ADVERTISEMENT:

 

Mia kort nadat sy onder die enjinkap uitgehaal is. Dit is steeds ongelooflik om te dink dat hierdie klein brakkie die rit vanaf Louis Trichardt tot in Modjaddjiskloof bo-op die enjin oorleef het. Foto verskaf.

Een gelukkige brakkie

 

Klein Mia, ‘n vyfjarige miniatuur Yorkie, kan haarself sekerlik reken as een van die gelukkigste honde ooit.

Skaars ‘n baksteen hoog het hierdie klein brakkie op Saterdag, 28 Maart, haar eienaar en dié se vriendin se monde laat oophang in absolute verbasing en ongeloof.

Carol Short van Modjadjiskloof het dié dag besluit om by haar vriendin, Leana Reichel, net buite Louis Trichardt (Rondebosch) aan te doen, nadat sy ‘n vrag lusern vir haar perde kom oplaai het.

Ná ‘n kort kuier is ‘n seil oor die lusern getrek om die dreigende reën weg te hou. By die bakkie het Leanda nog ‘n opmerking gemaak oor die bytmerke, duidelik die van ‘n groot hond, aan die spatplaat voor die voorwiel. Carol was daarvan oortuig dit was te danke aan haar onnutsige Duitse Herdershond, want dié het reeds ‘n reputasie van bankkaarte eet. Met die is Carol daar weg.

Carol het rustig gery, want die vrag was swaar. By Bandelierkop het sy stilgehou om die bande te pomp en brandstof in te gooi vir die finale trek huis toe.

Terug in Modjadjiskloof is Carol eers na die skool waar sy werksaam is en haar perde loop, om die lusern af te laai. Dit was ‘n groot operasie, want die ou bale moes eers geskuif word, die vloer gevee word en dan eers kon daar afgelaai word.

Die heel tyd het Carol egter iets by haar bakkie gehoor. Dit het geklink soos ‘n “sprinkler”, maar sy het die geluid afgemaak as laf aangesien sy geweet het die skool het nie so ‘n stelsel nie. Later dink sy: Dit klink net soos ‘n toera wat deur iets gepla word. Dié diertjie kan mos verskriklik tekere gaan as hy gepla word – daardie tsji-tsji-tsji.

Klaar afgelaai het sy weer in haar bakkie geklim en huis toe gery. Toe sy by haar hek stop, hoor sy weer die “toera”. Onmiddellik was haar gevolgtrekking dat daar iets met die bakkie fout is. Sy het die bakkie afgesluit en dadelik het die geluid opgehou, net om weer te begin. Sy het met 'n spoed uit die bakkie gespring en die enjinkap oopgepluk.

Carol kon haar oë nie glo nie, want daar onder die enjinkap, ingewig by die lugsuiweraar, het klein Mia gelê en na haar asem gesnak. “Wat maak jy hier, Mia?!” was Carol se uitroep.

Gelukkig was daar ‘n kraan naby en Carol het dadelik vir Mia water gegee. Klein Mia kon omtrent nie genoeg water drink nie. Intussen het die skoolhoof ook daar stilgehou, nadat hy die oop enjinkap gesien het en gedink het Carol het 'n probleem. Ook hy het verstom gestaan toe hy die hygende hondjie sien.

By die huis, sê Carol, was haar twee Duitse Herdershonde baie opgewonde oor die “muis” was sy huis toe gebring het. Dié twee het net ‘n haastige “hallo” gekry, want Carol het besef Mia het hitte-uitputting en haar lyfie moes dadelik afgekoel word. Onseremonieel is Mia onder ‘n kraan water gehou, totdat haar temperatuur gedaal het. “Haar eerste treetjies was maar wankelrig, maar toe is sy reg,” sê Carol.

Carol het vir Leanda geskakel met die nuus dat klein Mia saam met haar in Modjadjiskloof aangekom het. “Jy speel, vriendin!” was Leanda se reaksie. Sy wou Carol nie glo nie en het eers besef haar vriendin praat die waarheid toe sy Mia roep en sy nêrens te vinde was nie. “Ek het maar aangeneem dat sy onder die sitplek in Carol se bakkie ingeklim het. Ek kon nie glo toe Carol my vertel waar sy haar gekry het nie,” sê Leanda.

Leanda het onmiddellik deurgejaag om haar en haar man, Julius, se een “kind” te gaan haal. Op pad het sy probeer sin maak van hoe dit kon gebeur het. Haar gevolgtrekking was dat Mia waarskynlik agter ‘n muis aan in die enjin geklim het en dat die bytmerke wat sy gesien het, dié van haar Rottweilers was wat natuurlik vir Mia wou help met die jagtog.

Terug by haar eienaar was klein Mia nog nie heeltemal lekker nie. Sondag het Leanda opgemerk daar is bietjie bloed in Mia se urine. Maandag het die bloed meer geword, terwyl Mia se magie ook heel omgekrap was. Dadelik is sy na Nada’s Ark gebring vir behandeling. ‘n Drip in die been en ‘n goeie nag se rus by die veearts het haar goed gedoen, en ‘n dag later was Mia weer haar eie self. “Ek kan nog steeds nie glo sy het van hier tot in Modjadjiskloof bo-op ‘n enjin saamgery en niks oorgekom nie,” sê Leanda.

News - Date: 10 April 2015

Recent Articles

Search for a story:

 

Die sirkel toon aan waar klein Mia haar onder die enjinkap ingewig het. Foto verskaf.

Klein Mia se baas, Leanda Reichel, het verlede Dinsdag weer haar hande volgehad met haar “kind” ná ‘n besoek aan die veearts.

 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: