. Maar vandat ek weer hier agter die Soutpansberg bly, moet ek my draaie goed ken om nie gedurig in hulle vas te loop nie!”

Die lagduiwels begin weer ronddraai in Daisy se oë. “Sal ek nou nie vandag, van alle dae, wat ons wegbreek van al ons verpligtinge vir ‘n bietjie alleentyd, in ‘n skool­pêl raakloop nie?”

“Nou waar het dit gebeur, Daisy? Ek het jou nie eers met iemand sien praat nie!” Bernard is opreg oorbluf dat hy niks agtergekom het nie.

“Nee man, ons het mos buite by die swembadkroeg gesit – vas van plan om alfabeties deur al die cocktails te werk voordat ons gaan eet – toe ek my verskoon om my neus te gaan poeier. En die enigste pad na die badkamers is deur die restaurant...” Die histerie dreig om Daisy weer te oorval.

“En onskuldig op pad na die badkamer roep iemand kliphard my naam. Toe is dit al die tyd Toffie Wolhuter; nadat ek verby die bles en die boep hom uiteinde­lik herken. Joviaal en loud soos altyd. Hy dring toe aan om my eers volledig in te lig hoe welvarend en invloedryk hy nou is en daarna kom al die “waar is die en daai een” en al die “onthou jy nogs”.”

“So leun ek later met my elmboë op die tafel terwyl ons gesels. Maar Moeder Natuur se roep word dringend en ek verskoon my toe. In die badkamer kom ek agter maar iets sit aan my kakiebaadjie se mou vas.”

Daisy begin weer onbedaarlik lag – tot Bernard se frustrasie.

“Wat, Daisy? Wat van jou baadjie se mou?”
“Toe ek ... ha, ha, ha ... toe ek kyk ... ha, ha, ha, hie, hie, hie...” Daisy vee die trane oor haar wange weg.
“Toe ek kyk, toe sit daar ... ha, ha, ha ... ‘n varktjop! O, hahahahahaha...”
“’n Wát, Daisy?!”
“’n Varktjop ... Ha, ha, ha, hahahahahaha...” Bernard gee op en wag dat Daisy weer kan sin praat.

“Toe ek kyk sit daar ‘n vark­tjop aan my baadjie se mou vas, Bernard! Ek kon my eie oë nie glo nie! Ewe luuks gekrummel met ‘n eksotiese lietsjiesousie ... Vasgeplak aan my baadjiemou! Bid jou aan hoe verbaas ek was...

“Maar dis nog nie die ergste nie, Bernard.” Dis met groot inspanning dat Daisy haar lag probeer onderdruk om die storie klaar te vertel.

“Toe ek terugloop deur die restaurant, toe is Toffie besig om bloedrooi in die gesig met ‘n kelner te stry oor die varktjop wat nie op sy bord is nie! Ha, ha, ha, ha...” Daisy vee die trane af en blaas haar neus.

“Dis toe dat ek vir jou kom vra dat ons so gou as moontlik daar moet uit!”

Entertainment - Date: 13 November 2014

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: