ADVERTISEMENT:

 

Wyle oom Boet du Toit (69). Foto verskaf.

Soutpansberg groet sy “patat-koning”

 

Een van die streek se groot sakemanne, Frederik Boshoff du Toit, is die afgelope naweek in die ouderdom van 69 oorlede.

Oom Boet, soos hy alombekend gestaan het, is Saterdag oorlede, nadat hy weke tevore twee beroerte-aanvalle gehad het. Hy was die oudste kind van Frans en Katrien du Toit en was ‘n boorling van die Soutpansberg-streek.

Ná skool is hy weermag toe en sluit toe sommer ook aan by die destydse Staande Mag.

Latere jare het hy teruggekeer na die streek en begin boer op die plaas Welgevonden buite Makhado (Louis Trichardt) op die Levubu-pad uit.

Hy was van kindsbeen af lief vir die aarde, onthou oom Boet se familie. Waar ook al hy gebly het, was daar altyd ‘n vrugteboord en groentetuin.

“Familie en kennisse is altyd terug huis toe met vleis, vrugte of groente,” vertel die gesin. “Hy sal onthou word as ‘n man met ‘n oop hand vir iemand in nood.”

Kort nadat oom Boet begin boer het, het hy sy bruid, Hannelie Pienaar, ontmoet en getrou.

Op die plaas het oom Boet hom hoofsaaklik toegespits op patats, wat gelei het daartoe dat hy die “patat-koning” gedoop is in ‘n Landbouweekblad-artikel in 1973. Met die tyd het oom Boet stelselmatig sy boerdery omgeskakel na vrugteboerdery en mango’s, avo's en neute geplant.

In die tagtiger en vroeë negentiger jare het oom Boet sy sakebelange uitgebrei en die eienaar geword van Du Toit’s Busdienste. Menige skoolkind sal hom onthou as Oom Boet van die skoolbusse.

In 1996 het oom Boet na Namibië verhuis om na sy pa, wyle oom Frans du Toit, se boerdery om te sien. Hy het later weer ‘n terugkeer na die Soutpansberg gemaak, waar hy sy boerderyaktiwiteite en sakebelange hervat het en in 2008 in die huwelik tree met Petro Pretorius.

Die familie het hul dank en waardering uitgespreek teenoor almal wat deur middel van oproepe en SMS’e hulp en vertroosting gebring het.

Oom Boet sal Donderdag, 15 November, om 11:00 vanuit die Gereformeerde Kerk Louis Trichardt-gemeente begrawe word.

News - Date: 16 November 2012

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: