Op 27 September het die 1978 matrieks van Hoërskool Louis Trichardt reünie gehou en vir baie van die 67 oud-leerlinge en onderwysers wat dit bygewoon het, was dit die eerste keer in 37 jaar dat hulle mekaar weer sien.
Daar is lekker saamgekuier by die Lalapanzi Hotel en baie was dit eens dat, was dit nie vir die naamplaatjies wat almal moes dra nie, dit moeilik sou wees om mekaar te herken, want die jare is maar nie vriendelik met ‘n mens as hulle aangestap het nie.
Een groot troos was dat die mans darem almal in dieselfde bootjie was ten opsigte van een aspek – almal het baie besliste tekens van 'n gryserigheid in die hare gehad, party meer as ander.
Ook mnr. Banie Vermeulen, afgetrede onderwyser van Hoërskool Louis Trichardt, en me. Cronnie Cronjé, wat steeds ná 37 jaar verbonde aan Hoërskool Louis Trichardt is as geskiedenis-onderwyseres, het die reünie bygewoon as eregaste.
'n Besonderse CD is ook vervaardig deur Elmi Fox (nooi Ferreira) wat jaarblaaie vanaf 1974 tot 1979 as elektroniese weergawes gewys het, plus 'n paar ekstra items. Hierdie CD is deur dié wat een aangeskaf het, bestempel as 'n puik produk. “Mens hoef ook net daardie jaarblaaie deur te blaai om te sien dat die jare werklik aangestap het! Voorwaar iets kosbaars wat mens baie, baie lank nou sal kan bewaar,” het Len van der Walt opgemerk.
Net voor die aandete is daar is ook ‘n spesiale oomblik van stilte gehandhaaf vir die maats wat intussen oorlede is en nie die aand kon meemaak nie.
“Die aanbied van die reünie deur Lalapanzi Hotel verdien eervolle vermelding volgens die organiseerder van die reünie, Lennie van der Walt. Die saal was pragtig opgemaak en die kos wat voorgesit is vir aandete was van hoogstaande gehalte. Lalapanzi is definitief 'n aanbevole plek vir enige funksie, en almal wat dit bygewoon het, was dit eens dat Lalapanzi baie moeite gedoen het en groot lof en dank verdien. Inge, Xanthe en span het hulle puik van hulle taak gekwyt teen baie redelike tarief en alles het seepglad verloop,” het Len gesê.
Die res van die aand is daar lekker gekuier, foto's geneem en verlore tye is ingehaal. Daar was matrieks van so ver as Australië, Zimbabwe, Kaapstad en Bloemfontein. Ná die lekker kuier was almal dit eens dat daar beslis weer ‘n reünie gereël moet word.