ADVERTISEMENT:

 

“Dr. Venter nie meer leraar van NG Kerk”

 

Die volgende verklaring ten opsigte van dr. Philip Venter, voormalige leraar van die NG Kerk Soutpansberg-gemeente, is ontvang vir publikasie van die NG Kerk Ring van Louis Trichardt:

Tydens Januarie tot Desember 2013 het die NG Kerk Ring van Louis Trichardt verslag en klagtes oor dr. Philip Venter as leraar van die NG-gemeente Soutpansberg ontvang wat handel oor twee verskillende sake: (1) dr. Venter se wangedrag as predikant en (2) sy stigting van ‘n nuwe geloofsinstelling, terwyl hy nog ’n gelegitimeerde NG predikant was.

Oor sy wangedrag as leraar het die Rings­kommissie van die NG Kerk Ring van Louis Trichardt op 31 Julie 2014 die bevindinge van die Du Plessis Kommissie, wat die Ring van Louis Trichardt se appél insake die tugondersoek oor dr. Venter hanteer het, ontvang.

Oor sy kerkskeuring het die Ringskommissie op 31 Oktober 2014 ‘n brief ontvang vanaf ds. G. G. Haumann, voorsitter van die ondersoekliggaam wat die klag van die NG-gemeente Soutpansberg teen dr. Venter oor kerkskeuring ondersoek het, waarin die toepassing van Artikel 64.5.4.4 van die kerkorde bekragtig is.

Die ondersoekliggaam van die NG Kerk Ring van Louis Trichardt, wat saamgestel  was deur die Taakspan Regte van die Noordelike Sinode van die NG Kerk (wat as die Haumann Kommissie bekendgestaan het) om die klagte van die NG-gemeente Soutpansberg teen dr. Philip Venter oor skeurmakery te ondersoek, het die volgende bevindinge gemaak en besluite geneem:

“Ons vind u skuldig aan Skeurmakery deurdat u:
1) ‘n Nuwe gemeente (te wete Veritas-gemeenskapskerk) gestig het sonder om die korrekte kerkordelike prosedures te volg (Sien: Reglement vir die Vermeerdering, Kombinering, Eenwor­ding en Samesmelting van Gemeentes)
2) Aktief lidmate binne die grense van die twee bestaande NG-gemeentes, te wete NG Soutpansberg en NG Louis Trichardt, gewerf het;
3) Tydens die periode gestuit was, en steeds in diens van NG-gemeente Soutpansberg;
4) Die sakrament van die nagmaal en die doop bedien het (17 en 20 April 2014);
5) Voortgegaan het met die kies van diako­nesse vir die nuutgestigte gemeente.

Die ondersoekliggaam pas die volgende tugmaatreëls op u toe aan die hand van die voorskrifte soos vervat in Artikel 64.5.4.4 van die Kerkorde: Ontslag uit die diens van die gemeente of uit die diens van die kerkverband met die aanbeveling dat die Algemene Sinode of sy gevolmagtigde kommissie u ampsbevoegdheid beëindig wat die nietigverklaring van u akte van legitimasie insluit.”
Hierdie besluit beteken dat dr. Venter, voorheen NG-leraar van die NG-gemeente Soutpansberg, nie meer ’n leraar, proponent of gelegitimeerde van die NG Kerk is nie.

Met die verlies van hierdie ampsbevoegdheid kan dr. Venter nie meer die doop of nagmaal in die NG Kerk, en alle kerke wat die NG Kerk erken, bedien nie. Dr. Venter het hiermee ook sy status as Kommissaris van Ede verloor en kan nie meer huwelike voltrek nie. Sy status as Kommissaris van Ede was ’n ooreenkoms van die NG Kerk met die owerheid vir sy eie predikante en het met sy skorsing vir hom persoonlik verval.

Hierdie besluit beteken ook dat die nuwe geestelike gemeenskap wat dr. Venter gestig het, Veritas, nie volgens die NG Kerk ’n erkende kerk is nie. 

Dr. Venter het nie hierdie nuwe instelling ge­stig in oorleg, volgens die ooreenkomste of orde vir die stig van nuwe NG-gemeentes nie. Hy het hierin eensydig en proseliterend opgetree.

Die appèlliggaam wat die Taakspan Regte van die Noordelike Sinode van die NG Kerk saamgestel het om die appèl van die NG Ring van Louis Trichardt teen die ondersoek van onder andere klagtes van onprofessionele gedrag in pastoraat, valse getuienis teen die kerkraad van die NG-gemeente Soutpansberg en selfbe­voordeling in die beroep van die kerkraad van Soutpansberg te ondersoek, het die volgende bevindinge gemaak:

“Dr. Venter was wel skuldig aan die eerste klag soos deur die Ondersoekkommissie van die Ring in April 2013 bevind:
1) Die tugmaatreëls, naamlik ‘n bestraffing deur die Ring, word as voldoende beskou. Hiermee kan die saak as afgehandel beskou word,” en
2) “Die Appèlliggaam oordeel dat daar by elke klag waar onreëlmatighede aangetoon is, duidelik gestel moes word dat hy op die betrokke klag skuldig bevind is.” 
Hierdie besluite beteken dat volgens die NG Kerk dr. Venter:
1) Regtens skuldig bevind is aan wangedrag in sy pastoraat en hiervoor regtens vermaan is deur die NG Kerk Ring van die Louis Trichardt.
2) Dat dr. Venter skuldig bevind is aan valse getuienis en homself ten koste van die kerkraad bevoordeel het.

Die Ringskommissie van die Ring van Louis Trichardt wys daarop dat dr. Venter nie as NG-predikant vir laaste genoemde skuldigbevindings geskors is nie. Dr. Venter is as predikant geskors, omdat hy naas hierdie skuldigbevindinge, ‘n eie geestelike instelling gestig het terwyl hy nog ‘n gelegitimeerde NG-predikant was.

Indien dr. Venter hom aan die tug van die NG Kerk onderwerp het vir sy wangedrag, soos hy dit in sy legitimasie-eed aanvaar het, en sou hy hom van sy wangedrag met berou bekeer het, sou hy net vir sy wangedrag vermaan gewees het, soos dit duidelik is in die optrede van die Ring van Louis Trichardt met die skuldigbevinding oor wangedrag in pastoraat, en kon hy nog steeds ‘n gelegitimeerde predikant van die NG Kerk gewees het.

Oor die optrede van die NG Kerk Ring van Louis Trichardt het die Appèlkommissie soos volg besluit: “Ten slotte beklemtoon die Appèlliggaam dat hy in die beoordeling van die appèl onder die indruk gekom het dat al die betrokke persone, by name die Ondersoekliggaam en die Ringskommissie (van Louis Trichardt), probeer het om met verantwoordelikheid op te tree. Hulle moeite en erns word hiermee erken.”

Die inligting wat versprei word dat die Sinode die Ringskommissie van Louis Trichardt sou aangespreek het vir wangedrag of onverantwoordelike optredes is nie waar nie.

Graag wys die Ringskommissie van die NG Kerk, Ring van Louis Trichardt, daarop dat die NG Kerk ook intensief aandag daaraan gee hoe om gemeentes te help om binne die nuwe wetgewing vir werkgewer en werknemer, predikante vir wangedrag te kan aanspreek. Binnekort sal die Algemene Sinode ‘n gedragskode vir predikante bekendmaak wat as basis in arbeidsregtelike sake kan dien vir gemeentes en kerkrade as werkgewers vir predikante.

Die huidige kerkordelike maatreëls wat ondersoeke na predikante Ringsake maak, maak dat predikante wat hulle wangedra en nie die kerklike tug as geloofsaak hanteer of aanvaar nie, maar hulle wangedrag ‘n arbeidsregtelike kwessie tussen hulle en die kerkraad maak, gemeentes feitlik finansieel gevange neem om hulle wangedrag oor te sien of nog selfs voor te vergoed.

Die Ring van Louis Trichardt het tydens sy Ringsitting van 15 en 16 Augustus 2014 met die Taakspan Regte van die Noordelike Sinode ‘n werkspan gevorm om hierdie onbillike posisie van gemeentes teenoor predikante wat hulle wangedra, aan te spreek. Hierdie werkspan is deur die uitvoerende bestuur van die Noordelike Sinode goedgekeur.

Lees ook die reaksie van Veritas Gemeenskapskerk.

Letters - Date: 20 November 2014

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Email:

ADVERTISEMENT: