ADVERTISEMENT:

 

generiese foto

Plaasaanvallers na agt jaar gevonnis

 

Dit het jare geneem, maar geregtigheid het geskied.

Drie plaasaanvallers is verlede Donderdag in die Louis Trichardt Streekhof gevonnis. Dit nadat hulle ‘n skrikbewind in die Soekmekaar-gemeenskap gevoer het.

Daniel Letlalo (29), Jeffery Masekela Moradi (32) en Godfrey Chauke (34) is altesaam 65 jaar gevangenisstraf opgelê, nadat hulle skuldig bevind is op twee klagte van roof met verswarende omstandighede en een klag van die onwettige besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en een klag van die onwettige besit van ammunisie.

Die mans is aangekla van die aanvalle op me. Isabel Smith van die plaas Ruwe Storms en mnr. Thomas Penning van die plaas Rietbolt. Smith en Penning is beide aangehou, vasgebind, aangerand en beroof.

Die verhoor het in die middel van 2007 begin, en is voor senior landdros Ronnie Rambau aangehoor. Rambau se arrestasie in 2010 op klagte van bedrog het egter die verhoor tot stilstand gebring. ‘n Hooggeregshofbevel dat die saak van voor af met ‘n nuwe landdros begin, het die saak verder vertraag. Penning is intussen, nadat hy klaar vir die Staat getuig het, oorlede.

In Smith se geval is sy op 20 September 2006 deur Masekela en Letlalo beroof. Sy het gedurende die verhoor in 2007 getuig dat Masekela en Letlalo haar voete vasgebind het met ‘n bedlampiekoord en haar geslaan het. Masekela het haar ook op die grond vasgedruk en haar gewurg. Die twee mans het gedreig om haar dood te maak, en haar met haar eie rewolwer oor die kop geslaan, nadat hulle haar gedwing het om die kluis vir hulle oop te sluit. Smith het in daardie stadium alleen gebly op die plaas, nadat haar man ‘n paar jaar tevore oorlede is. Drie wapens is by Smith gesteel.

Sy kon later duidelik vir Masekela in ‘n uitkenningsparade uitwys. “Ek het hom in die oë gekyk. Hy het bo-op my gesit terwyl hy my wurg; ek sal dit nooit vergeet nie,” het Smith getuig.

Penning, Smith se buurman, is minder as ‘n maand na Smith aangeval terwyl hy op pad kerk toe was. Masekela, Letlalo en Chauke het hom op 17 September 2006 by sy plaashek gegryp, vasgebind en op sy bakkie gelaai. Hulle het hom ook geslaan en gedwing om hulle te vertel waar hy sy vuurwapens en geld toesluit. Nadat Penning hulle gewys het, het die drie sy kluis oopgeskiet met ‘n haelgeweer wat hulle by Smith gesteel het. Letlalo het later teenoor die polisie erken daar was nie baie geld om te verdeel nie en dat baie van die geldnote beskadig was. Hulle het toe die kerkgeld wat Penning in sy sak gehad het, sy selfoon en vier wapens gesteel.

Letlalo en Chauke is op 25 September deur die Morobeng polisie aangekeer. Tydens ondervraging het Letlalo erken dat hy en Masekela eers vir Smith aangeval het, omdat sy “oud en hulpeloos” was en daarna vir Penning. Letlalo het gesê Chauke was nie saam toe hulle Smith beroof het nie, maar wel toe hy en Masekela vir Penning gaan beroof het.

Ná Letlalo se erkenning is Masekela ook gearresteer, en saam het die drie die polisie gaan wys waar hulle al die vuurwapens wat hulle gesteel het, weggesteek het.

Die drie mans het tydens hulle verhoor onskuldig gepleit. Letlalo en Chauke het verkies om van hulle swygreg gebruik te maak, terwyl Masekela se verweer was dat die polisie vir Smith en Penning voorgesê het om hom uit te wys. Hy het ook verder gesê dat hy nooit betrokke was by die twee aanvalle nie, en nie die ander twee eers geken het nie. Al drie het ook ‘n aansoek gebring dat die saak uit die hof gegooi moet word. Die hof het hierdie aansoek van die hand gewys en gesê die bewyse teen die drie weeg te swaar teen hulle.

Verlede Donderdag is die drie mans skuldig bevind op die twee klagte van roof en een klag van die onwettige besit van ‘n vuurwapen. Hulle is onskuldig bevind op die klag van die onwettige besit van ammunisie.

Letlalo en Masekela is elk op die twee roofklagte elk tot 10 jaar tronkstraf gevonnis. Chauke is net op een roofklag skuldig bevind en ook 10 jaar tronkstraf opgelê. Aldrie is ook skuldig bevind op die klag van die onwettige besit van ‘n vuurwapen en elkeen tot vyf jaar tronkstraf gevonnis.

 

News - Date: 04 September 2014

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: