ADVERTISEMENT:

 

Die 34-jarige Cameryn Jackson, afgeneem saam met haar dogtertjie Storm. Cameryn het op 12 Januarie in ‘n koma ingegaan en nog nie weer haar bewussyn herwin nie. Foto: Facebook.

Ma nog in koma *Opgedateer*

 

Die 34-jarige Cameryn Jackson van Louis Trichardt verkeer steeds in ‘n koma.

“Alhoewel dit beter gaan, is haar toestand steeds kritiek. Sy is nog nie buite gevaar nie,” het haar verloofde, Heinrich Volschenk, Woensdagoggend aan die Zoutpansberger gesê.

Die ma van vyf kinders het in September/Oktober verlede jaar serebrale malaria opgedoen. Sy het letterlik by die dood omgedraai en het in totaal nege dae in die hoësorgeenheid van die Letaba Hospitaal deurgebring. Alhoewel sy herstel het, het haar lewer in die proses skade opgedoen. Ná haar ontslag uit die hospitaal het sy begin kla van ernstige hoofpyne. Sy het op 12 Januarie by haar huis flou geword en in ‘n koma ingegaan. Dinsdag hierdie week het sy haar 14de dag in ‘n koma in die Zoutpansberg Privaathospitaal deurgebring.

“Eergister [Maandag] het sy goed gereageer. Sy kon haar hande beweeg en het selfs haar oë oopgemaak. Die fisioterapeut het gesê daar is regtig verbetering. Die dokters voel ook so,” sê Heinrich. In dieselfde asem voeg hy by dat dit maar op en af gaan met haar toestand - die een dag lyk dinge beter en die volgende dag gaan dit maar weer sleg.

Uit die gesprek is dit duidelik dat Heinrich emosioneel en geestelik redelik uitgeput is. Hy raak heel bewoë op ‘n vraag oor hoe dit met die kinders gaan. Hy sê veral hul twee kleuterseuntjies, Riaan en Lance,  trek swaar. “Hulle gaan maar aan. Elke dag gaan hulle kleuterskool toe en by tye is dit maar bietjie moeilik. Riaan vra baie vrae en is gefrustreerd,” sê Heinrich. Die ander drie kinders, Donovan, CJ en Storm, is leerlinge by Laerskool Louis Trichardt.

Volgens Heinrich word Cameryn behandel vir breinvliesontsteking wat drukking op die brein veroorsaak. “Haar lewer is ook ‘n probleem, wat die behandeling moeilik maak,” sê Heinrich. Hy sê hy verstaan nie altyd wat die dokters aan hom probeer verduidelik nie. “As hulle vir my sê sy is gesond en sy kan huis toe gaan – dit sal ek verstaan,” sê Heinrich.

Heinrich en Cameryn beskik nie oor ‘n mediese fonds nie, wat nog erge stremming op die situasie plaas. Heinrich is baie, baie dankbaar vir die finansiële steun wat hulle as gesin uit alle oorde ontvang. Diensorganisasies soos Ladies Circle 4 het ook ingespring om te help. Die plaaslike groep Comet D Strings het selfs Vrydagaand ‘n konsert gehou ten bate van Cameryn en ‘n ongelooflike R10 000 ingesamel. “Dit is fantasties! Ek kan steeds nie glo dat ‘n klein gemeenskap so bygedra het nie,” sê Heinrich. Tog, sê Heinrich, moet mense nie ophou help nie, want niemand weet hoe lank Cameryn in die koma sal bly nie. “Ek hoop nog engele kan help,” sê Heinrich.

Intussen bly Heinrich hoopvol dat Cameryn spoedig en ten volle sal herstel. “Ons beweeg in die regte rigting. Ons kan net nie ophou nie … mens moet maar net sterk bly, veral vir die kinders. Jy kan nie gaan lê nie,” sê Heinrich.

Mense wat graag die gesin wil bystaan, hetsy finansieel of ten opsigte van moontlike ander nood, kan die plaaslike voorsitter van Ladies Circle 4, Riana Otto, skakel by tel. 084 400 9941. Ladies Circle 4 bied tans hul dienste aan om te help om fondse wat ten bate van Cameryn geïn word te help administreer.

*01 February 2016 - Cameryn Jackson (34) van Louis Trichardt se verloofde, Heinrich Volschenk, het aan die Zoutpansberger bevestig dat sy vanmiddag haar bewussyn herwin het. Sy het ook al ietsie geëet. Meer besonderhede sal later bekend gemaak word.*

 

News - Date: 01 February 2016

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: