ADVERTISEMENT:

 

Twee voormalige bevelvoerders van die Soutpansberg Kommando, Kommandant Pieter Ahrens (1987 -1990) (links) en lt.kol. Ben Wolff (2001-2005) staan by die vierkantige klipmonument waarvan twee sye die granietplate in Afrikaans en Engels bevat om die lede van die Soutpansberg Kommando te vereer. Die ander sye vertoon die granietplate ter ere van die Slag van Vliegenpan op 23 Maart 1902, die enigste geveg wat die Zoutpansberg Kommando op tuisgrond met die Britse magte gehad en gewen het.

Eie monument ter ere van SPB Kommando

 

Die langverwagte gebeurtenis om alle lede van die roemryke Soutpansberg Kommando by wyse van ‘n monument te vereer, het op 18 Mei by Vliegenpan ‘n werklikheid geword.

Mnr. Charles Leach, plaaslike geskiedkundige en mede-direkteur van die Zoutpansberg Skermutseling-  en Erfenisstigting, was verheug dat die nagedagtenis aan die Soutpansberg Kommando in graniet vasgelê kon word vir die nageslag. Die granietplaat se inskripsie lui dat die monument daar is ter ere van en ter nagedagtenis aan alle lede van die Soutpansberg Kommando wat hulle land en gebied voor, gedurende en na die Anglo-Boereoorlog (1899 -1902)  tot en met die sluiting in 2005, gedien het.

Op die plaas Waterpan, noord-oos van Louis Trichardt, waar die onthulling ten aanskoue van net minder as 50 gaste gedoen is, staan twee klipmonumente. Die Vliegenpan- en die C.A.D. Heese-monumente is onderskeidelik in 2005 en 2006 onthul. Die twee openinge op die vierkantige Vliegenpan-monument is nou gevul met twee granietplate om die Soutpansberg Kommando te eer, een in Afrikaans en een in Engels. Die ander twee sye van die monument bevat die inskripsie ter nagedagtenis aan die Slag van Vliegenpan op 23 Maart 1902, die enigste geveg wat die Zoutpansberg Kommando op tuisgrond met die Britse magte gehad en gewen het. Tydens die onthullingseremonie het Leach na hierdie slag verwys, asook na die gebeure rondom die moord op eerwaarde C.A.D Heese in 1901 toe hy en sy Ndebele drywer vermoedelik deur die Bushveldt Carbineers (BVC) vermoor is.

Professor Louis Changuion het die geskiedenis van die kommando’s op sy kenmerkende uitmuntende wyse vertel, vanaf die dae dat die Zoutpansberg Kommando feitlik die hele gebied noord van die destydse Pietrersburg beslaan het. Hy het ook verduidelik dat die gebruik van die woord “kommando” as ‘n spesialis-eenheid in Suid-Afrika ontstaan het en reg deur die wêreld versprei het nadat wêreldwyd notisie geneem is van die dapper boerekommando’s. Changuoin het ook  kopieë  van sy opdragboek ‘Uit die gemeenskap vir die gemeenskap’ Pietersburg Kommando 1948-2008  aan Leach en lt. kol. Edward Vorster oorhandig.  

Die granietplaat op die monument is onthul deur  lt. kol. Vorster, voormalige bevelvoerder van die Letaba Kommando (destyds ook deel van die Zoutpansberg Kommando) en majoor WAS Nel namens die Soutpansberg Kommando in die plek van die afgtrede Brig. Genl. C.J. Bornman, wat skielik mediese versorging moes ondergaan. Nel is die langslewende lid van die Soutpansberg Komando en het van 1 Augustus 1960 in die kommando gedien tot en met die vaandelneerlegging wat op 25 Augustus 2005 by die NG Kerk Louis Trichardt-gemeente plaasgevind het. Twee bevelvoerders van die Soutpansberg Kommando, Kommandant Pieter Ahrens (1987 -1990) en lt.kol. Ben Wolff (2001-2005) en ander oudlede van die kommando was ook teenwoordig, asook belangstellendes en grondeienaars van plase waar monumente opgerig is. Die MOTHS, bestaande uit die Turbi Hill Shell Hole van Louis Trichardt en die Botha Shell Hole van Polokwane, het spesiale kleur aan die seremonie verleen.

News - Date: 22 May 2015

Recent Articles

Search for a story:

 

Professor Louis Changuion (regs) oorhandig 'n kopié van sy boek oor die Pietersburg Kommando aan elk van die ander sprekers tydens die onthulling van 'n monument ter ere van lede van die Soutpansberg Kommando. Van links na regs is lt.kol. Edward Vorster, mnr. Charles Leach, die hart agter die poging om die geskiedenis vir die nageslag te bewaar, en prof. Changuion.

'n Granietplaat om lede van die Soutpansberg Kommando, wat hulle land en gebied voor, gedurende en na die Anglo-Boereoorlog (1899 -1902)  tot en met die sluiting in 2005 gedien het, te vereer,  is op 18 Mei by Vliegenpan onthul. Die onthulling is waargeneem deur  lt. kol. Edward Vorster (regs), voormalige bevelvoerder van die Letaba Kommando (destyds ook deel van die Zoutpansberg Kommando) en majoor WAS Nel, namens die Soutpansberg Kommando.

 

ADVERTISEMENT

 

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

Email:

ADVERTISEMENT: