ADVERTISEMENT:

 

Mnr. Louis Cilliers, nuwe hoof van Hoërskool Louis Trichardt.

Dissipline is nuwe hoof se eerste prioriteit

 

Hoërskool Louis Trichardt het ‘n nuwe kaptein in die stuurkajuit en hy is entoesiasties oor die rigting waarin hy, sy personeel en beheerliggaam die skool wil stuur.

Mnr. Louis Cilliers het Maandag as nuwe skoolhoof by die skool begin. Hy het die leisels oorgeneem by mnr. Theo Muller, wat sedert Oktober 2013 as waarnemende hoof opgetree het. Die Zoutpansberger het Dinsdagoggend by Cilliers gaan inloer om bietjie nader kennis te maak.

Cilliers het gesê hy het ‘n ongelooflike eerste dag by die skool gehad. “Gister was vir my ‘n fantastiese dag. Die hoofleiers het ‘n mantel om my skouers geplaas – ‘n mantel van leierskap en beheer neem en die nuwe hoof wat dit nou dra,” het Cilliers gesê.

Cilliers maak geen geheim daarvan dat hy ‘n Christen is en daadwerklik die skool volgens Christelike beginsels sal bestuur nie.

As eerste prioriteit, sê hy, sal sy klem wees op dissipline by die skool en daar is reeds verskeie prosedures in plek gesit om gebrekkige dissipline aan te spreek. “Ek het ‘n zero-toleransie beleid wat dissipline betref. Geen, maar geen, wangedrag sal geduld word nie,” het Cilliers gesê.

Vir Cilliers is die kind die belangrikste. “Sonder kinders is daar geen skool nie. Ek sê altyd ek wil veranderinge maak en daardie veranderinge moet tot voordeel van die kind wees. So wil ek graag ‘n verskil maak in elke kind se lewe. As onderwysers vertrou ons dat ons ‘n verskil maak, maar jy sien dit nie altyd nie,” het Cilliers gesê.

Wat akademie betref, is Cilliers ook rigied in sy benadering. “Onthou, ons is in die skool eerstens vir die akademie. Alle kinders moet akademies presteer en ek wil hê elke kind moet leer om verantwoordelikheid te neem wat hulle kan deurtrek na hul volwasse lewe,” het Cilliers gesê.

Sport is, soos akademie, eweneens vir Cilliers belangrik. Dit, het Cilliers gesê, gee aan onderwysers en kinders die geleentheid om mekaar op ‘n ander meer informele vlak te leer ken. “In die klaskamer word die kinders onderrig, maar op die sportveld ontvang hulle ‘n opvoeding … Ons het almal verskillende talente en kinders moet leer om mekaar se talente te respekteer en mekaar te ondersteun,” het Cilliers gesê.

Om by sy mikpunt uit te kom van goeie akademiese, skool- en sportdissipline, wil Cilliers baie aandag gee aan die waardesisteem onder kinders. “Ek gaan meer klem lê op die uitbou van die bestaande waardesisteem,  sodat die reël eintlik verval en kinders volgens waardes lewe. Rome is egter nie in een dag gebou nie en dit gaan tyd vat om waardes te vestig,” het Cilliers gesê.

Om hierdie waardes te vestig, het Cilliers gesê, sal ‘n spanpoging verg vanaf die skool sowel as van die ouers se kant. “Dit is belangrik dat ouers vrywillig hierby betrokke raak. Van die huis se kant af moet daar ook waardes gevestig word,” het Cilliers gesê. Sy einddoel hiermee is om te verseker dat die skool, kinders en ouers as ‘n eenheid saamwerk. “Ons moet hande vat sodat ons saam op ons skool en dorp kan trots wees. Ons moet vir onsself kan sê dat ons [en ons kinders] nêrens anders wil wees nie, want hier gebeur dinge!” het Cilliers gesê.

Cilliers het aan die Universiteit van Pretoria studeer en is tans besig met sy meestersgraad in opvoedkundige bestuur, beleid en die wetlike aspekte daarom. Tot voor sy aanstelling as hoof by Hoërskool Louis Trichardt, het hy as adjunk-hoof opgetree by die Mokopane English Combined School, ‘n privaatskool. Hy is getroud en sy vrou, Liandra, is tans steeds onderwyser by Hoërskool Piet Potgieter (Mokopane). Sy en die egpaar se drie dogters, Laura-Lee (Graad 10), Linita (Graad 8) en Renske (Graad 2), sal eersdaags by hom aansluit, sodra Liandra ‘n oorplasing na Louis Trichardt kry.

Maar waarom Hoërskool Louis Trichardt? “Ek is iemand wat altyd vorentoe wil gaan. Ek het ‘n geleentheid gesien en aansoek gedoen vir die pos, en hier is ek,” het Cilliers gesê. Hy is reeds beïndruk met wat hy op sy eerste dag hier ervaar het. “Hier is ‘n sterk personeelkorps wat enige tyd daardie ekstra myl sal loop. Die beheerliggaam is ook sterk, want hulle wil betrokke wees. Ek sien ook die kinders is positief en opgewonde,” het Cilliers gesê.

Cilliers het ‘n oop-deur beleid en het ouers uitgenooi om enige tyd met hom te skakel, hetsy met kritiek of positiewe terugvoer. “Ek is in my leierskapstyl baie demokraties en waardeer ander mense se insette,” het Cilliers gesê.

News - Date: 17 April 2015

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: