ADVERTISEMENT:

 

Generic image

Ramphele 'n boorling van Soutpansberg

 

Dr. Mamphela Ramphele, die akademikus/sakevrou wat vandeesweek haar politieke platform Agang/Akhani in Johannesburg aangekondig het, is ‘n Soutpansberger -  gebore en getoë op die historiese Kranspoort sendingstasie van die NG Kerk.

Kranspoort was bykans 'n eeu en 'n half gelede die wieg van die eerste “buitelandse” sendingaksie van die Nederduitsch Gereformeerde Kerk van die toentertydse Kaap Kolonie. Dit is in 1863 gevestig deur die Skotse sendeling, Alexander MacKidd. MacKidd is in April 1865 oorlede, maar kort voor sy dood het 'n jong begeesterde sendeling, Stephanus Hofmeyr, by hom aangesluit. Hofmeyr het latere jare baanbrekerswerk gedoen en die plaas ontwikkel met 'n kerk- en skoolgebou en uitgebreide landbou-bedrywigheid. (Die kerk, grafte van vroeë sendingpioniers en ‘n sending eeufeesgedenkteken is steeds besienswaardighede op die eertydse sendingplaas teen die voet van die Soutpansberg, langs die Vivo-pad wes van Louis Trichardt).

Ramphele se ouers was in die 1940's en 1950's onderwysers op Kranspoort, wat hulleself aan die destydse Bethesda Normaalkollege van die NG Kerk  (suid van Kranspoort) bekwaam het. Op Kranspoort was haar pa, Pitsi Ramphela, ook ouderling, koormeester en tolk vir die NG sendingpredikant.

Volgens 'n biografie wat deur Bonnie Leib geskryf is, is Mamphela Ramphele in 1947 op Kranspoort gebore. Sy het haarself ook aanvanklik in 1961 as onderwyseres by Bethesda gekwalifiseer - die eerste van die uiteenlopende reeks kwalifikasies wat tans agter haar naam verskyn. Sy het in 1968 haar mediese studies aan die Universiteit van Natal begin, waar sy ‘n hegte vriendskap met swart bewussynsaktivis Steve Biko ontwikkel het. Hy is die vader van haar seun, Hlumelo Biko. Later (in die 1980’s) sou sy, benewens verskeie bykomende mediese kwalifikasies, ook B.Com en ‘n doktorsgraad in Antropologie aan die Universiteit van Kaapstad behaal, voordat sy in 1996 as vise-kanselier aangestel is. In 2000 was sy een van die vyf  besturende direkteure van die Wêreldbank, verantwoordelik vir gesondheid, onderwys en maatskaplike ontwikkeling van minder bevoorregtes. In Julie 2005 het sy, tesame met haar seun Hlumelo Biko, die Circle Capital investeringsmaatskappy tot stand gebring.

Op universiteit en tydens haar latere politieke bannelingskap het sy telkens nabygeleë armoedige gemeenskappe met mediese sorg, voorligting en opheffingsaksies bedien.

News - Date: 22 February 2013

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

Email:

ADVERTISEMENT: