ADVERTISEMENT:

 

Oom Tienie Viljoen, saam met een van sy kraaloog hondekinders, Jan.

Kwaai bye omskep huishouding in slagveld

 

‘n Swerm bye het Dinsdag vir groot konsternasie en hartseer op Louis Trichardt gesorg.

Oom Tienie Viljoen het vertel hoe ‘n omgekrapte swerm bye alles wat leef en beef by sy huis in Jasmynstraat aangeval het. Omgekrap is eintlik nie die regte woord nie. “Die bye was die moer in,” vertel oom Tienie.

Hy het Dinsdagoggend, soos al die ander dae maar, op die stoep in sy rolstoel gesit en uitkyk op die tuin.

Skielik, asof van nêrens, het die bye daar op oom Tienie op die stoep begin toesak. Die bye het soos ‘n wolk reg rondom die huis gekolk. So vinnig as wat hy kon, het oom Tienie omgedraai en al wat ‘n deur en ‘n venster is toegemaak. Ongelukkig het die bye nie lank gevat om hulle visiere op oom Tienie se kraaloog hondekinders te rig nie. Al vyf die klein hondjies, Pikkie, Krikkie, Tinkie, Boesman en Jan, het iets verskrikliks deurgeloop.

Selfs Grace, die huishulp, het deurgeloop. Nana, die potbelly varkie, is ook goed bygekom deur die bye, en ook ‘n loseerder wat in die agterste woonstel geslaap het na ‘n nagskof, is nie ontsien nie.

“Kom ek jou vertel,” het 'n ontstelde oom Tienie vertel kort na die petalje, “dit was soos ‘n oorlogsone ... hulle was aggressief ... as jy jou kop uitsteek, dan wil hulle jou steek, klaar en klaar!”

Probeer soos hy kon, kon hy ongelukkig nie betyds al die hondjies in die veiligheid van die huis kry nie. Die arme goed het afgechop, sê die oom. Hy was op pad om die glasdeur na die woonstel toe te maak, toe hy sien hoe een van die brakkies om die huis gehardloop kom, oortrek van die bye. “Die bye het vir hulle aangevat dat hulle op die grond neergeslaan het.”

Klein Pikkie het, nadat oom Tienie haar in die huis kon kry, sommer dadelik inmekaargesak. Haar lyfie het geruk van al die gif en sy het begin braak. Jan en Boesman kon gelukkig ontsnap, en is net so 'n paar keer deur die bye raakgeklits. Petro, oom Tienie se suster, se twee hondjies, Krikkie en Tienkie, het net so erg deurgeloop. “Ons het hulle vir dood opgetel...”

Die drietjies is na die veearts gejaag, waar hulle gestabiliseer kon word. Ongelukkig hetKrikkie en Tienkie dit nie gemaak deur die aand nie. “Die veearts het gesê byegif tas die honde se spiere aan, wat verdere komplikasies veroorsaak,” het Petro verduidelik. 

Sy het sommer by die veearts medisyne gekry vir Nana en dié was teen Woensdag weer perdfris gewees. Oom Tienie se hart was egter maar seer gewees oor die hondjies. “Ai man, hulle is mos maar soos kinders in die huis,” het hy gesê.

Dit was eers later die agtermiddag dat oom Tienie kon vasstel waar die bye toe vandaan gekom het. Hulle het toe al die tyd ‘n nes gehad in sy palmboom. Die nes was tussen een van die groot takke en die stam gevestig. Die finale strooi vir die bye was toe die tak losgeskeur het.

News - Date: 22 May 2015

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: