ADVERTISEMENT:

 

Onmin oor N1-jaery

 

‘n Berig in verlede week se uitgawe van die Zoutpansberger, wat onwettige straatrenne uitgelig het, is met groot bekommernis sowel as fel kritiek begroet.

Die koerant het hierdie week kommentaar ontvang vanaf die Limpopo Departement van Paaie en Vervoer waarin hulle met skok verneem het van dié onwettige optrede. Volgens die departement se woordvoerder, mnr. Setshaba Selahle, was provinsiale verkeersbeamptes in die omgewing nie bewus daarvan nie. “As ons geweet het, sou ons die mense onmiddellik vasgevat het,” het Selahle gesê.  “Weet hierdie mense dat hulle tronk toe kan gaan as hulle iemand doodry?”

Inwoners het ook op die berig gereageer en hul bekommernisse gedeel op die koerant se Facebook blad. “Wel, my persoonlike opinie, die speletjie gaan op ‘n ramp afstuur. Baie deelnemers, asook onskuldige padgebruikers, gaan hulle lewens verloor. Stop dit so gou moontlik,” het Retha van Heerden geskryf.

“Ek dink dis ‘n probleem. Daar gaan moeilikheid uitbroei. Iemand gaan hulleself nog afskryf. Kinders besef nie wat is die gevare nie,” was Janine Boyd Becker se inskrywing.

“Daar sal altyd ‘n gedysery wees tussen die jong klomp, daar moes lankal ‘n baan gebou gewees het soos in Pburg waar (jy) kan kyk wie se kar die vinnigste is [sic],” het Tienie Viljoen laat weet.

“Okay wat kan ons dan doen??? Hier is nx wat mens in die dorp kan doen nie, we’ll ek verkies dit eerder bo als wat aan gaan in die dorp b.v kuier plekke drugs en daai ander goed? Of as julle van iets beter weet om te doen laat weet my!!! [sic]” was Frikkie Enslin se kommentaar, wat deur Sarie Enslin beaam is. “Ek dink nie dis 'n probleem solank die mense nie drink en bestuur," het sy gesê.

Die groep jaers en hul ondersteuners was ontstoke oor die berig. “Julle is besig om ‘n onnodige bohaai op te skop met die Louis Trichardt racing,” het Zelmari Lombard die koerant laat weet.

Louis Trichardt Racing is ‘n Facebook-blad waarop die renjaers openlik die plek en tye van opkomende wedrenne adverteer en mekaar uitdaag. Een van hierdie blad se administreerders, me. Nadine Botha, het kort nadat die berig verskyn het laat weet dat “baie van die koerantberig se inligting foutief was”. Sy en die res van die blad se gebruikers het teen die koerant uitgevaar omdat hulle wedrenne nou stopgesit is.

Nadine is hierdie week telefonies in die hande gekry met ‘n versoek van die koerant om die “foutiewe inligting” reg te stel. Sy het onderneem om terug te skakel met kommentaar. Die koerant het weer opgevolg op haar onderneming met verdere oproepe, boodskappe en SMSe, maar teen druktyd is geen antwoord of enige persvrystelling van haar ontvang nie.

Gewoonlik het die groepie se wedrenne plaasgevind op die N1 tussen die Makhado Crossing en die Eltivillas kruising en volgens die koerant se inligting sou daar dié Sondag weer gejaag word. Dié geleentheid is egter afgestel ná ‘n ongeluk daar te veel aandag van die polisie gelok het.

Intussen het die Makhado Munisipaliteit laat weet dat hulle kennis geneem het van die onwettige resies, en dat daar geen toestemming aan die jaers gegee is om op ‘n ander pad hul resies te hou nie. “Hulle moet toestemming verkry van die munisipaliteit voordat hulle ‘n reisies kan hou op een van ons paaie,” het munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi Dinsdag gesê.

Die verkeersdepartement het ook gevra dat die publiek sulke wedrenne aan hulle klagtekantoor rapporteer by die noodnommer 0800 006694. 

News - Date: 27 March 2015

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: