ADVERTISEMENT:

 

57. Daisy en kie bring die Bloutrein tot stilstand

 

Daisy het ‘n beperkte aandagspan.

Gelukkig is sy (nie sonder etlike insidente nie!) deur haar skooljare voor Ritalin die gier van die oomblik geword het. Uiteindelik het haar ma Linda Goodman se boek geraadpleeg en tevrede tot die slotsom gekom dat Daisy se gebrekkige aandag natuurlik is vir ‘n Gemini. “En slim mense raak doodeenvoudig net gouer verveeld,” het sy dan altyd met trots bygevoeg.

So meld Daisy en Kathy, vars gedress en gepress, stiptelik aan vir High Tea. Kathy se entoesiasme oor die keurige silwerware en imposante stapels vingerhappies vryf nie af op Daisy nie. Sy het klaar genoeg gehad van die ongewoon baie aandag wat sy aan haar voorkoms moet gee. Sy mis haar jeans en T-hemp en om haar lang blonde hare sonder die hulp van ‘n spieël in ‘n poniestert vas te maak. Maar Kathy laat haar nie ‘n oomblik toe om te vergeet dat sy haar soos ‘n celebrity moet gedra nie.

“Daisy, dink jy nou vir een oomblik dit is lek­ker vir Prinses Charlene om met haar twee­ling-swanger lyf moeite te doen met hare en grimering en uitrustings? Maar sy doen dit want sy is voorbladnuus en die wêreld verwag dit van haar! Jy hoef dit ten minste net vir ‘n paar dae vol te hou tot jy weer terug is op die plaas...”

Dus is Daisy al klaar morrend en verveeld met dieselfde gesigte van Pretoria-stasie en die laat ontbyt. “Dié spulletjie is heeltemal te ordentlik en vol social graces, Kathy! Die mans kan darem nog lag, maar die vrouens is so styf en vol botox dat hulle nie eers vir die mans kan frons as hulle een whiskey te veel drink nie,” brom Daisy onderlangs.

Kathy maak of sy niks hoor nie en wuif met haar vingerpunte vir die stoere dames. Haar glimlag is gul en sy knik met haar kop in die rigting van die kroegman toe hulle by ‘n tafel gaan sit.

omblikke later verskyn daar twee glase sjampanje en ‘n kelner met ‘n verskeiden­heid van tees. Daisy se gemoed verbeter dadelik. Sy bespreek selfs vlugtig die verskil tussen Earl Grey en Oolang tee en die voordele van swart tee met die kelner.

Teen die derde glas sjampanje raak Daisy selfs geselserig. Sy bied vir die mense by die tafels langsaan aarbeie en room aan en deel brokkies Suid-Afrikaanse geskiedenis met die uitlandse gehoor. Toe haar mede-passasiers begin uitvra na Kimberley, laat Daisy se dramatiese kinkels aan die Slag van Bloedrivier en die giftige denke en dade van haar De Melker-naamgenoot die stywe lot gou skaterlag. (Al wat Daisy van Kimberley weet is dat daar ‘n Groot Gat is en dat die Bloutrein vir ‘n uur en ‘n half daar gaan stop om 31 000 liter water aan boord te neem.)

Kathy fluister angstig vir Daisy dat die Slag van Bloedrivier in Natal was en Daisy de Melker in Germiston gebly het.

“Ag, my liewe vriendin,” antwoord sy hardop in Afrikaans, “ons sal nou nie dat feite tussen ons en goeie buitelandse betrekkinge staan nie, sal ons?” Daisy is op ‘n roll.

“En terwyl ons praat van betrekkinge: hoor bietjie by die kelner of daar nie speelkaarte hier is nie. Dis hoog tyd dat ons hierdie High Tea ‘n bietjie lewe gee!”

Binne ‘n halfuur is daar nie ‘n teken van deftigheid nie. Die meeste mans, betower deur Daisy se blonde hare en amusante geselskap (en natuurlik ook al bietjie verveeld met die uitsig en suurderige vrouens) sit om ‘n tafel en speel poker. Die kelners dra fluks drank en sigare aan en ontvang ruim footjies. Daisy is in haar element. Sy drink die beste cap classique, rook ‘n sigaar, flankeer met die mans terwyl sy keer op keer wen.

Niemand kom eers agter dat die trein gestop het nie...

(Word vervolg)

Entertainment - Date: 11 December 2014

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Email:

ADVERTISEMENT: