ADVERTISEMENT:

 

Jeanne-Mari en Ebba.

Ebba haar oë

 

Dit is eintlik moeilik om te glo dat Jeanne-Mari Viviers, van Makhado (Louis Trichardt), blind is.

Die Zoutpansberger het verlede Donderdag die besondere voorreg gehad om die oggend saam met die 23-jarige Jeanne-Mari en haar nuwe gidshond, Ebba, te spandeer terwyl hulle die dorp gaan verken het.

Jeanne-Mari het eintlik geen bekendstelling nodig nie. Sy is reeds goed bekend vir haar durf as ‘n blinde meisie in ‘n siende wêreld. Sy is op tweejarige ouderdom gediagnoseer met ‘n seldsame vorm van kanker, retinoplastoom. Na talle oogoperasies het Jeanne-Mari egter die sig in altwee haar oë verloor.

Ebba het wel ‘n bietjie bekendstelling  nodig. Sy is ‘n tweejarige swart Labrador wat deur die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging (SAGV) vir Jeanne-Mari opgelei is. Ebba is ook die eerste SAGV-gidshond wat Makhado (Louis Trichardt) nou haar tuiste noem.

Saam maak die twee ‘n lewenslustige span en dit was verstommend om te sien hoe goed Jeanne-Marie en Ebba hul roetes deur die dorp stap. (Die koerant moes draf om by die twee by te hou). Donderdag was maar die vierde keer wat Jeanne-Marie saam met Ebba gaan stap het. ‘n Afrigter van die SAGV, mnr. Permit Mncube, het van Johannesburg af gereis om Jeanne-Marie te help met Ebba.

Saam het hulle roetes deur Makhado (Louis Trichardt) uitgewerk wat Ebba en Jeanne-Mari moet memoriseer. Jeanne-Mari mag byvoorbeeld nie net goedsmoeds op Ebba vertrou om verby mense of hindernisse te loop nie. Sy moet kan onthou waar elke landmerk of ‘n gevaarlike hindernis op haar roete geleë is. Jeanne-Mari moet ook die heeltyd met Ebbapraat, sodat Ebba nie fokus verloor nie.

Donderdag het Jeanne-Mari die roete van ma Riana se werk, by die bloeddiens in Erasmusstraat, tot by Salon André in Kroghstraat en weer terug gestap met Ebba. Permit het net gehelp by die kruisings, want by die Krogh- en Songozwistraatkruising voor Foschini’s het Ebba vasgesteek. Sy wou nie dat Jeanne-Mari oor ‘n stormwaterdrein met ‘n los deksel loop nie. “Sien jy wat doen Ebba? Sy het dadelik agtergekom dit is los en gevaarlik en het gestop sodat Jeanne-Mari kan weet,” het Permit verduidelik.

Jeanne-Mari moes hier toe versigtig met haar voete voel oor die los deksel, en Ebba toe gerusstel dat dit veilig is om te kruis - as al die motors eers verby is. Permit het Jeanne-Mari en Ebba ook laat oefen hoe om in en uit winkels te gaan, ‘n oprit te benader en ‘n omkeer te doen, voordat dit tyd was vir ‘n welverdiende blaaskans by die bloeddiens.

Terwyl ma Riana koeldrankies en water aangedra het vir almal, het Jean-Mari bietjie meer van haar toekomsplanne met Ebba vertel. “Ek is eintlik meer opgewonde oor volgende jaar, want dan gaan ek Potchefstroom toe,” vertel ‘n stralende Jeane-Mari.

Jeanne-Mari voltooi in November vanjaar haar besigheidsgraad aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa), en het gekwalifiseer om regte te swot by die Potchefstroom Kampus van die Noordwes Universiteit (Pukke). Voor Jeanne-Marie sal begin met klasse, sal Permit saam met haar en Ebba gaan om die nuwe roetes te leer. “Ek kan eintlik nie meer wag nie,” sê Jeanne-Mari.

Wanneer die onderhoud klaar is, en Jeanne-Mari met Ebba kar toe loop, is dit nog steeds moeilik om te glo dat sy nie kan sien nie...

News - Date: 19 September 2014

Recent Articles

Search for a story:

 

Jeanne-Mari en Ebba.

Jeanne-Mari en Ebba by die kruising op die hoek van Krogh- en Songozwistraat. Ebba het gaan staan by die verkeerslig, maar wou nie met Jeanne-Mari oorloop nie omdat die dreineringsgat se deksel los is. Permit moes eers die twee help en verduidelik hoe hulle om 'n onveilige kruising moet loop.

 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: