ADVERTISEMENT:

 

Mev. Ansie Bothma en mnr. Lesley Netshakhuma, werknemers by die Pitstop Drankwinkel in Louis Trichardt, het Woensdag vertel van hul nagmerrie ondervinding toe hulle en medepersoneel verlede Donderdag ook slagoffers geword het van gewapende rowers.

“Eers ná die tyd besef jy: Ek kon dood gewees het”

 

“Weet jy, mens sien dit altyd op televisie en dan dink jy dit is nie so erg nie. Maar dit is iets wat jy vir niemand kan beskryf nie – dit is aaklig! Dan dink jy eers agterna: Jinne, ek kon dood gewees het.”

So sê die 57-jarige mev. Ansie Bothma van die Pitstop Drankwinkel in Louis Trichardt wat verlede Donderdag ook die slagoffer geword het van ‘n gewapende roof - die sesde gewapende roof in Louis Trichardt in ‘n periode van vyf dae. Die Zoutpansberger het Woensdag met die personeel oor die roof gaan praat.

‘n Gewapende man het omstreeks 19:45, kort voor toemaaktyd, by die drankwinkel ingestap, ‘n balaklawa halfpad oor sy gesig getrek en almal in die winkel beveel om op die grond te gaan lê. Oomblikke later het ‘n tweede ongewapende rower (ongemasker) by hom aangesluit. Gelukkig was daar geen kliënte in die winkel nie.

Die man met die wapen het na Ansie se kollega, mev. Gerda Szluha, gestap en gepoog om haar kasregister oop te kry. Gerda moes hom help om die kasregister oop te kry, terwyl die ander man na Ansie se kasregister gestap het. “My probleem was dat ek nie heeltemal gaan platlê het nie, want ek wou sien wat gebeur,” sê Ansie. Sy het so half oor haar stoel gelê. Die man het haar beveel om haar kasregister oop te maak.

Nadat hy die geld uit die kasregister uitgehaal het, het die man in Ansie se handsak begin rondkrap. “Toe vra ek vir hom waarna hy soek, sodat ek dit maar vir hom kan gee. Hy sê toe ‘Phone!’ maar ek kliek nie dadelik hy soek my selfoon nie. Ek gee dit toe nie vir hom nie – toe slaan hy my!” sê Ansie, terwyl sy beduie na haar regter wangbeen. “My gesig is nou nog seer soos hy my met die vuis geslaan het,” sê Ansie.

Die hele roof het sowat vyf of ses minute geduur, maar dit het vir die personeel soos ‘n ewigheid gevoel. Geen skote is geskiet soos in die ander rooftoge waaroor die Zoutpansberger gerapporteer het nie. Dit was eers nadat ‘n kliënt net voor agtuur by die winkel ingestap gekom het, dat hulle besef het die rowers is weg. "Toe bel ek dadelik my seun en sê ons ‘n beroof en ek is aangerand,” sê Ansie.

Sy sê dat hulle juis vroeër dieselfde dag nog gepraat het oor die berig in die Zoutpansberger van die vlaag rooftogte in die dorp, maar dat hulle nie verwag het dat hulle die volgende slagoffers sou wees nie. “Ek het nie gedink dit sal met ons gebeur nie,” sê Ansie.

Sy het eers nie besef wat gebeur nie. “Ek was verstom … Ek kon nie glo wat hier gebeur nie. Jy kyk daarna, maar jy sê vir jouself dit kan sekerlik nie wees nie! Toe alles verby is en ná ek aangerand is, toe het ek eers regtig besef wat gebeur het,” sê Ansie. Sy sê die een met die wapen was nie aggressief nie, maar die een wat haar in die gesig geslaan het was wel baie aggressief. Wat vir haar egter die meeste frustreer, is die arrogansie van die rowers. “Weet jy, hulle was nie eers bang gewees nie,” sê Ansie.

Die rooftog, sê sy, het hulle almal ge-rattle. “Ons is definitief meer skrikkerig en ‘n mens is definitief meer op jou hoede.” 

Nog ‘n personeellid wat ook die aand in die winkel die nagmerrie beleef het, was die 40-jarige mnr. Lesley Netshakhuma. Hy sê dat hulle gehoor het van die vlaag rooftogte by onder meer Snappy Snacks en Fire Fly die Maandag voor die roof by hulle, en dat hulle juis die Dinsdag daaroor gepraat het. Hulle het onder mekaar in die winkel gepraat oor wat hulle sal doen as so iets met hulle gebeur. Dit, sê hy, het hulle definitief gehelp oor hoe om op te tree toe dit wel gebeur. “As hulle vir jou ‘n opdrag gee, doen dit. Dit kan jou lewe red,” was Lesley se raad aan inwoners. Hy sê mense moet onthou dat dit alles net oor die geld gaan en geld is nie ‘n mens se lewe werd nie. “Jy lewe net een keer,” het Lesley gesê.

Wat die huidige gewelddadige misdaadvlaag in Louis Trichardt betref, was Ansie baie uitgesproke. Sy sê sy het sommer een van die eerste polisiemanne op die toneel gekonfronteer oor waarom hulle nie iets doen aan die situasie nie. Sy sê egter dat sy ná die tyd bietjie sleg gevoel het daaroor, maar dat sy in daardie stadium baie kwaad was. “Ek voel hartseer dat ons pragtige dorp onder sulke misdaad gebuk gaan. Mense sê hulle wil trek, maar waarna toe?! Dit gaan maar orals dieselfde,” sê Ansie. Sy gaan egter hier vasbyt. “Ek het net besluit, julle sal my nie onderkry nie.” 

Die rowers het met etlike duisende rande op die vlug geslaan. Die polisie en lede van die Soutpansberg Dorpswag was kort ná die roof op die toneel, maar kon niemand aankeer nie. Intussen het die polisie ‘n kopié gemaak van die sekuriteitskameras se beeldmateriaal oor die roof om hulle te help met hul ondersoek.

News - Date: 30 November 2015

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: