ADVERTISEMENT:

 

Generic image

Lim-boere praat oor samewerking

 

Talle knelpunte wat boere in Limpopo in die gesig staar, het tydens ‘n gesamentlike vergadering tussen TLU SA Noord en Agri Limpopo op 28 Januarie aandag geniet.

Veiligheid in die provinsie, paraatheid, gebeurlikheidsbeplanning en die betrokkenheid by plaaswagstrukture is as van die belangrikste terreine van samewerking geïdentifiseer en daar is tydens die vergadering ooreengekom dat privaatbesitreg en die vryemark ekonomie vir albei organisasies ononderhandelbaar bly.  

“Sedert die halsoorkop ontbinding van die kommandostelsel meer as ‘n dekade gelede, het die staat jammerlik misluk in sy onderneming om burgerlike betrokkenheid by nuwe veiligheidstrukture in stand te hou of te versterk.  In die vakuum wat daardeur geskep is, het landelike veiligheid in Limpopo en elders in ‘n krisis ontaard, met verdoemende gevolge vir die landelike ekonomie,” sê die twee organisasies in 'n gesamentlike verklaring. ‘n Gesamentlike veiligheidsdag word vir 10 Maart in dié verband in die vooruitsig gestel. 

Die organisasies sê die omvang van jarelange spanning tussen produsente en die Departement van Waterwese en dié departement se erkenning van ‘n dispuut oor die administrasie van watergebruikerregte wat die TLU SA Noord in 2011 aanhangig gemaak het, noodsaak ‘n herontwerp en herskikking van die proses in Limpopo.  Die twee organisasies het besluit om saam te span en die departement se gesloer met die proses aan te spreek. 

Ernstige kommer is tydens die vergadering deur beide partye uitgespreek oor die impak van dreigende verhoogde geadministreerde kostes soos arbeid (minimum lone), elektrisiteit, water, grondbelasting en ander kostes wat die winsgewendheid en ekonomiese volhoubaarheid van landbou in Limpopo onder onhoudbare druk plaas. Die twee organisasies sal ‘n verenigde forum vorm om hierdie sake aan te spreek.  

Ernstige besprekings oor droogtehulp het tydens die vergadering gelei tot ‘n ooreenkoms om, ondiskriminerend, die mees knellende nood te identifiseer en gesamentlik te poog om die beperkte hulp by die grootste nood uit te kry.  “Dit is betreur dat geen blanke boere in Limpopo tot dusvêr droogtehulp van die staat ontvang het nie en ook nie in aanmerking kom vir registrasie vir droogtehulp van die staat nie,” het die organisasies gesê. Hulle het derhalwe die integriteit van die Departement van Landbou se verbintenis tot nie-rassigheid en die grondwetlikheid van hierdie optrede bevraagteken. Die twee organisasies het ook die eksklusiewe fokus op veeboerdery, ten koste van akkerbou en tuinbou, wat in die droogtehulp geld, as diskriminerend en onvanpas uitgewys. 

Tydens die vergadering is daar ook besluit om gesamentlik aan rampbestuur aandag te gee. “Strukture en befondsing sal ondersoek en in plek gestel word soos nodig. Die ramp droogte en rampspoedige effek wat dit in die volgende jaar of twee kan meebring, noodsaak hierdie stap,” het die organisasies gesê.  Daar is ook besluit om AFASA en NAFU by opvolggesprekke te betrek om ‘n inklusiewe landbou-gesprek in die provinsie op die been te bring.   

News - Date: 11 February 2016

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: