ADVERTISEMENT:

 

Veldbrand-gevaar gaan toeneem in Augustus

 

Hoe en deur wie die brand gestig is, sal seker ‘n onopgeloste raaisel bly, maar Dinsdag se verwoestende veldbrand het Augustusmaand se koms met mening aangekondig.

Die plaaslike brandweer is omstreeks 14:30 ontbied na die plaas Bush Valley van mnr. Ian McDonald aan die oostekant van die dorp, agter Ridgeway College, om die vlamme onder beheer te kry. Die brand, sê Ian, het ontstaan op die munisipale grond op die gedeelte van die plaas Bergvliet waar dit grens aan Leeustraat. “Wie sal kan sê hoe dié brand ontstaan het?” het hy skouerophalend gesê.

Dit is al die derde veldbrand wat hy hierdie winter moes help keer. Ian het sy ontevredenheid uitgespreek met die munisipaliteit wat nie hulle brandbane gereeld oopsny nie. “Dit is hulle plig om brandbane te sny, maar hulle doen dit amper nooit nie,” het hy gesê.

Droë gras en ‘n lastige suidewind het die vlamme vinnig tot in Ian se eiendom gedruk. Twee brandweermanne het die brand onder beheer gekry deur voorbrand te maak. Die wind het die vlamme so ampertjies weer opgeskep en verder noord versprei, maar deur nóg voorbrandbane te brand, is die vuur gestuit. Teen 16:00 was die brand geblus.

‘n Muur, wat deel vorm van ‘n struktuur wat Ian tans bou, is deur die vlamme verswelg. Van sy waterpype op die plaas het ook in die slag gebly.

Dinsdag se konsternasies het weer die uiterse noodsaaklikheid van behoorlike voorsorgmaatreëls vir Augustusmaand uitgelig. Gedurende Augustus tot die einde van Oktober word geen oop vure toegelaat nie. Grondeienaars wat nog nie brandbane gesny het nie, word liefs aangeraai om dit so spoedig moontlik te doen.

Die plaaslike brandweerstasie kan geskakel word meer vir inligting of verdere bystand by 015 516 0554.

Lesers kan na ‘n video gaan kyk van die veldbrand en hoe die vlamme geblus is.

News - Date: 31 July 2015

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: