ADVERTISEMENT:

 

generiese foto

Bye sorg vir groot konsternasie by skool

 

‘n Aggressiewe swerm bye het Dinsdag gesorg  vir chaos by Hoërskool Louis Trichardt.

Teen die middag was ‘n warboel van tasse, selfone en ander persoonlike besittings van leerlinge die engiste getuienis van die drama wat homself afgespeel het tydens die laaste skoolperiode.

Omstreeks 12:30, vertel adjunk-hoof mnr. Theo Muller, het alle hel los gebreek in die Graad 10 wetenskapklas. Volgens een Graad 8-leerling, Natasha Janse van Rensburg, het haar klas langsaan eers nie besef wat gebeur nie. “Ons het net gehoor hoe kinders begin skreeu,” het sy Dinsdagaand gesê. Die bye het Natasha bykans 15 keer op haar rug bygekom.

Dit was toe Natasha en haar maats die klas verdaag dat hulle sien hoe leerlinge histeries probeer wegvlug van die bye. Die swerm het teen dié tyd, vertel leerlinge en onderwysers, in ‘n massiewe swart massa oor die skool se vierkant gehang.

“Daar was een meisie wat nie ‘n oop plekkie op haar gehad het soos wat die bye haar gesteek het nie,” het Natasha vertel. Nog ‘n leerling, Phuluso Madala (Graad 9), is ook ‘n paar keer deur die woedende bye bygekom. Hy moes mediese behandeling ontvang, nadat hy gesukkel het om asem te haal.

Dylan van Zyl (Graad 8) onthou net hoe almal rondgeskarrel het om weg te kom van die bye. “Daar was tyd vir niks! Ek het net my tas neergegooi en weggehardloop. 'n Ander kind het in die skoolsaal ingekom met haar klere vol bye!”

Dit was nie net die leerlinge wat deurgeloop het nie. Personeellede moes ook tekkies uitpak om weg te kom van die bye.

Nadat die bye leerlinge agtervolg het tot in die vierkant, het almal skuiling gaan soek in die saal. Hier het party onderwysers begin om die bye met gif te spuit, terwyl ander begin het om salf en anti-histamien uit te deel.

Ouers wat by die skool opgedaag het om kinders op te laai, het ook ingespring en van die kinders wat allergiese reaksies getoon het na hospitale en dokters begin aanry.

Natasha vertel dat Pa Piet haar in die skoolkantoor gekry het waar onderwysers besig was om haar en ander leerlinge se wonde met spiritus te behandel. “My pa het vir ons pilletjies gegee om te drink en gehelp om salf aan te smeer voordat hy ons dokter toe gevat het.”

Muller het Woensdagoggend bevestig dat ‘n vinnig opname aan die lig gebring het dat altesaam 174 leerlinge en 14 personeellede meer as een keer deur die bye gesteek is.

'n Maatskappy is kort na die voorval gehuur om die bye te kom vernietig en teen Woensdag kon die leerlinge weer terugkeer skool toe. Muller het namens die skool al die ouers bedank wat gehelp het om leerlinge te behandel.

News - Date: 06 February 2012

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: