ADVERTISEMENT:

 

Marcel van Niekerk in sy selfgeskryfde stuk, Amarikana.

Marcel se eenmanstuk, Amerikana, verken die rit tussen swart koffie en soet heuning

 

Marcel van Niekerk het amper geen bekendstelling nodig in Louis Trichardt nie. Hy is die regisseur van plaaslike toneelstukke soos Stemtoon, Harnas en Ses209 en het ook al twee boeke gepubliseer.

Verlede week het hy die hoed gedra van beide skrywer en akteur tydens die opvoering van sy nuutste eenmanstuk, Amarikana.

Hierdie stuk het meesterlik gebruik gemaak van komedie en drama om die gehoor se aandag gevange te hou.

Die inspirasie vir die stuk was die bloedbad wat ontstaan het tydens stakings en protesoptogte by die Lonminmyn, naby Rustenburg, in Augustus 2012. Tydens die opstand is 44 mense dood en nog heelwat meer mense beseer.

Amarikana speel af in ‘n koffiewinkel en die karakter Adam (hy is ‘n platsak student) lê slim die grondwerk neer wat sy gehoor dwing om te kyk na die impak wat geweld op ons samelewing het.  Die wyse waarop die perfekte koppie koffie, ‘n lattécappacino enamarikana, bymekaar gegooi word, word later die metafoor vir Marikana.

Aanvanklik steek Adam ‘n bietjie draak met die dag se politici, maar die opwagting van Jane en haar rooibostee-en-heuning-gesindheid verander alles. “Sy maak in my die begeerte los om my swart koffie in te ruil vir haar rooibostee ... en heuning ...”

Jane het Adam in vervoering en hulle verhouding groei ... elke Dinsdagaand om 19:00, tot hulle die gewone ditjies en datjies verruil en oor die Adamsgoed begin gesels het. Eers vertel Adam vir Jane waar hy grootgeword het, naamlik Rustenburg. Hy wat Adam was wou nie ‘n myner word nie, hy het gemik na hoër dinge en so het dit gekom dat hy verder gaan leer het. Sy pa was ‘n polisieman en sy ma ‘n huisvrou, en saam het hulle hard gewerk om Adam op universiteit te hou.

Tot op ‘n dag ... ‘n dag in Augustus 2012. Eers kom die verhaal in stukkies uit, totdat daar ‘n damwal bars en die donker geheime en wroeging van Adam uitspoel. Kort na die bloedbad het Adam agtergekom dat sy pa nie meer die mens is wat hy was nie en dat die “ritme van die dood om sy nek gehang het en in sy ore gesing het” en hy sy eie lewe geneem het.

Die gehoor was in ekstase na die vertoning en wou net weet wanneer daar 'n volgende vertoning gaan wees. Marcel het die versekering gegee dat dit beslis nie sy laaste vertoning sal wees nie, en dat hy sal poog om die Engelse weergawe van Amarikana op die planke te bring voor die einde van die jaar. Hy is tans op 'n buitelandse toer saam met sy vrou.

News - Date: 09 October 2015

Recent Articles

Search for a story:

 

Marcel van Niekerk in sy selfgeskryfde stuk, Amarikana.

 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: