ADVERTISEMENT:

 

61. Daisy raak depressief en maak nuwe planne

 

Bernard kry vir Daisy waar sy op die stowwe­rige vloer van die bouperseel sit en kyk hoe die son ondergaan. Een kyk na Daisy se gesig en hy weet dat daar nie baie woorde moet wees nie. “Wat van ‘n pophuisbier vir jou, mooiste?”

Sy knik net. Bernard gee vir haar ‘n ys­koue, skelpienk drankie aan. Waatlemoen. Haar gunsteling.
Hy gaan sit langs haar op die vloer. Die sonsondergang is asemrowend, asof die Soutpansberg spesiaal vir hulle wil afshow. Rooie, pienke, perse tussen die ryk goue bane van die son. Orals staan kremetartbome soos rustige dinosourusse uit bokant die groen tapyt van die bosveld.
Toe die son gaan lê, begin Daisy praat sonder om na Bernard te kyk.

“Dis nie dat ek nie lus het vir hierdie jaar nie. Daar is soveel opwindende dinge wat gebeur en projekte wat afgehandel moet word. En daar is soveel dinge wat my lewe verryk en waarvoor ek daagliks dankbaar is. Jy is seker die grootste blessing in my lewe, Bernard, en daarvoor kan ek nooit genoeg dankie sê nie.

“Maar daar is iets missing. Dit voel asof ek te min bydra, te min verskil maak in die lewe ... Kyk nou net hoe ‘n wonderlike ondervin­ding ons Loslappiekersfees was. Dit het soveel verskil gemaak in die lewe van eensame mense. Ou Miesies Cohen sou stoksielalleen in daardie kasarm van ‘n huis van haar gesit het en die paartjie van Argentinië sou hulle harte uit verlang het na hulle huis en familie ... Het ek jou gesê dat daar selfs een of twee romanses aan die uitbroei is?” Daisy giggel.

“Ek wil méér doen, Bernard. Vandat ek jou leer ken het, het ek die ander kant van die lewe ook leer ken – die bevoorregte kant, waar geld nooit ‘n kwessie is nie. Vreemd genoeg is dit juis hierdie luukse leefstyl wat my meer laat fokus op dié wat minder gelukkig is. Skielik sien ek nood orals raak – op Facebook kom ek af op ‘n video van Helpende Hand oor die stories van ons mense in plakkerskampe, mense wat werk soek, mense wat desperaat is om na hulle families om te sien.”

“Daisy, wees realisties. Jy het twee projekte hier op die plaas om mense se lewensomstan­dighede te verbeter. Die groenteprojek is besig om ‘n fris profyt te toon en almal glimlag deesdae van oor tot oor omdat hulle dieet minder vervelig is. Die gasvryheidsprojek is ook besig om goed van die grond af te kom – al hoe meer mense doen navraag om opgeleide persone in diens te neem. En dit is albei projekte wat jy van niks af begin het. Hoekom voel jy steeds dat jy meer moet doen? Verduidelik vir my, toe?”

“Albei die projekte verskaf my groot plesier, Bernard. Dis awesome om die direkte resultate daarvan te sien, en ek kan nie wag dat die gastehuis ook moet klaarkom, sodat ons dit verder in aksie kan sien nie. Die probleem is dat ek onvermydelik die projekte moet oorhandig aan iemand anders om dit te bestuur, anders sal ek nooit die vryheid hê om saam met jou rond te rits nie. En in die stad word ‘n mens se betrokkenheid beperk tot glamorous aantrek vir vergaderings in stylvolle plekke, sodat jy by die volgende A-list paartie kan laat val dat jy betrokke is by hierdie en hierdie wonderlike projek ... Dis nie ekke nie.”

Bernard leun gemaklik terug teen die varsgepleisterde muur agter hom en kyk na Daisy se mooi profiel teen die skemer. Hy dink nie hy sal ooit moeg word vir die vele fasette van hierdie ditzy vrou met die lang blonde hare en nog langer bene nie. Partymaal is dit vir hom steeds verrassend: hierdie rare kombinasie van skoonheid, intellek, humor, speelsheid en diep spirituele denke.
“Nog ‘n pophuisbier, Daisy?”

Hy draai die proppie af en gee dit vir haar aan. Gaan sit dan weer teen die muur.
“Gewoonlik het jy reeds ‘n plan in gedagte wanneer jy met my so diep begin praat, Daisy. Kom, vertel en dan gaan braai ek vir jou ‘n T-bone by die huis.”

“Dit is ‘n groot projek, Bernard. En dit gaan beteken dat ek baie meer tyd in die stad moet spandeer. Dit gaan ook nodig wees om van jou besigheidsnetwerk gebruik te maak, om ‘n groot gedeelte van jou invloedryke vriende, hier en in die buiteland, te gebruik. Dink jy dit sal ‘n probleem wees?”

“Dink jy regtig daar is iemand wat jou kan weerstaan wanneer jy vasberade is om jou doelwit te bereik?”

Bernard se lag trek ver in die soel Bosveld­aand.

(Deel 2 volgende week.)

Entertainment - Date: 22 January 2015

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: