ADVERTISEMENT:

 

Dit was duidelik dat die N1 soms deur die sirkel, in stede van óm die sirkel, gaan.

Nuwe N1-sirkel besig om op ramp af te stuur

 

Omstandighede by die nuwe verkeersirkel net suid van Louis Trichardt is besig om op 'n ramp af te stuur.

Hierdie sirkel by die Elim-kruising sowat 5 km buite die dorp is in gebruik geneem aan die einde van November 2014. Sedertdien was daar al amper meer as 100 ongelukke.

Die Zoutpansberger het verlede Vrydag ‘n vinnige besoek aan die sirkel gebring, en dit was duidelik dat sommige padgebruikers op die N1 soms deur die sirkel, in stede van óm die sirkel, gaan. Die eiland binne-in die sirkel het amper soos ‘n skrootmetaalwerf gelyk, met verskeie motorbuffers, wieldoppe en plat verkeerstekens wat die wêreld vol lê.

Die koerant se besoek het gevolg nadat daar verlede Donderdag, 26 Februarie, sewe motorongelukke in ‘n kort tydjie na mekaar by die sirkel aangemeld is. Volgens ‘n ingeligte bron, wat graag anoniem wil bly, is dit omdat die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (SANP) nie hul elektrisiteitsrekening betaal het nie.

Die SANP het sedert November hul eie agent aangestel wat verantwoordelik is vir die onderhoud- en instandhoudingswerk by die sirkel. Sedertdien het hulle nie hul elektrisiteitsrekening by die Makhado Munisipaliteit vereffen nie, en toe die rekening by die R19 000 kerf kom, het die munisipaliteit die ligte afgesit - die spreiligte wat vir motoriste in die aand moet waarsku van die sirkel.

Mnr. Jack Oosthuizen van die 3 Mile padstalletjie by die sirkel, sê daar is maklik meer as 10 ongelukke in ‘n week as die ligte af is en net drie tot vier as die ligte aan is. Motoriste sien nie die sirkel in die aand as dit nie verlig is nie. Hy sê hy het sedert Augustus verlede jaar meer as ‘n 100 ongelukke by die sirkel getel.

Die koerant verneem die munisipaliteit sukkel al lank met die SANP. Eers het die munisipaliteit gekla dat hulle die ligte dag en nag laat brand. Die munisipaliteit het later self ‘n kontrakteur aangestel om ‘n dag-en-nag skakelaar te installeer om elektrisiteit te bespaar.

Die SANP het by navraag erken daar is ‘n paar “administratiewe verskille” tussen hulle en die Makhado Munisipaliteit. Meer as dit wou hulle nie uitwei nie. Die algemene bestuurder van kommunikasie by SANP, mnr. Vusi Mona, het Woensdag bevestig dat die agterstallige rekening vereffen is. Hy het nie gesê wanneer die SANP die rekening vereffen het en of daar ‘n afbetalingsooreenkoms met die munisipaliteit aangegaan is nie.

Intussen is die elektrisiteitstoevoer na die sirkel al verlede Vrydag herstel, nadat lede van die gemeenskap ook die munisipaliteit gaan vra het om vir SANP uitstel te gee. Waarskuwingstekens wat deur motors omgery is, was teen druktyd nog nie vervang nie.

News - Date: 06 March 2015

Recent Articles

Search for a story:

 

Een van die spreiligte by die verkeersirkel het ook al in die slag gebly, nadat 'n voertuig hard daarmee kennis gemaak het.

Dit was duidelik dat die N1 soms deur die sirkel, in stede van óm die sirkel, gaan. Wrakstukke was ook oral te sien.

Een voertuig wat nie betyds spoed kon verminder vóór die sirkel nie, het etlike meters deur 'n plaas se heining getrek wat aan die suidelike punt van die sirkel grens.

 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: