ADVERTISEMENT:

 

Lewer dienste of voertsek!

 

Voertsek en f#$%kof of gee ons diens. 

Dit was die ultimatum van honderde betogers aan die Makhado Munisipaliteit tydens ‘n optog in Louis Trichardt verlede Vrydag. Met sulke dreigemente was dit ook geen wonder dat daar vrese was dat die skare kon handuit ruk nie.

Besigheidseienaars in Songozwi- en Kroghstraat is selfs vanuit die Kaap gewaarsku dat die skare oproerig gaan raak en op ‘n vernietigingsveldtog is. Die waarskuwing is ook wyd versprei op Facebook, en het soos ‘n veldbrand deur Louis Trichardt versprei dat hordes mense in busse vanaf Elim aangery word, en as hulle klaar na die munisipaliteit marsjeer het, gaan hulle die buitelanders uit die dorp jaag en besighede plunder.

Volgens Hannelie van Breda, by FotoFirst in Songozwistraat, het ‘n familielid in die Kaap haar gebel nadat die storie op Facebook gelees is.

Hannelie sê sy was egter nie bang vir die skare nie, maar was ‘n bietjie meer oplettend. “Die mense was baie rustig, hulle het nie eers na ons kant van die straat gekom nie." Ander besighede het wel hulle deure toegemaak totdat die skare verby is om te verhoed dat opportunistiese betogers dalk hulleself help aan winkelvoorraad.

Die eienaar van SpecSavers, Sanri du Plessis, sê sy het ook die gerugte gehoor, en by die polisie seker gemaak oor die gerugte. Nadat die polisie bevestig het dat daar nie sprake is van ‘n xenofobiese aanval nie, was sy gerus en was dit besigheid soos altyd. Sy het ook haar deure gesluit totdat die skare verby was as ‘n ekstra voorsorgmaatreël vir haar kliënte.  

Die betogers was inwoners van Waterval, wat deur lede van Suid-Afrikaanse Burgerlike Organisasie (SABO), ondersteun is.

Behalwe vir ‘n griefskrif wat hulle oorhandig het, eis die Watervallers dat die burgemeester van Makhado, rdl. David Mutavhatsindi, en die munisipale bestuurder, mnr. Sakkie Mutshinyali, onmiddellik uit hulle poste moet bedank, omdat hulle nie effektief dienslewering kan bestuur nie. 

Betogers is keelvol met die munisipaliteit se swak dienslewering, en moet volgens SABO al jare klaarkom sonder basiese dienste. Daarom eis hulle dat die munisipaliteit alle agterstallige skuld moet afskryf, sodat geen Waterval-inwoner meer hoef te betaal vir dienste wat nie gelewer word nie. Die burgemeester is 21 dae gegee om gehoor te gee aan die eise.

Een van die betogers se plakkaat het selfs belowe dat ‘n tweede Malumulele sal volg as die Makhado Munisipaliteit nie gehoor gee aan die eise wat nou aan hulle gestel is nie. “Ons speel nie, ons is ernstig en soek water,” het ‘n SABO-lid gesê.

 

News - Date: 24 April 2015

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: