ADVERTISEMENT:

 

Hierdie vier "jong kinders", het prokureurs gevra, moet vrygelaat word op borg. Al vier word daarvan beskuldig dat hulle in November verlede jaar 'n Swartwitpens, ter waarde van R600 000, vankant gemaak het.

Prokureur vra borg vir vyf - soos vir Pistorius

 

Wat het die veroordeelde atleet Oscar Pistorius in gemeen met onwettige jag?

Tydens ‘n borgaansoek vir vyf vermeende wildstropers het ‘n plaaslike prokureur, mnr. Matome Chidi, die atleet se saak as voorbeeld aangehaal. Hy het Maandag by die Louis Trichardt Distrikshof gepleit dat sy kliënte op borg vrygelaat word, net soos Pistorius aanvanklik vrygelaat is.

Chidi het namens vyf mans, wat gedurende November verlede jaar aangekeer is vir die onwettige jag van ‘n Swartwitpensbul, opgetree.

Patrick Mashabathakga (40), Rapetswa Mpho (21), Ricki Mphilo (24), Khuthatso Mathabatha (24) en Raymond Moloko Mothema (18) is glo op heterdaad betrap waar hulle besig was om die bok te slag. Die bok se waarde word beraam op R600 000, en het behoort aan mnr. Fritz Eloff wat in die Bandelierkop-area boer.

Tydens die borgaansoek was daar ‘n groot groep boere teenwoordig. Hul boodskap was duidelik: Genoeg is nou genoeg! Hulle het die hoop uitgespreek dat die mans in aanhouding sal bly, totdat die hofsaak afgehandel is.

Die koerant kon bevestig dat die Makhado Polisie se veediefstaleenheid die moontlikheid ondersoek dat die vyf mans verbind kan word met verskeie ander klagtes van onwettige jag in die Bandelierkop-area. 

Tans staar die vyf klagtes wat verband hou met die jag en steel van ‘n beskermde spesie in die gesig. Volgens die polisie kan daar nog ‘n klagte bygevoeg word. Tydens die mans se arrestasie is daar velle van meer as een boksoort en nog vleis by die plek gekry waar die mans glo die Swartwitpens geslag het.

Bewysstukke sluit in beeldmateriaal wat glo wys hoe die mans die Swartwitpens vang en doodmaak. Die beeldmateriaal is afkomstig van ‘n strikkamera wat boere opgestel het, nadat hulle te veel wild en beeste moes afstaan aan stropers. 

Die aand wat die Swartwitpens gedood is, het die Bandelierkop plaaswag saamgespan en spore gevolg. “Hierdie is die een goeie saak wat ons voel ‘n kans staan op suksesvolle vervolging,” het mnr. Keith Ball ná die tyd aan die Zoutpansberger gesê.

Alhoewel die vyf se borgaansoek Maandag afgehandel is, het die hof uitspraak weerhou tot Woensdag. Chidi het geargumenteer dat hulle “kinders van die gemeenskap is” wat nie vir ‘n onbepaalde tyd aangehou kan word op klagtes wat die Staat “nie kan bewys nie.”

Teen druktyd was die hof se uitspraak nog nie bekend nie.

News - Date: 30 January 2015

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: