ADVERTISEMENT:

 

Anthony Vorster (23) sterk tans aan in die Zoutpansberg Privaat Hospitaal.

Gelukkig om te leef

 

“Al wat ek kan onthou is toe ek in die hospitaal wakker word.” Só vertel die 23-jarige Anthony Vorster vanuit die Zoutpansberg Privaathospitaal waar hy tans aansterk. Hy was Maandag op pad met sy motorfiets, toe hy op die hoek van Kort- en Jeppestraat in Louis Trichardt in ‘n botsing betrokke was.

“Ek kan nie eens onthou dat ek deur die lug getrek het nie,” het Anthony vertel. Vriende wat by die kruising stilgehou het en die ongeluk gesien gebeur het, het dit later aan hom vertel.

Volgens die vriende was Anthony besig om suid te ry in Kortstraat toe ‘n man in ‘n silwer Toyota Avanza voor hom ingedraai het. Hulle het die bestuurder glo hoor sê dat Anthony skielik vanuit die niet voor hom ingery het. Die polisie ondersoek nog die voorval.

“Ek het blykbaar baie gebloei ... maar al wat ek kan onthou, is stemme om my in die ambulans, en toe’s ek in die hospitaal,” het Anthony verder vertel.

Die baie bloed was afkomstig van ‘n diep sny in sy linkerdy. Hy het ook baie snye aan sy gesig opgedoen toe die impak van die ongeluk sy helmet afgeruk het. “Ek dink dit is van die hou teen my kop wat ek gekry het dat ek niks kan onthou nie,” het Anthony gesê.

Behalwe vir dié beserings het Anthony ook sy regterheupbeen gebreek en moes hy Dinsdag ‘n operasie ondergaan om die skade te herstel.

“As dit nie vir die helmet was nie dink ek nie ek sou dit gemaak het nie.”

Vir Anthony is die ergste om afgeboek te wees, omdat hy sopas by sy nuwe werk begin het. Hy bedank graag die ambulans-tannie, Maud Myburgh, wat vinnig op die toneel was om te help en hom na die hospitaal vervoer het, die personeel en dokters by die hospitaal wat hom gestabiliseer en gehelp het, die Soutpansberg Dorpswag vir hul bystand op die toneel en al sy vriende en familie vir hulle bemoedigende boodskappe. 

Dit is die tweede motorfietsongeluk in twee weke in Louis Trichardt. Op Woensdagoggend, 19 Augustus, is ‘n  Graad 12-leerling van Hoërskool Louis Trichardt, Herman Heinlein, ernstig beseer toe hy met sy motorfiets in ‘n botsing met ‘n voertuig betrokke was, bykans reg voor die skool  se ingang.

News - Date: 31 August 2015

Recent Articles

Search for a story:

 

Anthony Vorster se motorfiets se wrak, afgeneem op die ongelukstoneel Maandagoggend.

 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: