ADVERTISEMENT:

 

Kerneels van Schalkwyk wys die dreigende woorde wat met 'n mes uitgekerf is op die hoofslaapkamerdeur van die huis waarin hy gebly het tot en met verlede naweek.

Gesin twee keer in week teiken van inbrekers. Ons kom weer - dreig rowers

 

Om deur te loop onder inbrekers is al erg genoeg, maar as dieselfde inbrekers die vermetelheid het om 'n paar dae later terug te kom en doodsdreigemente agter te los, is daar duidelik groot probleme.

Dit is juis wat met die Van Schalkwyk-gesin van Louis Trichardt gebeur het. In die bestek van ‘n week is die gesin se huis geplunder en feitlik al hul besittings weggedra.

‘n Hoogs ontstelde mnr. Dries van Schalkwyk het Dinsdag die koerant by die voordeur van sy seun se huurhuis ingewag, met ‘n groot rewolwer op sy heup vasgemaak. Die huis is geleë op ‘n kleinhoewe sowat vyf kilometer noord van Louis Trichardt op die pad wat na die kruis lei.

“Ek’s gatvol,” het hy hard gesê. “Kyk hoe lyk ons huis ... ons goed ... ek sal die bliksemsvrêkskiet as ek hulle weer hier kry!”

Die afgelope naweek was dit die tweede keer wat daar by sy seun, Kerneels, se huis ingebreek is.

Voorverlede naweek (28ste September) is Kerneels se huis geplunder. Al die elektriese toestelle, soos sy televisie en klankstelsel, is verwyder. Hy werk in die nagte en was gelukkig nie ten tye van die voorval by die huis nie. Selfs sy yskas en sy maand se kruideniersware is gebuit.

Dié het hy en pa Dries later teruggekry deur die spore van die diewe te volg wat in die bosse agter die huis oor ‘n styl kliprandjie geloop het. Al die kruideniersware en vleis het egter vrot geword.

‘n Saak is by die polisie geopen vir verdere ondersoek, en volgens die Van Schalkwyks kon die polisie se honde-eenheid daarin slaag om die spore van drie verdagtes te lig op die misdaadtoneel.

Die van Schalkwyk-gesin het toe reeds besluit om eerder uit te kyk vir ander verblyf, omdat hulle nie meer veilig gevoel het nie. Die res van die week het stil verbygegaan, sonder enige verdere voorvalle. Hulle het amper weer gerus geslaap - tot Kerneels Sondag die deur oopgemaak het en ‘n geplunderde huis hom begroet het.

Alles wat nie met die eerste plundertog gesteel is nie, is tussen Saterdagaand en Sondagoggend weggedra. Die booswigte het toegang verkry tot die huis deur 'n gat in die kombuisdeur te maak. Terwyl die diewe die huis leeggedra het, het hulle ook 'n ruspose geneem om KFC-hoender te eet, wat hulle saam met hulle gebring het. Hulle het die leë pakkie net so in die kombuis gelos, saam met leë bottels nadat hulle die drank in die huis uitgedrink het.

Die diewe het die keer ook ‘n dreigbrief, in potlood gekrap op ‘n stuk papier, agtergelaat in die kombuis - gerig aan “Liewe Dood [sic].”

Onderaan is die brief geteken deur die rower se volle name, “f#&k you”, met ‘n geskribbelde handtekening. In die brief word die Van Schalkwyks gewaarsku om die rowers terug te betaal omdat “last week you take my propert for me outside there top [sic].”

Die dief dreig verder dat as die Van Schalkwyks graag alleen gelaat wil word, hulle geld vir hierdie eiendom moet agterlaat in die eerste kamer, naby die deur. Daar word vermoed dat die dief verwys na die hoofslaapkamer se deur, waar ‘n mes in vasgesteek is onder die woorde:  F#@k you I come back more [sic].

Dries en Kerneels sê hulle weet nie waarna die dief verwys nie. “Dit kan dalk wees dat die ou dink die yskas wat ek ‘daar bo’ gaan haal het, soos hy daarna verwys in sy brief, aan hom behoort en dat ek dit nou moet betaal,” sê Dries.

Verder waarsku die briefskrywer ook dat “were you now I see you” en dat as hy/sy nie die geld kry nie, daar nog ‘n aanval sal wees en dat die Van Schalkwyks doodgemaak sal word.

Dries sê hy was blind van woede gewees toe hy dié brief lees. “Daai ou [skrywer] sal dit waag om naby ons te kom, dan sal hy sien wat gebeur,” het hy gesê. “Jy kan dit maar skryf in die koerant, ek gee nie om nie,” het hy aan die Zoutpansberger se verslaggewer gesê.

Hy en Kerneels het Sondag weer ‘n saak by die polisie geopen, maar tot dusver is nog geen arrestasies gemaak nie. Teen Maandag was hulle besig om die huis te ontruim van die handjievol huisware wat oorgebly het. “Ek voel nie meer veilig hier nie. My ma bly ook partykeer alleen hier, en my pa is in die week op die plaas ... dit is net nie meer veilig nie,” het Kerneels gesê terwyl hy ‘n boks vol goedere op sy sleepwaentjie gelaai het.

Die hartseer van die saak, voeg hy by, is dat hy nie versekering het nie.

“Maar gelukkig was ons altwee kere nie by die huis nie ... die diewe kon ons dalk doodgemaak het...” 

News - Date: 12 October 2015

Recent Articles

Search for a story:

 

Diewe het hierdie dreigwoorde met 'n mes uitgekerf, nadat hulle die huis geplunder het. Foto verskaf.

'n Selfoonfoto van die brief wat diewe in die Van Schalkwyks se huis agtergelaat het, waarin hulle gedreig word met die dood. Foto verskaf.

Daar is nog 'n tweede mes in die kombuisdeur gelos, reg bo die gat wat die diewe in die deur gemaak het om toegang tot die huis te verkry. Foto verskaf.

Diewe het toegang tot die Van Schalkwyks se huis gekry deur 'n gat in hulle agterdeur te breek.

 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: