ADVERTISEMENT:

 

Makhado Munisipaliteit

Regulering ‘n “uitgediende” konsep

 

Wat presies bepaal die munisipale verordeninge ten opsigte van hoeveel troeteldiere ‘n inwoner mag aanhou?

Die antwoord blyk nie ‘n maklike een te wees nie. Ná afloop van die munisipale verordening wat op Muggie van Tonder en haar 19 katte beteken is, het die Zoutpansberger die munisipale verordeninge gaan naslaan.

Die verordening op Plaaslike Bestuur (van Oktober 1985), waarmee Muggie oor die vingers getik is, is nie vreeslik duidelik oor hoeveel troeteldiere (honde of katte) ‘n mens mag aanhou nie.

Volgens die nuwe verordening op Publieke Diergesondheid (Desember 2013) mag geen persoon meer as twee honde (ouer as ses maande, waarvan nie meer as een ‘n gesteriliseerde teef mag wees) aanhou op ‘n residensiële erf nie, en nie meer as drie op landbougrond nie.  Daar is nêrens in dié verordening ‘n bepaling oor katte gemaak nie, maar wel oor bokke, skape, varke, pluimvee, beeste en perde.  

Daar is wel bepalings oor honde- of katteherberge (soos die DBV) gemaak en die bouregulasies waaraan die struktuur moet voldoen. Die verordening het ook ten doel om die verspreiding van peste en plae uit te skakel, asook om alle diere, voëls en insekte te beskerm en om inwoners ook aan te moedig om nie diere te mishandel nie.

Verder maak die verordening ook melding van die proses wat eienaars kan volg as hulle meer as die voorgeskrewe aantal diere wil aanhou. Sover die koerant kon vasstel, behels dit dat die eienaar aansoek moet doen by die munisipaliteit vir ‘n spesiale permit.

Daar is egter ‘n haakplek in die proses, want ook dit handel net oor honde en sogenaamde hondebelasting. Hondebelasting is ‘n verouderde stelsel wat deur bitter min munisipaliteite in die land nog in gebruik is. Die mees onlangse munisipaliteit wat die gebruik afgestel het was dié van Port Elizabeth in 2010.

Die koerant het self probeer om ‘n hond te gaan registreer by die munisipaliteit, en is meegedeel dat lisensiegelde “al vir baie jare” nie meer gehef word nie. Dit laat die vraag ontstaan hoe die munisipaliteit diere se welstand polisieer as hulle nie meer ‘n databasis van geregistreerde diere byhou nie?

 

News - Date: 23 May 2016

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: