ADVERTISEMENT:

 

Generic image

Staat het saak teen leraar, beslis hof

 

‘n Leraar van Louis Trichardt se aansoek om ontslag van die kriminele klagte teen hom, het verlede week in die plaaslike Distrikshof misluk.

Kol. Bez Bezuidenhout van die Makhado polisie se vuurwapenafdeling het verlede Vrydag sy getuienis in die Staat se saak teen dr. Philip Arnoldus Venter (58) voortgesit. Venter staan tereg op ‘n klag van bedrog en drie klagte wat verband hou met oortredings van die Wet op die Beheer van Vuurwapens (Wet 60 van 2000).

Venter word daarvan aangekla dat hy gedurende April 2006, onder valse voorwendsels, besit geneem het van drie van mev. Cecile Steyn se vuurwapens. Hy sou haar glo onder die indruk gebring het dat hy ‘n geregistreerde wapenhandelaar is en dat hy die nodige magtiging gehad het om die wapens in besit te neem. Dié wapens het intussen vermis geraak. Venter voer ter verdediging aan dat hy glo die wapens aan sy oorlede vriend, mnr. Tewie Wessels, gegee het om te deaktiveer gedurende 2009. Daar is egter reeds in die hof getuig dat Venter op 6 Februarie 2010 skriftelik aan Steyn sou erken het dat hy nog haar wapens in besit het.

In die brief, wat deur Venter onderteken is, staan daar geskrywe: “Ek het bevoegdheid om in vuurwapens en ammunisie te handel (914). Ek het wapens ook op SAPD vorm 539.”

Bezuidenhout het getuig dat Venter nooit as ‘n wapenhandelaar geregistreer was nie of enige magtigings- of bergingspermitte gehad het vir Steyn se wapens nie. Venter het net ‘n bevoegdheidsertifikaat gehad, omdat hy in daardie stadium in die proses was om Turners, ‘n plaaslike wapenhandelaarsonderneming, te koop. Dié koop het deur die mat geval, en die bevoegdheidsertifikaat is gekanselleer.

Nadat Bezuidenhout klaar vir die Staat getuig het, is hy deur Venter se regverteenwoordiger, adv. Neil Duvenhage, kruisondervra. Duvenhage het van meet af probeer om Bezuidenhout so ver te kry om te erken dat die plaaslike polisie se wapenkantore in ‘n toestand van totale wanorde was en steeds is.

Duvenhage het verwys na ‘n stapel 539-aansoeke wat Venter gedurende 2006/7 vir Bezuidenhout gebring het om te hernu, voordat die destydse amnestie tydperk op die uitreik van permitte sou verval het. Hierdie aansoeke is afgekeur, omdat Bezuidenhout se voorgangers in die Makhado Polisie die dokumentasie nie behoorlik voltooi het in die aansoektyd 2006/7 nie. “So meneer, ek wil dit aan u stel dat die offisiere wat daar gewerk het voordat jy daar gekom het, nie hulle werk behoorlik gedoen het nie,” het Duvenhage aangevoer. “Daar was ernstige beswaar toe ek gesê het die stelsel [wapenafdeling] is chaoties; miskien nie chaoties nie, maar dit was nie behoorlik gedoen nie - dit was heel duidelik.”

Duvenhage het verder aangevoer dat me. Zenta Wessels, oorlede Tewie se eksvrou en eksekuteur van sy boedel, so ontevrede was met die diens wat sy ontvang het, dat sy ‘n klag van korrupsie teen Bezuidenhout by die Onafhanklike Polisie-ondersoekende Direktoraat ingedien het. Zenta, het Duvenhage aangedui, sal kom getuig oor hoe Bezuidenhout die wapens in Tewie se boedel hanteer het en nie die wet daarop toegepas het nie.

Ná Bezuidenhout klaar getuig het, het die Staat sy saak gesluit, waarop Duvenhage ‘n aansoek gebring het vir ontslag. Die rede, het Duvenhage gesê, is dat die Staat nie behoorlike bewyse teen Venter het nie. Derhalwe, het Duvenhage aangevoer, sal die Staat op Venter se getuienis tydens kruisondervraging steun om hulle saak te bewys, wat daartoe kan lei dat Venter homself moontlik kan inkrimineer.

Die hof het egter Duvenhage se aansoek om ontslag van die hand gewys. Daar is bevind dat die Staat wel 'n prima facie saak het en aanbeveel dat die verdediging moet voortgaan met hul getuienis. Venter se saak is uitgestel tot 15 Januarie 2015, waarna Zenta, asook mnr. Peet Visser, vir Venter sal kom getuig.

News - Date: 21 November 2014

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: