ADVERTISEMENT:

 

Wat het geword van werksetiek en verantwoordbaarheid by Makhado?

 

Wat nogal uitgestaan het in Maart 2015, as inwoner van Louis Trichardt, is die 14 waterlose dae by die huis wat veroorsaak het dat die noodvoorraad in die tenk ook begin klaar raak het. Tereg is water sonder twyfel belangriker as die wêreldbeker krieketkampioenskappe.

Tydens ‘n telefoniese gesprek  Donderdagoggend, 26 Maart, met ‘n baie vriendelike behulpsame dame by die Makhado Munisipaliteit oor my watertekort, belowe sy om dadelik ‘n tenkwa te reël om water te kom aflaai. Die belofte word ‘n paar minute later bevestig deur ‘n man wat ook bevestig dat die tenkwaens besig is om by Albasini Waterwerke vol te maak en binnekort sal aflewer.

Wel, Donderdag het gekom en gegaan. Vrydag, 27 Maart, om 15:39 doen ek per SMS navraag by mnr. Belofte rakende die aflewering van die water (U moet weet na twee dae se lappie-lappie begin jy ruik waar jy nie gedink het jy kan ruik nie). Hier volg nou mnr. Belofte se SMS antwoord: ‘AM SORRY, MOST OF THE TRUK DRIVERS WERE ON A MARCH TODAY.’  Wonder nou, hulle het hopelik water by hulle gehad om hulle dors te les tydens die opmars.

As die President van die land nie verantwoordelikheid wil neem vir sy optredes en uitsprake nie, as minis­ters nie die verantwoordelikheid wil aanvaar vir ‘n land wat deur hulle optrede in chaos gedompel is nie, as dieselfde regering deel is van die bedrog en diefstal wat hoogty vier in die land, hoe kan verwag word dat mnr. Belofte en sy drywers verantwoordelikheid sal aanvaar om water aan die inwoners van Louis Trichardt te voorsien?  Nommer 1 stel dan die voorbeeld!

Werksetiek, verantwoordbaarheid en verantwoordelikheid bestaan grootliks glad nie, vanaf die land se Nommer 1 tot by die munisipaliteite se laagste besoldigde werker. Dit is ‘n jammerlike gesig om te sien hoe Louis Trichardt, wat eens ‘n Bosveld juweel was, besig is om stadig maar seker inmekaar te stort. Vir die wat nog teen die prikkels skop en die stange wil vasbyt, aanvaar maar gerus die nuwe naam MAKHADO, dit pas perfek by die prentjie wat besig is om te ontvou, en die kool is beslis nie meer die sous werd nie. Die dorp is beslis nie meer die voortrekker naam LOUIS TRICHARDT werd nie. Dit wat nou gebeur is slegs ‘n belediging aan sy nalatenskap en ‘n minagting van die Afrikaner se geskiedenis en sy aandeel in die dorp en omgewing. Kyk om jou wat gebeur, luister na wat gesê word,  (die onlangse uitspraak was gewees: ‘as jy nie tevrede is nie vat jou goed en loop’) en besluit dan wat om te doen. Ek skaam my vir die plek.

(Brief verkort – Red)

- Carel Breytenbach (Louis Trichardt) 

Letters - Date: 01 April 2015

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Email:

ADVERTISEMENT: