ADVERTISEMENT:

 

Jan (62) en Elise Bonnema (61) ag hulself baie gelukkig om te lewe na ‘n wrede aanval op hul lewens in hul plaaswoning op Levubu Maandagaand. Foto verskaf.

Bloedige panga-aanval

 

Die Bonnema-egpaar van Levubu ag hulself baie, baie gelukkig om te leef, nadat twee mans hulle Maandagaand wreedaardig in hul plaaswoning op Levubu met onder meer ‘n panga aangeval het.

Die aanval het skaars twee minute van begin tot einde geduur, maar in daardie 120 sekondes het die 62-jarige Jan Bonnema en sy 61-jarige vrou Elise verwoed vir hul lewens geveg.

Die Zoutpansberger het laat Dinsdagmiddag met Jan gesels oor die angsgebeure van die vorige aand. Hy het vertel dat sy broer die aand by hulle kom eet het op hul plaas Beaufort. Ná ete, omstreeks 19:30, het hy saam met sy broer teruggestap na sy voertuig. Hulle het gegroet en Jan het teruggestap huis toe en was in die proses om die stoepdeur se veiligheidshek toe te trek, toe alle hel losbars. “Toe ek ingaan, man voor ek die ding [veiligheidshek] kon sluit, toe storm daar twee ouens uit die donker op die hek af. Ek het my linkerhand op die slot gesit om die deur te sluit. Toe ek die slot wou afdruk, toe kap hy my met ‘n panga oor die hand - dit is nou tussen die wysvinger en middelvinger - toe kap hy toe my hand oop,” sê Jan.

Die booswigte, een met ‘n panga en die ander met ‘n pyp of knuppel in die hand, en albei met balaklawas oor die kop, het die veiligheidshek oopgeruk en Jan die huis ingeboender. “Wat die outjies nie geweet het nie, is dat ek altyd my haelgeweer nie ver van daar af sit nie, langs my stoel wanneer ons TV kyk, en my rewolwer sit ek langs my vrou se stoel,” sê Jan.

Die ou met die panga het soos ‘n besetene op Jan afgestorm. “Toe ek die geweer in die hande het, toe slaan hulle my oor die kop … nou ja, dan sien ‘n ou sterretjies en jy is nie heeltemal by nie.”

Jan sê hy het besef dat daar nie tyd is om baie lank sterretjies te sien nie en besluit om terug te veg. “Toe vat ek die haelgeweer, gee hom vir my vrou en sê vir haar: 'Skiet hom!'” In die geworstel kon Jan darem daarin slaag om die haelgeweer oorgehaal te kry.

“Voor sy ‘n skoot kon afkry, toe kap hulle haar ook oor die kop en toe is dit net bloed!” sê Jan. Die een man met die knuppel of pyp het die haelgeweer uit Elise se hande geruk en dit op Jan gerig. Gelukkig was dit op ‘veilig’ gestel. “Die outjie het nie geweet hoe maak jy hom aktief nie,” sê Jan. Hy sê hy kan nie onthou of die man die sneller getrek het nie. “Jy weet, dit is nou die snaakste ding … ek was so in die geveg betrokke. Ek dink nie ‘n ou registreer wat gebeur nie, so vinnig het dit gebeur. Ek het nie vir ‘n oomblik vir hulle ‘n kans gegee nie – ons het baklei! So rêrig, die fyn detail kan ek nie onthou nie,” sê Jan.  

Intussen het die ander man onverpoosd gepoog om vir Jan met die panga by te kom. “Die gevoel wat ek gekry het, was hy wou moor met die panga!” sê Jan.

In ‘n poging om ‘n buffer te skep tussen hom en die wreedaard met die panga, het Jan ‘n sitkamerstoel gegryp en tussen hulle gehou. “Ek het hom met die stoel gestamp en toe val die panga uit sy hand … maar toe is alles eers vol bloed.”

In daardie stadium kon Elise dit regkry om die panga onder die tafel in te skop.

“Toe is dit ek en die ou en ek slaan hom met die stoel. Ek dink hy het besef ek kry dalk die oorhand. Toe skreeu ek vir my vrou: 'Gaan kry die rewolwer!'”

Teen die tyd wat Elise egter by die rewolwer uitgekom het, was die ander aanvaller met die pyp reeds by haar en het die rewolwer uit haar hand gegryp. Al wat hy moes doen, was om die sneller te trek.

“Toe gebeur daar iets wat onverklaarbaar is … dit kan ‘n Hoër Hand wees en dit kan so beskik wees … Ons het voeër TV gekyk, en ek vermoed ‘n mansstem wat hard deurgekom het op die TV het hom laat dink dit is nog mense wat hier aankom … want toe hy die rewolwer in die hand het, is hy soos ‘n pyl uit ‘n boog terug in die donkerte in … hulle altwee nou,” sê Jan. Hy is dadelik agterna en het die sekuriteitshek agter die aanvallers toegestamp. “Ek hardloop toe en ek gaan haal my .303 uit die kluis en skiet twee skote agterna … net om darem vir hulle ‘n boodskap te gee hier is darem nog ‘n vuurwapen in die huis.”

Die egpaar het die paniekknoppie gedruk en blitsig was die plaaswag, sekuriteitsmaatskappy en die egpaar se familie op die toneel. “Toe het twee van die nefies ons hospitaal toe gejaag, want toe bloei ons kwaai … ‘n kopwond bloei maar erg,” sê Jan.

By die privaathospitaal in Louis Trichardt het die egpaar steke ontvang en Dinsdagoggend is hulle gestuur vir X-strale. Buiten vir die kopwonde en erge kneusmerke, het Jan se een elmboog ‘n ligte fraktuur gehad. “Die trauma is ook maar altyd daar en ons werk daaraan.”

Jan sê hulle is baie gelukkig om so “lig” van die aanval af te kom. “As daardie haelgeweer afgegaan het, dan was dit ‘n ander storie,” sê Jan.

Jan sê hulle vermoed die twee aanvallers is ou kalante in die Levubu-omgewing, met ‘n geskiedenis van misdaad en geweld. Hy sê hy sal alles in sy vermoë doen, saam met die Levubu-gemeenskap, om te verseker dat die aanvallers vasgetrek word. “Hierdie keer moet die saak nie sommer net uit die hof gegooi word nie, want wie is volgende? Levubu se mense moet saamstaan.” Jan sê hy persoonlik glo dat die polisie en sekuriteitsmaatskappy sal saamwerk om die aanvallers aan die pen te laat ry.

Nog ‘n vreemde aspek van die aanval was die feit dat die aanvallers doodstil gebly het tydens die aanval. “Hulle nie ‘n woord gepraat het nie. Daar het nie ‘n geluid [uit hul monde] gekom nie. Ek vermoed dit was dalk mense wat bang was ek herken hulle stemme,” sê Jan.

Jan is op Levubu gebore en het daar grootgeword en dit, sê hy, is die eerste keer dat hy en sy familie so ‘n nare ondervinding het. Hulle is intussen weer terug op die plaas. “Man ja, ons gaan nie padgee nie. Ons sal maar net aanhou paraat wees. Die lewe gaan aan en ‘n mens sal maar net probeer daardie element uithaal uit die samelewing,” sê Jan. Hy is positief dat daar vinnig arrestasies sal wees. “Die belangrikste is dat die ouens vasgetrek en toegesluit kan word. Vir my … ek sal baie graag die wapens wil terug hê. Ek glo dit is moontlik dat dit wel gedoen kan word, want hierdie ouens is gevaarlik met vuurwapens.”

Jan het hoë lof gehad vir almal wat hul bygestaan het na die aanval. Ook die polisie was al in groot getalle op die plaas gewees op soek na leidrade as deel van hul ondersoek. Provinsiale polisiewoordvoeder kol. Ronel Otto het Dinsdag bevestig dat die saak ondersoek word, maar dat geen arrestasies teen daardie tyd nog gemaak is nie.

News - Date: 03 August 2015

Recent Articles

Search for a story:

 

Buiten dat Elise ook ‘n kopwond opgedoen het nadat sy ook oor die kop gekap is, was erge kneusmerk oor haar bolyf en gesig stille getuienis van die verwoede struweling wat sy met die aanvallers gehad het. Foto verskaf.

Jan moes ook steke in die linkerhand kry toe die aanvallers, in sy poging om die sekuriteitshek toe te kry, sy hand oopgekap het.Foto verskaf.

Die kopwonde wat Jan opgedoen het, nadat een van die aanvallers hom met ‘n panga oor die kop geslaan het. Foto verskaf.

 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: