ADVERTISEMENT:

 

62. Daisy is depressief en wil die wêreld verander

 

“Right, Daisy. Die vuur is gemaak en dit lyk my jou voorbereidings in die kombuis is vir eers klaar. Nou kan ons rustig sit en gesels; ek kan nie wag om jou planne te hoor nie.”

“Belowe jy sal nie lag nie, Bernard? En eers heeltemal klaar luister voor jy kommentaar lewer? Dis ‘n projek wat naby aan my hart lê, en ek glo regtig dat dit ‘n verskil in ons land kan maak...”
Bernard knik en beduie glas in die hand vir haar om aan te gaan.

“Het jy al gehoor van die Candy Stripers, Bernard? Nie? Dis ‘n vrywilliger-organisasie wat in 1944 in Amerika ontstaan het. Tienermeisies kon aansluit om allerhande nie-mediese takies te verrig in hospitale – hulle lees vir pasiënte, voer dié wat nie self kan eet nie, help met admini­stra­tiewe funksies, bring boeke, tydskrifte en snoepgoed. Hulle dra spesiale voorskote van materiaal met wit en rooi strepies wat herinner aan die wit en rooi suiglekkers.”

“Toe’t ek nou gedink – ons sit met ‘n pro­bleem in ons land met jeugmisdadigers. Veral dié wat vonnisse vir gemeenskapsdiens ontvang. Blykbaar is daar nie baie opsies vir sulke jong oortreders nie. Ons sit ook met oorvol tronke en die jonges leer van hardebaard misdaad juis in die tronk!

“Nou wat daarvan as daardie oortreders gemeenskapsdiens kan verrig in hospitale? Die verpleegpersoneel werk onder groot druk, so hulle kan doen met die ekstra hande. Aan die ander kant kan jeugoortreders eerstehands ervaar wat die gevolge van dronkbestuur, dwelms en geweld is. Miskien sommer ook die werklikheid van Vigs ervaar en bietjie twee maal dink voor hulle hulself blootstel aan onverantwoordelike gedrag.

“En dis min of meer die basis van my visie, Bernard. Wat dink jy?’

Bernard staan op en gooi vir hom nog ‘n dop. Daarna bly hy lank stil en deurdink Daisy se voorstel.

“Dis ‘n gróót hap wat jy wil afbyt, Daise. Dit gaan toewyding verg en ‘n hele vlegsel hare op jou tande. Selfs met die hulp van al my invloedryke vrinne gaan dit beteken dat jy van al jou ander projekte hier op die plaas moet vergeet...”

“Maar Bernard, die projekte loop almal soos ge-oliede ratte! Die tuinprojek en die opleidingsentrum gaan baie min van my tyd verg, en daar is ‘n hele span binnenshuise ontwerpers en die argitek wat die finale afronding van die gaste­huis hanteer. Ek het met my trippie voor Kersfees my deel gedoen om alles te help uitkies...”

“Daisy, ek stem saam. Maar ek sal baie teleur­gesteld wees as jy dit alles nie persoonlik kan deursien nie. Ek maak staat op jou, want jy het jouself bewys as besonder talentvol om gatte te kan skop in my afwesigheid!”

“Hoekom voel ek dan so vreeslik sleg, Bernard? Dit voel asof ek nie my deel doen om die wêreld ‘n beter plek te maak nie,” snik Daisy.

“Hokaai, Daise! Jy weet ek kan nie so lekker deel met jou trane nie.

“Al wat ek weet, is dat ek jou vreeslik bewonder oor alles wat jy wel hanteer! Jy moet besef dat ons almal maar beperk word om die lewens van die mense in ons onmiddellike wentelbaan beter te maak.

“Ek weet nie mooi van al die dinge nie, my mooiste, maar ek vermoed jy het bietjie Nuwejaar blues. Jy was bitter besig die afgelope tyd en ek vermoed jou batterye is nog nie ten volle gelaai nie. Nou: jy het ‘n keuse – jy kan of dokter toe foeter en dat hy jou vol chemiese sonskyn prop, of jy kan iewers heengaan en regtig baie goed wees vir jouself tot jy weer soos jou gewone bondel pret voel. Wat gaan dit wees?”

Met ‘n klein stemmetjie vra Daisy: “Waarheen, Bernard? Ek dink ek het my ma nodig, maar daar is nog nie shuttles hemel toe nie.” Toe huil Daisy Bernard se hele kakiehemp papnat.
Bernard sug.

“Ok, Daisy, als reg. Ons sal ‘n plan maak. Ek sal bietjie Google en vir jou vriendin Carla by die Marokkaanse gastehuis ook vra. Iewers in die Kaap, dink ek ... Maar intussen bring ek vir jou nog ‘n pophuisbier, en die vuur is reg vir die T-bones. Kom ons praat more weer daaroor. Kom ons vee daai maskara van jou wange af - jy lyk soos Alice Cooper.”

Deur haar trane glimlag Daisy vir Bernard.

“Kaap, sê jy ou Barries?” en daar is sowaar ‘n vonkel in haar oë.

(Deel 3 volg)

Entertainment - Date: 29 January 2015

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Email:

ADVERTISEMENT: