ADVERTISEMENT:

 

Die man wat die tennisbal-grootte klip deur mnr. Heine de Jager se voertuig se venster gegooi het. De Jager het self die man aangekeer en polisiestasie toe geneem. Die polisie wou na bewering egter nie ‘n saak open nie, want die man is volgens hul “mal”. Foto verskaf.

Klipgooier kom los

 

Wat kan die publiek doen om hierdie mense weg te kry, want die polisie doen niks nie? Dit is die vraag wat mnr. Heine de Jager van Louis Trichardt homself vra, ná ‘n geestelik versteurde boemelaar ‘n klip deur sy nuwe kar se venster geslinger het.

Die voorval het verlede Vrydag omstreek 06:45 by die verkeersirkel op die hoek van Stubbsstraat en die N1 plaasgevind. Sy vrou, Leonie, was onderweg skool toe om hul seun, Heine (jnr.), af te laai.

Leonie het die man langs die pad sien staan, maar min het sy geweet wat op hulle wag. Skaars was hulle deur die verkeersirkel, of die man het skielik ‘n klip so groot soos 'n tennisbal na hulle geslinger. Die klip is regdeur die versterkte anti-smash and grab-glas van die agterste venster en het op die agterste sitplek beland.

“My vrou was in ‘n toestand gewees. Sy het groot geskrik, want sy het dit nie verwag nie. Dit kon baie anders gewees het, want die vorige aand sou ‘n maatjie oorslaap en hy sou die oggend by dié venster gesit het op pad skool toe,” sê Heine. Nog vars in die geheue is die skoknuus van die agtjarige Caden Slabbert van Krugersdorp wat met skedelbreuk in ‘n koma in die hospitaal opgeneem moes word, nadat ‘n man ‘n baksteen vanaf ‘n brug deur sy pa-hulle se motor se voorruit gegooi het. Die voorval het begin Mei op die N12-plaasgevind.

Leonie het ‘n end verder van die pad afgetrek. Intussen het die man dood rustig langs die pad bly staan. Hy het eers weggehardloop toe mense by Leonie stop om hulp te verleen.

Heine was toe reeds op pad, nadat ‘n benoude Leonie hom geskakel het. Op die toneel aangekom, het hulle dadelik na die man begin soek.

Kan jy glo – hulle het die man opgemerk by die Songozwistraat/N1-kruising waar hy steeds doenig was met sy streke. Daar het Heine gesien hoe hy rakelings ‘n ander voertuig met ‘n klip mis. Dié keer het hy ‘n rekker gebruik. “Toe hy ons sien, het hy dadelik begin hardloop. Hy is by Makhado Crossing in, waar ons hom vasgekeer het. Ek het hom met ‘n sekuriteitswag se boeie geboei, agter op my bakkie gelaai en hom polisiestasie toe geneem,” sê Heine.

Buiten vir die skrik en skade aan sy voertuig, het nog ‘n ontnugtering vir Heine by die polisiestasie gewag. “Hulle [die polisie] het vir my gesê dit help nie hulle maak ‘n saak nie, want die man is mal!” sê Heine. Na wat Heine kon verneem, het die polisie wel die man vir ‘n tydperk aangehou. “Ek was later die dag daar, toe vra hulle my of hulle nie maar die man kan vrylaat nie. Ek het vir hulle gesê nee, hy kan maar sit,” sê Heine.

Heine is vas oortuig dat die “mal” argument maar ‘n flou verskoning is van die polisie om op te tree. “Hy is nie mal nie. Hy het presies geweet wat hy doen, anders sou hy nie weggehardloop het nie,” sê Heine.

Na wat verneem word is die man wel vrygelaat. Die polisie het darem sy rekker en agt klippe so groot soos gholfballe by hom afgeneem.

Daar is heelparty van hierdie “malletjies” in Louis Trichardt te vinde. Die bekendste is Relent, die alombekende rolstoel-boemelaar. Sy tuiste is deesdae die duikweg onder die N1 by die verkeersirkel. Andersins slaap hy sommer in die grasveld langs die brug in Stubbsstraat. Die afgelope paar jaar het die Zoutpansberger al herhaaldelik oor sy eskapades geskryf. As hy homself nie poedelnakend in die publiek uittrek en in plasse water bad nie, is hy ook lief om voertuie met graspolle, klippe of grond te gooi. “Hy steek die veld aan die brand waar hy gaan en sit kaalgat in waterpoele in die publiek! Maar dit is maar reg; niks word gedoen nie!?” sê Heine.

Dan is daar nog die “gomsnuiwer” in die sentrale sakegebied wat inwoners lastig val en sommer vinnig aggressief word as hy nie kry wat hy vra nie. Dit is nou te sê as hy nie bedwelmd sy bewussyn verloor en sommer in die pad of voor winkels op die sypaadjie sy roes lê en afslaap nie. In Februarie vanjaar het die Zoutpansberger 'n artikel gedra oor hom en inwoners se vrese oor hom. “Die publiek moet beskerm word teen hierdie mense. Hulle moet uit die gemeenskap verwyder word,” sê Heine.

Die Makhado Polisie is gevra waarom hulle nie die man wou arresteer of ‘n saak wou oopmaak nie, asook waarom hulle nie kan reël dat die mans verwyder en elders in staatsinrigtings versorg kan word nie? Plaaslike polisiewoordvoerder konstabel Irene Radzilane het geantwoord deur te sê dat hulle met bekommernis en teleurstelling kennis neem van die voorval en die polisiebeamptes se beweerde optrede om nie ‘n saak te open nie. “Hierdie voorval sal ten volle ondersoek word,” sê Radzilane. Sou daar, sê sy, bevind word dat die polisie verkeerd opgetree het, sal die saak departementeel aangespreek word. “Die veiligheid van die inwoners en die gemeenskap van Makhado is van groot beland vir die polisie,” sê Radzilane. Sy sê hulle werk wel hand-aan-hand met ander regeringsdepartemente, soos die departemente van maatskaplike ontwikkeling en justisie, om probleme met geestelik versteurde mense aan te spreek.

News - Date: 22 May 2015

Recent Articles

Search for a story:

 

Dan is daar nog die “gomsnuiwer” in die sentrale sakegebied wat inwoners lastig val en sommer vinnig aggressief word as hy nie kry wat hy vra nie. Dit is nou te sê as hy nie bedwelmd sy bewussyn verloor en sommer in die pad of voor winkels op die sypaadjie sy roes lê en afslaap nie.

Louis Trichardt se bekende rolstoel-boemelaar. As hy homself nie poedelnakend in die publiek uittrek en in plasse water bad nie, is hy ook lief om voertuie met graspolle, klippe of grond te gooi.

Die skade aan De Jager se voertuig. Die tennisbal-grootte klip is regdeur die versterkte anti-smash and grab-glas van die agterste venster en het op die agterste sitplek beland. Foto verskaf.

 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: