ADVERTISEMENT:

 

'n Polisievrou van die Makhado polisiestasie begelei 'n vrou vanaf die misdaadtoneel voor Absa Bank waar 'n man Maandagoggend beroof is.

Skote klap voor bank

 

Gewoonlik is dit net in die Hollywood films wat mens sien hoe die polisie rowers agterna sit in ‘n hoëspoed jaagtog, en nie in die hoofstrate van Louis Trichardt nie.

Maandagoggend se oggendverkeer is ontwrig toe lede van die Makhado polisie losgebrand het op vlugtende rowers in ‘n poging om hulle van die pad af te dwing. Net oomblikke tevore het dié rowers ‘n man voor Absa beroof en in die been gewond. Die voorval het ongeveer 09:00 in die bank se ingangsportaal ontvou.

Volgens die provinsiale polisiewoordvoerder, lt-kol. Ronel Otto, is die man deur twee verdagtes oorval by die deur van die bank en in die been geskiet. “Volgens voorlopige inligting tot ons beskikking was die man, werksaam vir die eienaar van die Matipaskompleks in Phiphidi naby Thohoyandou, op pad na die bank toe om geld namens die besigheid te gaan bank toe hy oorval is,” het Otto Maandag gesê.

Die rowers het 'n geldsak met ‘n onbekende bedrag geld daarin van die man afgevat en in ‘n donkergrys Chevrolet op die vlug geslaan.

Otto het ook bevestig dat ‘n speurder van die Makhado polisiestasie gesien het wat gebeur het en ‘n skoot afgevuur het in die rigting van die voortvlugtende motor. “Die band van die voertuig is getref, maar die verdagtes het nog steeds daarin geslaag om weg te jaag,” het Otto gesê.

Uit ooggetuies se vertel van Maandag se gebeure wil dit voorkom asof die verdagtes losgetrek het en teruggeskiet het op die polisieman.

Wonderbaarlik is niemand verwond in die skietery nie.

Een leser wat net om die hoek van die bank was, prof. Koos van Rooy, het vertel wat hy gehoor en gesien het. Hy was die oggend by Robot Elektries gewees toe hy twee skote gehoor het wat vinnig na mekaar afgetrek is. “Die knal van die skote was fyn gewees ... ek dink nie dit kon ‘n groot kaliber geweer gewees het nie, en dit het ook nie vir my geklink soos die tipe gewere wat die polisie gebruik nie,” het prof. Koos vertel.

Hy het hom na die bank gehaas, en twéé gewonde mense gekry. “Dit was ‘n Venda man en vrou, en van wat ek kon sien, was altwee in die been gewond ... hulle kon nog staan en loop en die bank se mense het hulle in die bank ingehelp en toe die bank gesluit. Ek neem aan hulle het toe dokters en so aan gekontak,” het prof. Koos verder vertel.

Terwyl prof. Koos nog daar by die bank gestaan het, vertel hy, het hy nog skote gehoor in ‘n suidelike rigting in Kroghstraat, naby die Capitec Bank langs die poskantoor. “Dit was drie skote, kort op mekaar.” Hy kon nie sien of dit die polisie of die rowers was wat die skote afgevuur het nie.

Van hierdie skote het egter gelukkig net die voertuie van twee onskuldige motoriste getref.

Me. Caroline Joubert, wat op pad was in ‘n noordelik rigting in Kroghstraat, was naby Foto First (in die heel buitenste baan) toe sy ‘n harde slag hoor. “Ek het eers gedink iemand het my kar met ‘n klip gegooi,” het Caroline vertel. “En toe hoor ek vier tot vyf skote, en besef iewers is daar ‘n rooftog ... ek het gedink dit is by die Standard Bank en het eers later gehoor wat gebeur het.” ‘n Opslagkoeël het die enjinkap van Caroline se motor getref en haar windskerm getref. “Ek het my koud geskrik toe ek besef dit is ‘n koeël,” het sy gesê.

‘n Pastoor verbonde aan die Agapé Kerk op Louis Trichardt se motor is ook getref. Hy was agter die stuur, maar die koeël het hom rakelings gemis en is net bo die wiel deur die bakwerk. “Dit was ‘n vreeslike traumatiese ervaring vir my gewees,” het past. Itani Thavhana vertel. Hy was tydens die voorval besig om deur die Krogh- en Erasmusstraatkruising te gaan, naby Clicks.

Itani vertel dat hy drie skote gehoor het. “Dit was die derde skoot wat my kar getref het.”

Intussen het Otto bevestig dat die plaaslike polisie Maandag vinnig was om te reageer en ‘n soektog van stapel te stuur om die verdagtes aan te keer. Teen Woensdag was daar egter nog geen arrestasies gemaak nie.

“Die ondersoek duur voort, en ons kyk na die moontlikheid dat daar dalk meer as twee verdagtes kon wees,” het Otto gesê.

News - Date: 05 October 2015

Recent Articles

Search for a story:

 

Absa Bank in Louis Trichardt, op die hoek van Krogh- en Songozwistraat, was Maandagoggend afgesper nadat 'n kliënt van die bank in die voorportaal beroof is.

 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: