ADVERTISEMENT:

 

Haelkorrels so groot soos lietsjies het oor die naweek grootskaalse skade aan oeste in die Levubu-omgewing aangerig. Foto verskaf.

Groot dankbaarheid vir die reën te midde van erge haelskade

 

Met ‘n land op sy knieë weens ‘n knellende droogte, het die onweerswolke die afgelope naweek saamgepak, met wydverspreide donderstorms oor groot dele van die land, insluitend Limpopo, Mpumalanga en Gauteng.

Daar was groot dankbaarheid vir die reën wat uitgesak het en die verligting wat die koel weer gebring het ten opsigte van die afgelope paar weke se versengende hitte. Die nat weer het egter ook gepaard gegaan met skade as gevolg van hewige haelstorms wat plek-plek voorgekom het. 'n Voorbeeld hiervan is Hoedspruit, waar haelkorrels so groot soos tennisballe miljoene rande se skade aan huise, voertuie en oeste aangerig het.

Die Soutpansberg is ook geseënd met die belofte van goeie reën, maar het ook nie die hael vrygespring nie. Saterdagmiddag/aand het ‘n haelstorm dele van Elim en Levubu getref. Aanvanklik is daar berig dat sommige boere in die Levubu-omgewing tot 90% oesskade gelei het, spesifiek ten opsigte van avokado’s.

Mnr. Stephen Hoffman, voorsitter van die Soutpansberg Distrik Landbou-unie (SDLU), het egter Maandag gesê dat hulle weer met van die boere, soos mnr. Thinus Schutte wat met Hass-avos boer, gaan gesels het oor die omvang van hul oesskade. Ná die gesprek, sê Hoffman, kyk hulle nou eerder na ‘n afgradering van Schutte se Hass-oes as gevolg van merkies wat deur die hael aan sowat 80% van sy oes en jong boompies aangerig is. “Dit is dus nie ‘n totale verlies nie. Dit sal egter baie van die vrugte vir uitvoer diskwalifiseer, maar is steeds plaaslik bemarkbaar,” het Hoffman gesê.

Nog ‘n avokadoboer, mnr. Jaco van Tonder, het gesê dat die verlies van sy Fuerte-avo's maar klein is, maar dat daar ook meer skade was op sy Hass-vrugte – tot soveel as 20% vanweë merke op vrugte. “Dit is als maar slegs beramings wat vorentoe dalk erger of dalk glad nie so erg mag wees nie,” het Hoffman gesê.

Volgens Hoffman het die plaas Klein Australië heelwat skade gehad. “Herman de Jager, Toppies Topham en Pieter Coetsee het baie skade op makadamias gehad deurdat vrugte afgeslaan is. Appelfontein, wat deur Danie Basson bestuur word vir die Ravele-gemeenskap, het ook heelwat skade op neute gehad,” het Hoffman gesê.

Hoffman sê dat hyself ook hael op sy grond teenaan Schutte gehad het. “Ek het egter gevind dat daar baie meer blare as vrugte afgeslaan is. Die verlies is maar relatief klein as mens in ag neem dat daar maar gewoonlik baie neute afspeen gedurende November. Ek sal myne nie as kommersiële verlies beskou nie, maar eerder as deel van ‘n proses waardeur die boom in elk geval nog vrugte sou afgooi,” het Hoffman gesê.

Ook die streek se piesangboere het deurgeloop. “Piesangblare is aan flarde geslaan, maar dit wil voorkom asof die skade meer van bo gekonsentreer is op die trosse en nie soveel aan die kant nie. Die totale skade dus dalk nie so groot nie en vrugte is nog reg vir lokale verkope. Ons sal sien hoe dit lyk wanneer dit gepak word,” het Hoffman gesê.

Wat die naweek se haelskade betref, het Hoffman gesê dat die natuur onvoorspelbaar is. “Daarom word landbou as ‘n hoë-risiko bedryf beskou. Boerdery is meer as net ‘n beroep, dit is ‘n roeping. Die skepping is iets groots en daarom sal landbouers altyd die wonders van die natuur tesame met die skade wat dit mag meebring, as deel van God se groot plan aanvaar,” het Hoffman gesê. Te midde van die skade is hulle baie dankbaar vir die reën, alhoewel relatief min reën gemeet is in die streek.

By Bandelierkop is daar die naweek tussen 15 mm en 20 mm gemeet, en so ook op Louis Trichardt. By Waterpoort is 2 mm gemeet en by Musina tot 10 mm. Naby die Piesanghoek-pad is 18 mm gemeet. Op Levubu is tussen 25 mm  en 50mm gemeet. Geen reën is egter in die Vivo-omgewing gemeet nie. Die Soutpansberg, soos baie ander dele in die land, bly steeds vasgevang in ‘n knellende droogte. Vanaf Bandelierkop word berig dat baie boere op hul laaste weiding is. Intussen word daar landwyd gebid vir goeie reën. So ook het gemeentes reg deur die land Sondag tyd afgestaan om te bid vir reën.

News - Date: 23 November 2015

Recent Articles

Search for a story:

 

Dié foto is Saterdagmiddag geneem te midde van die haelstorm by die Lalapanzi Hotel langs die N1. Die hael het wit gelê op die grasperke. Foto verskaf.

 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: