ADVERTISEMENT:

 

Foto's wat die Bezuidenhout-gesin van Louis Trichardt geneem het kort na die aanval op hulle in die parkeerarea van Pick n Pay by die Makhado Crossing. Foto's: Facebook.

Rassisme blyk orals ‘n probleem te wees

 

‘n Gesin van Louis Trichardt leef in vrees, nadat hulle betrek is by ‘n rassevoorval die afgelope naweek. Elsabe Bezuidenhout van Louis Trichardt het Saterdag ‘n kennisgewing op haar Facebook-blad geplaas, nadat sy aangeval is deur ‘n groep mense. Die voorval het hom afgespeel in die parkeerarea van die Makhado Crossing.

Volgens Bezuidenhout het ‘n vrou haar en haar man begin vloek en dreig nadat hulle haar aangespreek het omdat sy voor hulle probeer indruk het by die kassiere. Dié dame, wie se identiteit nog nie bekend is nie, het toe glo omgedraai en Bezuidenhout begin uitskel. Die vrou het Bezuidenhout glo toegesnou dat dit haar land is en dat sy kan maak net wat sy wil. Verder het die vrou ook Bezuidenhout ‘n “white pig” genoem.

Buite Pick n Pay, toe die Bezuidenhouts hulle kruideniersware wou inlaai, het die vrou hulle ingewag met ‘n skare ander mense. Die vroue het agter die Bezuidenhouts aangeloop, hulle arms stukkend gekrap en, volgens Bezuidenhout, hulle toegesnou “we will kill all you f@#$king white pigs and white f$#@king whores!!”

Bezuidenhout sê sy het gevrees vir haar lewe en probeer om die vrou en skare mense te ignoreer. Die vrou het hulle gevolg tot by hulle motor en “met haar vieslike vuil naels” gekrap. “Hoe moet ek dit vir my histeriese kinders verduidelik,” vra Bezuidenhout in haar inskrywing. “Met ‘n hele skare saam met haar kon ons onsself nie eers verdedig nie.”

In die veiligheid van hul motor het die skare steeds aangehou om met hulle vuiste op die enjinkap te slaan, totdat Bezuidenhout en haar gesin daarin kon slaag om weg te jaag. “Gelukkig was my vriendin daar en sy kon help om my twee kinders vinnig in die veiligheid van die motor kry,” het Elsabe gesê.

Volgens Bezuidenhout het die sekuriteitswagte in die parkeerarea net toegekyk het hoe sy en haar gesin aangerand word. Sy was wel dankbaar vir die motorwag wat ‘n poging aangewend het om die situasie te ontlont. Dit het die gesin kans gegee om hulle kruideniersware in te laai en weg te ry.

Elsabe se storie het ‘n herrie op haar Facebook-profiel ontketen. Teen Maandagoggend het die inskrywing oor die 7 000 trefslae gehad en is ‘n paar duisend keer gedeel of aangestuur na ander gebruikers of instansies. Bezuidenhout het Dinsdag gesê sy het haar profiel gesluit, omdat sy en haar gesin vrees vir hul lewens. Sy het bevestig dat hulle besluit het om eerder hul saak wat hulle by die Makhado Polisie geopen het vir verdere ondersoek, te sluit. “Ons wil hê hierdie saak moet nou net verby en agter die rug kom,” het sy gesê.

Intussen is verneem dat die sekuriteitsmaatskappy onder die bestuur van Makhado Crossing val. Die sentrum se bestuurskantoor het Dinsdag gesê hulle is nie bewus van enige voorval of dat daar ‘n klag by hulle ingedien is nie.

Die navrae is met die maatskappy, Corporate Image, opgeneem. Hulle hanteer alle media aangeleenthede namens Redefine, die eienaars van Makhado Crossing. Corporate Image het Woensdag in ‘n e-pos gesê dat hul sekuriteitswagte aan hulle gerapporteer het dat hulle ‘n “verbale onderonsie” gehad het. “Geen amptelike klag is by die sentrum se bestuur ingedien nie, en daar is ook nie ‘n aansoek gebring [deur die Bezuidenhouts] vir videomateriaal nie,” het die e-pos gelees.

Gerugte, het Corporate Image gesê, dat die sentrum se sekuriteitskameras vir maande al buite werking is, is onwaar. Volgens die sentrum het die kameras onklaar geraak weens ‘n kragonderbreking die dag voor die insident. “Die kameras is nou weer herstel en in werkende orde,” het die maatskappy gesê. Die koerant het egter betroubaar verneem dat die kringtelevisiekameras in en om Makhado Crossing vir ‘n geruime tyd reeds buite werking was.

Dié voorval is een van vele soortgelyke voorvalle wat die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie sedert die begin van die jaar ondersoek. Verskeie politici, waarvan Kuns en Kultuur minister Nathi Mthethwa die nuutste is, dring nou aan op strenger wetgewing teen rassisme. “Ons moet buite die raamwerk van die Konstitusie kyk en optree teen rassisme, sodat voornemende rassiste afgeskrik sal word om soortgelyke uitlatings te maak,” het Mthetwa Maandag gesê tydens ‘n mediakonferensie in Johannesburg.

News - Date: 06 February 2016

Recent Articles

Search for a story:

 

Foto's wat die Bezuidenhout-gesin van Louis Trichardt geneem het kort na die aanval op hulle in die parkeerarea van Pick n Pay by die Makhado Crossing. Foto's: Facebook.

Foto's wat die Bezuidenhout-gesin van Louis Trichardt geneem het kort na die aanval op hulle in die parkeerarea van Pick n Pay by die Makhado Crossing. Foto's: Facebook.

Foto's wat die Bezuidenhout-gesin van Louis Trichardt geneem het kort na die aanval op hulle in die parkeerarea van Pick n Pay by die Makhado Crossing. Foto's: Facebook.

 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: