ADVERTISEMENT:

 

55. Daisy beplan vir haar vyfster “road trip” (2)

 

“Bernard, het jy enige idee hoeveel hierdie trippie gaan kos?” Daisy knaag senuweeagtig aan haar onderlip terwyl sy stip na die skerm van haar skootrekenaar staar. Sy en Bernard sit albei in die tuiskantoor en werk.

“‘n Goeie idee, ja Daisy. Hoekom vra jy?” Bernard vermoed alreeds wat gaan volg.
“Dis net, jy weet ... Dis ‘n buitengewoon VRYGEWIGE Kerspresent...” Daisy is versigtig om nie vir Bernard in die gesig te vat nie. Teen hierdie tyd het hulle al elke argument denkbaar gehad oor uitgawes en finansies en Daisy wil ten alle koste die vrede bewaar.

“Nee, Daisy, moenie dat ons weer die hele sakie kapittel nie. Het jy vergeet? Dis vir BESIGHEID! Einde van storie.”

“Nou ja toe, ou Bloubaard. Dan sal ek maar die minste wees totdat ek my persoonlike butler op die Bloutrein ontmoet. Maar jou vermoede was reg – Carla kan nie nou verlof neem nie, dis net Kathy wat saamgaan.

“Ek stuur sommer dadelik vir jou hierdie finale reisplan, dan kan jou persoonlike assi­stent begin met die reëlings. Sodra die reisplan gefinaliseer is, sal ek die interieurontwerpspan in kennis stel sodat hulle afsprake kan maak met al die verskaffers. Geen verdere gemor van my kant af nie.”
Oor middagete bespreek Bernard en Daisy weer die gastehuisprojek.

“Daisy, ek wil nou nie vir jou preek nie, en ek weet jy is net so gretig soos ek dat alles tot in die fynste detail moet reg verloop ... Maar ek gaan van more af tot kort voor Kersfees saam met die argitek oorsee wees. Jy weet ek maak staat op hierdie trippie van jou en jou goeie oordeel om die laaste los drade bymekaar te bring. Is jy reg vir enige gebeurlikheid? Sal jy en Kathy kan volhou met daardie reisplan? Dit het vir my gelyk asof julle min tyd vir julleself gaan hê...!?”

“Genade, Bernard! Lyk my jy het al vergeet dat ek en Kathy vreeslik kundig is wanneer dit daarby kom om plesier met plig te meng. Moenie bekommerd wees nie – ons sal beslis nie vergeet om onsself te geniet ook nie. Ek is seker jy en die argitek sal ook genoeg rede hê om in die Britse pubs uit te hang en sneeudinge te doen in Kanada!”

Die volgende paar dae is ‘n mallemeule van winkelsentrums vir Daisy en Kathy. Bernard het vir Daisy uitdruklike opdragte gegee oor die klere wat sy gaan nodig kry vir haar trippie en haar toe ‘n platinum kredietkaart in die hand gestop. “Geen jeans en t-shirts nie, Daisy. Dink elegant, dink Audrey Hepburn, dink Union Castle en high tea. Orals waar julle gaan word daar opgedress vir aandete...”

Toe Daisy Bernard se opdrag woord-vir-woord aan Kathy oordra, giggel Kathy onbedaarlik.

“Hierdie wil ek beleef, Daisy! Ek het ook so hier en daar ‘n paar dingetjies nodig, maar om vir jóú klere te koop met ‘n bodemlose kredietkaart is amper net so ‘n lekker vooruitsig soos ons trip! En ek het natuurlik wonderlike kontakte in die modewêreld wat jou oornag in ‘n swaan kan verander!”
“Swaan se dinges, Kathy. En ek dra g’n gri­mering en stywe kleertjies nie – dit laat my altyd voel asof ek my moet gedra! Jy weet ek haat dit om klere te koop; die laaste klere wat ek gekoop het was by jou - die stoute onderklere wat Plore vir my saamgebring het plaas toe. Dis my soort shopping daardie – waar jy nie in ‘n winkel hoef in te gaan nie!”

“Laat dit aan my oor, Daisy. Voordat ons Vrydag op daardie Bloutrein klim, gaan jy jou eie oë nie glo nie. Jy sal soos ‘n celebrity lyk, ek belowe jou.

“En al wat ek in ruil vir my moeite wil hê, is net hope Franse sjampanje en vars oesters...”

(Word vervolg)

Entertainment - Date: 27 November 2014

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: