ADVERTISEMENT:

 

Die 66-jarige Alexander Smail is hierdie week in die Louis Trichardt Streekhof skuldig bevind aan die moorde op Cornelius Bruce Joachim (20) en Sergio Buys (21).

Smail skuldig aan moord op twee mans

 

Geregtigheid het ná jare geskied vir die Buysdorp-gemeenskap.

Die 66-jarige Alexander Smail is hierdie week in die Louis Trichardt Streekhof skuldig bevind aan die moorde op Cornelius Bruce Joachim (20) en Sergio Buys (21). Smail se borg is onmiddellik teruggetrek. Hy sal nou tot en met sy vonnisoplegging later vanjaar in aanhouding bly.

Buiten vir die twee klagte van moord waarop hy skuldig bevind is, is Smail ook skuldig bevind aan twee klagte van poging tot moord.

Smail het in Desember 2009, net voor die skietvoorval, gedreig om vir Joachim, Buys en hulle vriende, Levit Harris en Dominique Buys, te skiet. Buys het getuig dat hy daarvan oortuig was dat hulle by sy onderneming, Smails Fountain op Buysdorp, by verskeie geleenthede ingebreek het. Sy verweer was dat hy Joachim se groep gekonfronteer het, maar nie bedoel het om hulle te skiet nie. Smail het getuig dat hy blindelings skote afgevuur het, nadat een van die mans (hy kon nie presies onthou wie nie) gebuk het, en hy gedink het die man buk vir ‘n wapen. Sergio is in die kop getref en Joachim in die bolyf. Harris en Dominique het ontsnap.  

Ná die skietvoorval het Smail homself aan die polisie oorgegee en sy vuurwapen ingehandig. Smail het ook ‘n mediese verklaring ingedien, waarin hy die hof probeer oortuig het dat hy nie by sy volle verstand was tydens die skietvoorval nie.

Voor die skietery, het die mans se ouers getuig, is hulle persoonlik deur Smail gewaarsku dat hy die gereg in eie hande sal neem as hulle kinders nie ophou om sy besigheid te plunder nie. Smail het vir die ouers gesê hy is moeg gepraat met die mans, en dat die polisie hom nie meer wil help nie.

Landdros Pat Cloete het, buiten dat hy Smail se getuienis as ongeloofwaardig bestempel het, ook gesê dat dit vir hom voorgekom het of Smail se getuienis vooraf beplan en opgesê is. Cloete het ook bevind dat Smail die ouers en gemeenskap se getuienis probeer afmaak het, en die hof probeer oorreed het om eerder op sy geestestoestand te fokus.

Smail se aansoek om sy borg tot en met sy vonnisoplegging te verleng, is deur Cloete van die hand gewys. Cloete het aangedui dat Smail gevangenisstraf in die gesig staar en dat hy solank ‘n deel daarvan kan begin uitdien.

Smail se vonnisoplegging vind op 6 Desember plaas. 

News - Date: 17 October 2014

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: