ADVERTISEMENT:

 

Een van die beeste se eienaars het Woensdagoggend 'n tru-grawer gehuur, sodat al die karkasse van dooie beeste wat oor die plantasie versprei lê, begrawe kan word.

Beeste vrek op strepe maar oorsaak onbekend

 

Die ondraaglike stank van ontbindende karkasse hang deesdae in die lug by die Hanglip-bosbouplantasie buite Louis Trichardt.

Hierdie eens gewilde plek vir piekniekgangers, bergfietsryers en stappers, word nou deur baie vermy. Die afgelope week het daar bykans om elke hoek en draai ‘n dooie bees gelê in verskillende stadiums van ontbinding.  

Die ondraaglike situasie is deur gereelde besoekers aan die plantasie onder dieZoutpansberger se aandag gebring. Meeste van die karkasse het langs bergfietsroetes gelê.

Buiten vir die reuk was daar ook jong kalfies wat ma-loos langs die roetes gedwaal en gebulk het. “Ek het sommer gehuil toe ek die kalfies sien. Wat gaan van hulle word, of is daar iemand wat na hulle gaan kyk?” het ‘n bewoë me. Angela Versari aan dieZoutpansberger gevra.

Tydens meer as een besoek aan die plantasie die afgelope maand het die koerant op verskeie karkasse afgekom. Een van die ontbinde karkasse het in die stroom wat uit die plantasie na die dorpsdam vloei, gelê.

Aanvanklik is net een of twee dooie beeste opgemerk. Stephan Janse van Rensburg was die eerste om drie dooie beeste aan te meld, nadat hy begin November saam met maats gaan fietsry het. Sedertdien was daar elke week nuwe karkasse, en Maandag het lede van Hoërskool Louis Trichardt se bergfietsspan gesê dat hulle in totaal al 13 karkasse getel het.

In ‘n poging om uit te vind wie of wat verantwoordelik is vir die beeste se sterftes, het dieZoutpansberger begin om na die diere se eienaars te soek. Daar is vasgestel dat nie al die beeste aan dieselfde eienaar behoort nie. Dié trop beeste behoort aan vier verskillende eienaars. Meer as die helfte behoort aan ‘n oud-polisieman en ‘n gesondheidsinspekteur van die Makhado Munisipaliteit. Hulle beeste wei nie saam met die beeste van Mpephu-stat bo-op die berg nie.

Die koerant het by die bestuur van die plantasie, asook die plaaslike staatsveearts se kantore en die Departement van Gesondheid, probeer uitvind of die beeste dalk gevrek het van ‘n aansteeklike siekte, en watter gesondheidsrisiko die ontbindende karkasse, wat nie verwyder word nie, vir mense inhou.

Geen van die bogenoemde instansies het ‘n amptelike klag ontvang rakende die beeste nie. Daar is wel later, met die ingryping van die plaaslike dierebeskermingsvereniging (DBV), meer lig gewerp op die saak.

Die DBV het die koerant Woensdagoggend vergesel na die beeskraal in die plantasie, waar ‘n ander eienaar, mnr. Lucas Mabalanganye, met die hande in die hare gekry is.

Mabalanganye het binne ‘n week 12 beeste verloor. “Ek weet nie meer wat om te doen nie! Ek het medisyne vir hartwater by die veearts gekry, maar my beeste bly vrek. Ek het raad gevra, en die veearts het gesê ek moet vitamiene en voer gee ... ek het baie verloor,” het Mabalanganye gesê.

Mabalanganye was toe juis besig om al die karkasse bymekaar te maak om te begrawe met ‘n tru-grawer wat hy gehuur het. Hy was ook besig om voer uit te sit vir sy ander beeste, en surrogaatmelk vir drie weeskalfies wie se ma’s ook gevrek het. Volgens Mabalanganye weet hy van 25 beeste wat al gedurende November gevrek het.

Op aanbeveling van senior DBV-inspekteur mnr. Lawrence Khodobo het Mabalanganye ook Woensdag die sterftes aangemeld by die staatsveearts, sodat nadoodse ondersoeke gedoen kan word. Mabalanganye se beskikbare geld het opgedroog met die onvoorsiene onkoste van al die medisyne wat hy aangekoop het, en hy was nie bewus dat die staatsveearts hom gratis kon bystaan nie. Hy het onderneem om terugvoer te gee oor die oorsaak van die beeste se dood sodra die ondersoeke afgehandel is.

News - Date: 28 November 2014

Recent Articles

Search for a story:

 

Beeste het sedert die begin van November op 'n streep gevrek. Hierdie karkas is in die rivier langs die Slangpad-fietsroete afgeneem op 11 November, nadat klagtes ingestroom het oor die walglike reuk in die plantasie.

 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: