ADVERTISEMENT:

 

Generic image

Ongevallefonds in die spervuur oor nie-betaling

 

Daar heers tans landswyd ‘n kommerwekkende tendens dat meer en meer dokters en mediese praktisyns werknemers wegwys, omdat die Ongevallekommissaris nie rekeninge betaal wat teen die Ongevallefonds ingedien word nie.

Ingevolge die Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en –siektes (1993) moet alle werkgewers hulle werknemers (meer as twee) by die Ongevallefonds registreer. Registrasie is gratis, maar daarna moet werkgewers jaarliks ‘n vasgestelde fooi aan die Ongevallefonds (onder beheer van die Ongevallekommissaris) oorbetaal. Die fooi word bepaal na gelang van die risiko verbonde aan die spesifieke sektor waarin die werknemer werk.

Dié tendens het die Demokratiese Alliansie (DA) genoop om onafhanklik navorsing hieroor te doen, met hul bevindinge wat op 18 Mei bekendgemaak is. In totaal het 1 200 individue aan hul meningsopname deelgeneem, asook van die land se prominente mediese en werkverskaffingsorganisasies soos SAMA (South African Medical Association), NEASA (National Employer Association of South Africa), IPAF (Independent Practitioners Association Foundation) en Qualicare.

Volgens die DA is dit duidelik dat die Ongevallefonds werknemers en medici nasionaal in die steek laat. “Die fonds is in uiterse chaos en op die rand van administratiewe ineenstorting … Die Ongevallefonds het die primêre rede geword waarom duisende Suid-Afrikaners gesondheidsorg en mediese behandeling weerhou word,” het die DA se skadu-minister van arbeid en lid van die parlement, mnr. Ian Ollis, in ‘n persverklaring gesê.

Die opname het bevind dat sommige dokters tot 10 jaar wag om betaling te ontvang.

Volgens SAMA, wat ‘n opname in Gauteng gedoen het, het 65% van die respondente aangedui dat hulle praktyke uiters nadelig geraak word deur die nie-betaling  van Ongevallefondsrekeninge, met die gemiddelde uitstaande bedrag per dokter wat net meer as R894 800 beloop.

CompSol, ‘n organisasie wat namens dokters en mediese praktisyns tussen 40% en 60% van alle eise teen die Ongevallefonds hanteer, het die bedrag onbetaalde skuld aan hul lede teen April 2015 op ‘n astronomiese R555 982 029 beraam. Dit is ‘n las wat hoofsaaklik deur CompSol gedra word, aangesien hulle dokters vooraf befonds (pre-fund) vir die behandeling van werknemers, en daarna verhaal CompSol die geld vanaf die fonds. Hierdie diens aan dokters en mediese praktisyns kom egter ook teen ‘n fooi en nie alle medici maak van CompSol gebruik nie.

Kort ná die DA hulle bevindinge bekendgemaak het, het CompSol op 29 Mei ‘n skrywe aan al hulle lede gestuur. “Ons voel verplig om ons kliënte, meeste van wie afhanklik is van ons vooraf-befondsing om hul kontantvloei verpligtinge na te kom, in kennis te stel dat daar ernstige probleme met die Fonds se rekenaarsisteem is en dat die verwerking en betaling van mediese rekeninge bykans tot ‘n stilstand gekom het. Hierdie [skrywe] is ‘n waarskuwing met die doel om ons kliënte in kennis te stel van die situasie by die Fonds en dat ons gesamentlik ‘n korttermyn krisis in die gesig staar,” lees die skrywe. Op ‘n positiewe noot het CompSol egter aangedui dat hulle op datum is met die verwerking van rekeninge en betalings wat hul lede betref. Die skrywe noem verder dat CompSol reeds ‘n tweede vergadering met die Ongevallefonds se regspan gehad het en dat daar ‘n onderneming was vanaf die kantoor van die Ongevallekommissaris dat daar binnekort ‘n verbetering sal wees met die rekenaarsisteem, met probleme wat in die proses is om uitgesorteer te word.

Kommerwekkend is egter dat CompSol aandui in die skrywe het dat hulle daarvan bewus is dat sekere diensverskaffers en selfs staatshospitale tydelike opgehou het om BAD (Besering aan diens) pasiënte te behandel totdat die situasie normaliseer. Hulle het ook genoem dat sekere diensverskaffers regskennisgewing by hul praktyke aangebring het wat aandui dat BAD pasiënte en hul werkgewers kontant moet betaal. “Dit is onwettig ingevolge die Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en –siektes, Afdeling 76(3)(b),” het Compsol gewaarsku. Verder word dit nie toegelaat dat medici rekeninge ten opsigte van die behandeling van BAD pasiënte teen hul mediese fondse verdiskonteer nie. “Wees versigtig om julle nie aan onetiese optrede skuldig te maak nie,” waarsku CompSol.

News - Date: 26 June 2015

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: