ADVERTISEMENT:

 

Tannie Lettie en oom Naas Pohl, wat vanjaar hul 72ste huweliksherdenking gevier het. 

72 jaar van getroude lewe wil gedoen wees!

 

Sewe dekades, meer as 'n halfeeu of amper ‘n eeu … dit maak nie saak hoe mens daarna kyk nie, maar 72 jaar se getroude lewe is ‘n mylpaal.

Dit is hoeveel jare oom Naas (96) en sy wederhelfte tannie Lettie, 'n nooi Els (90), getroud is. Die egpaar, wat al amper net so lank in Louis Trichardt bly, het in Januarie dié besonderse mylpaal gevier. Deur die jare het hulle sy aan sy gewerk, swaargetrek, deurgetrek en ook diep spore in die gemeenskap getrap.

Hulle verhaal het begin toe oom Naas as ‘n jongman vir tannie Lettie in die Vrystaat ontmoet het. Oom Naas wou nie sê of hulle as jong paartjie nog met ‘n opsitkers na mekaar gevry het nie, maar, sê tannie Lettie, “die ou mense was baie streng gewees.”

“Hulle het kort-kort gepla, en gekyk as dit te stil word,” vertel sy met ‘n lag. Meer wou hulle nie uitlap nie.

Presies tien jaar na hul huwelik (op 23 Januarie 1943) verhuis die egpaar en hulle drie kinders, Attie, Philip en Lynette, na Louis Trichardt. In die jaar 1953 staan oom Naas se kop Alldays toe, met planne om ‘n kafee daar oop te maak. Gelukkig ontmoet hy vir Roelf Steyn, wat later ‘n boesemvriend geword het, wat hom oortuig om die Milkbar Kafee hier in Louis Trichardt te koop. Die kafee was min of meer geleë in die omgewing van die huidige Edgars in Songozwistraat.

“Ek het gelukkig toe al ‘n paar jaar ondervinding gehad in die kafeebedryf, maar ons moes maar hard werk. Jy weet, ‘n mens het ‘n gesin waarvoor mens kos op die tafel moes sit, en dit was maar werk, werk, werk,” vertel oom Naas.

“Ja,” voeg tannie Lettie by, “party dae het mens maar dikbek vir mekaar in die winkel rondgeloop, maar werk het ons dit maak werk.”

Hulle harde werk het  vrugte afgewerp en ‘n paar jaar later het oom Naas die ou Great North Kafee (waar Absa nou is) oorgekoop.  Selfs vandag nog is daar inwoners wat die kafee onthou, want oom Naas het daar loshande die smul-lekkerste pasteie verkoop.

In 1959 open hy Permac droogskoonmakers (wat vandag nog bestaan) en in 1966 begin hy en sy oudste seun, Attie, Robot Elektries langs die droogskoonmakers. Saam het hulle van die besigheid ‘n sukses gemaak, en dit was vir die egpaar ‘n hartseer terugslag toe Attie in 'n motorongeluk dood is gedurende 1986.

Die droogskoonmakers het oom Naas, soos wat hy nader aan aftree geraak het, verkoop. In 1993 het sy kleinseun, ook ‘n Naas, dieselfde besigheid weer teruggekoop en bestuur dit vandag nog.

Al dié wel en weë, hier aan die voet van die Soutpansberge, is dan grotendeels waaraan oom Naas en tannie Lettie die sukses van hulle huwelik toe skryf. “Ons moes hard saam werk, daar was nie baie tyd vir baklei nie, maar ons het nooit kwaad vir mekaar gaan slaap nie,” sê tannie Lettie.

 

News - Date: 30 January 2015

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: