ADVERTISEMENT:

 

"Kyk hoe lyk die water wat ons moet drink," sê me. Belinda van Wyngaardt, wat dié foto by 'n woning in Reitzstraat geneem het.

Versuim om te betaal dalk rede vir vuil water

 

As dit nie vuil water is nie, is dit geen water.

Inwoners moes sedert verlede week weer inderhaas houers uithaal, nadat krane in Louis Trichardt drooggeloop het. In party gevalle was die water so van die modder dat dit nie eens bruikbaar was vir die mees basiese dinge soos bad en wasgoed nie.

Die rede is glo ‘n geskil tussen die Vhembe Distriksmunisipaliteit (VDM) en die Makhado Munisipaliteit (MM) oor ‘n onbetaalde elektrisiteitsrekening. Die VDM is verantwoordelik vir watervoorsiening aan Louis Trichardt en die omliggende areas, maar omdat hulle glo nie hul rekening betaal het nie, is die kragtoevoer na hul waterpompe deur die MM afgesny.

Die Louis Trichardt-tak van die burgerregtelike organisasie, AfriForum, het ingegryp nadat die watervlakke in die Mowkop reservoir tot 25% gedaal het. ‘n Prokureursbrief is gekry om die elektrisiteitstoevoer weer aan te sluit, sodat daar weer water gepomp kon word. Volgens plaaslike AfriForum voorsitter mnr. Wally Schultz het die MM inwoners tegemoetgekom ná AfriForum se prokureurs ‘n aanmaningsbrief uitgestuur het. “Die Makhado Munisipaliteit het laat weet dat hulle die elektrisiteit weer tydelik sal aansit, sodat inwoners nie gestraf word sonder water nie,” het Schultz gesê.

“Die mense betaal vir die dienste wat vir hulle gelewer word. Die probleem kom by staatsinstellings wat nie daardie fondse gebruik vir die doel waarvoor dit ingevorder is nie. Hierdie bakleiery is besig om waterdienslewering te stuit en dis onaanvaarbaar,” het mnr. Morné Mostert, Limpopo koördineerder vir AfriForum, bygevoeg.

Schultz en Mostert het gesê dat AfriForum die watersituasie fyn sal dophou en, as daar nie vinnig ‘n verbetering kom nie, regstappe sal volg.  

Intussen het inwoners wat aan die onderkant van Rissikstraat woon vir die afgelope twee weke las met vuil water. “Kyk hoe lyk die water vandag wat veronderstel is om gedrink te kan word,” het ‘n ontstelde me. Belinda van Wyngaardt die koerant laat weet.

Navrae gerig aan die VDM hieromtrent is teen druktyd nie beantwoord nie. 

 

News - Date: 13 March 2015

Recent Articles

Search for a story:

 

Voorsitter van die Louis Trichardt tak van AfriForum mnr. Wally Schultz by die Woodstock-boorgat, waar die Makhado Munisipaliteit die elektrisiteitstoevoer afgesny het deur die skakelaars te verwyder. Foto verskaf.

 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: