ADVERTISEMENT:

 

Hoërskool Louis Trichardt se wetenskapspan wat bepaal het dat 'n plastiekbottelbom nie van Jeyes Fluid gemaak kan word nie, was, van links na regs, Amari Kotzè, Anton Scholtz en Dalyn Stoltz. Lesers kan na 'n kort videogreep van die eksperiment gaan kyk op www.zoutpansberger.co.za.

Jeyes Fluid-bom ‘n mite sê Triegie-slimkoppe

 

Mense word al hoe meer op die Internet en sosiale media platforms soos  Facebook gebombardeer met voorbeelde van nuwe "vindingryke" maniere waarop misdadigers hul slagoffers buite aksie kan stel, oorrompel en beroof.

‘n Goeie voorbeeld is die ou bekende een van huisrowers wat na bewering ‘n laserskyf brand om hul slagoffers aan die slaap te maak. Die Zoutpansberger het verlede jaar dié gerug op die proef gestel en bevind dat dit niks anders as ‘n mite en klugspul is nie. (Geen hoeveelheid brandstof of insekdoder kon die laserskyf aan die brand kry nie). ‘n Meer waarskynlike alternatief is dat rowers ‘n slaapmiddel, wat bestaan uit ‘n mengsel kruie, bo-op die laserskyf sit en dan aan die brand steek naby ‘n venster om die huismense te bedwelm.

Onlangs het ‘n kettingboodskap die rondte begin doen op sosiale media en plaaslike sekuriteitsgroepe wat inwoners waarsku teen tuisgemaakte Jeyes Fluid-bomme. Volgens die kettingboodskap, wat sogenaamd van die polisie af kom, gebruik voornemende skelms plastiese bottels waarin hulle ‘n bietjie water, Jeyes Fluid en ‘n stukkie foelie gooi. Die inhoud word geskud, sodat ‘n chemiese reaksie kan vorm. Hierdie bottel is dan veronderstel om soos ‘n tydbom te wees, wat op sypaadjies en grasperke en in posbusse gelos word. Dit sou blykbaar ontplof wanneer iemand dit versteur en sodoende die persoon buite aksie stel. ‘n Persoon het darem, volgens die boodskap, ‘n halwe minuut kans voor die bottel sal ontplof. Daar is ook ‘n selfoonnommer van ‘n ene kol. Cor Snel wat onder aan die boodskap verskyn, maar dié bly deurgaan na ‘n stemboodskapdiens.

‘n Vinnige Internetsoek het nie veel gehelp om agter die kap van die byl te kom van die Jeyes Fluid-boodskap nie.  Daar was bronne wat die boodskap summier as ‘n klugspul en mite afgemaak het, en ander wat die “polisie” op hulle woord gevat het en waarskuwings uitgereik het aan die publiek.

Om die geloofwaardigheid van die boodskap te toets, is die hulp van die Hoërskool Louis Trichardt se wetenskap-slimkoppe ingeroep om ‘n Mythbusters span op die been te bring. (Kyk gerus die kort videogreep van die eksperiment)

Die span, bestaande uit Anton Scholtz (Graad 10), Dalyn Stoltz (Graad 12) en Amari Kotzè (Graad 12), het onder leiding van juffrou Cornel Bam die eksperiment op klein skaal uitgevoer.

Hulle bevinding was dat die Jeyes Fluid-kettingboodskap geen water hou nie. Die Jeyes Fluid bevat nie enige bestanddele wat met die foelie sal reageer om gasse te vorm nie en derhalwe ontstaan daar geen drukking wat ‘n ontploffing kan veroorsaak nie.

Die span het ook ‘n kontrolestudie uitgevoer en bevind dat remvloeistof (brake fluid) wel gasse kan vorm – mits dit met ander chemikalieë gemeng word. Hulle gevolgtrekking was dus dat inwoners maar steeds lugtig moet wees vir vreemde bottels vloeistof wat rondlê. Remvloeistof is gevaarlik en het ‘n deurskynende, gelerige kleur, terwyl Jeyes Fluid ‘n donkerbruin, amper swart, vloeistof is. Die span het egter gesê dat ‘n “bom” met ‘n remvloeistof-basis nie vir ‘n onbepaalde tyd op ‘n mens se grasperk kan lê nie. “Weens die chemiese gasse sal die bottel opblaas en dan bars,” was hulle bevinding.

 

News - Date: 21 November 2015

Recent Articles

Search for a story:

 

Anton Scholtz en Dalyn Stoltz besig om die mite - dat plastiekbottelbomme van Jeyes Fluid gemaak word - 'n nekslag toe te dien. Lesers kan na 'n kort videogreep van die eksperiment gaan kyk op www.zoutpansberger.co.za.

Let op na die kleurverskil tussen remvloeistof (gelerig van kleur) enJeyes Fluid (amper swart). Jeyes Fluid is onskadelik en kan nie gebruik word om plastiekbottelbomme te maak nie. Lesers kan na 'n kort videogreep van die eksperiment gaan kyk op www.zoutpansberger.co.za.

 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: