ADVERTISEMENT:

 

VV soek antwoorde by minister oor besluit

 

Die stryd rondom die naamsverandering van die dorp gaan onverpoosd voort.

Die Voorsittersvereniging (VV) bring tans ‘n hofaansoek om die minister van kuns en kultuur en die nameraad te verplig om die dokumentasie van hulle besluite aan te stuur.

Die minister van kuns en kultuur, mnr. Paul Mashatile, het gesê dat hy ‘n “weldeurdagte besluit” geneem het toe hy die VV se beswaar dat die dorp se naam van Louis Trichardt na Makhado verander is, verwerp het. Mashatile het spesifiek daarna verwys dat die dokumentasie wat ingedien is daarop dui dat die betrokke liggame aan al die vereistes van die wetgewing voldoen het, voordat hulle die naam Makhado vir hom aanbeveel het vir goedkeuring. Die minister het die VV se beswaar op 10 Mei 2012 verwerp, waarna die naam van die dorp amptelik weer Makhado geword het, hoewel die naam Makhado reeds op 14 Oktober 2011 in die Staatskoerant afgekondig is.

“Ons wil die dokumentasie sien waarop die ‘weldeurdagte besluit’ gegrond is,” het die VV voorsitter, mnr. André Naudé, op 11 September gesê. Die proses begin nou om die minister en nameraad te verplig om ‘n volledige rekord van die besluite en notules te verskaf. Die VV vra ook dat die minister en nameraad die verspilde kostes van die hofaansoek dra. Die kennisgewing van mosie is op 8 September onderteken.

Sou die minister nie kennis gee dat hy opponeer nie, word die saak op die onbestrede rol geplaas en die hofaansoek op 30 Oktober in die Gauteng Hooggeregshof in Pretoria aangehoor. Indien die minister besluit om te opponeer, word die saak (VV vs. RSA Kuns en Kultuurminister en twee ander) op die bestrede rol geplaas.

Die stryd om die dokumentasie rondom die saak te bekom, woed al die afgelope 28 maande. Die eerste noemenswaardige reaksie is in September laasjaar ontvang toe dokumentasie van 2000 bladsye die VV bereik het maar, ongelukkig vir die VV, niks bruikbaar opgelewer nie. Verder was die notules van al die belangrike vergaderings onvolledig of afwesig. In ‘n brief gedateer 13 November 2013 het die VV die minister laat weet dat hul rekord onvolledig is en al die tekortkominge daarin uitgewys en gevra dat dit reggestel word. Die VV het gesê dat hulle geskok was om slegs ‘n vae antwoord te ontvang, en dit eers op 16 April vanjaar. Tot nou toe kon die VV nog nie die ontbrekende dokumentasie bekom nie.

“Dit lyk vir my of daar chaos is. Ons weet nie of dit ‘n geval is dat hulle nie die dokumentasie het nie en of dat hulle iets wegsteek en of hulle moedswillig is nie,” het Naudé gesê.

News - Date: 19 September 2014

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

Email:

ADVERTISEMENT: